Psalm 126 : 6 Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra
Party mense
huil maklik. Ander hou alles binne. So uniek het God ons gemaak.
Die probleem
kom egter wanneer dit nodig is om te huil en jy nie kan nie. Die enigste pad na heling is deur die pyn,
het ek iewers gelees. Huil is deel van
die genesingsproses.
Daar is mense
wat huil as ‘n swakheid sien. Sommige
wil weer nie voor ander hul emosies wys nie.
Hoe meer jy jou trane inhou of daarteen veg om deur die pyn te werk, hoe
langer gaan die proses neem. Jy kan nie
om pyn beweeg nie. Dis soos ‘n tonnel,
jy moet daarin, daardeur en anderkant uit.
Ons moet ons kinders
ook leer dat dit in orde is om emosies te wys.
Daar is te veel mense wat vandag met letsels rondloop omdat hul nooit
die pyn kon verwerk nie.
As jy nie
daardeur werk nie, raak dit soos ‘n sweer.
Etter bou op en iewers gaan die drukking dit laat bars. Dalk manifesteer dit in padwoede, dalk word
jy ‘n boelie, dalk mishandel jy jou geliefdes…
Of jy onderdruk dit met drank of ander middele. Dit gaan nooit weg nie. Trauma en pyn moet verwerk word en trane
spoel die wond skoon.
Niemand huil
vir altyd nie (wel party huil gereeld), maar dit is helend wanneer jy jouself
daardie luukse gegun het. Na jou
jammerkry partytjie kan jy jou trane afvee en jy sal soos ‘n nuwe mens voel.
No comments:
Post a Comment