Lukas 18 : 13 “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en
wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en
gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
Dalk verstaan
jy vandag maar te goed hoe hierdie tollenaar voel. Jy voel ook dat dit wat jy gedoen het so
ontsettend verkeerd is dat jy nie eens na God kan kyk nie. Jy voel so minderwaardig en vuil, wel wetend
dat jy Hom teleurgestel het, en juis daarom glo jy dat Hy jou nie voor Sy oë
sal kan verdra nie. Dalk is jou vrees
juis die woede of teleurstelling wat jy verwag om in Sy oë te sien.
In hierdie
hoofstuk vertel Jesus ‘n gelykenis van twee mense wat na die tempel gaan, ‘n
Fariseër en ‘n tollenaar. Die vraag
is: “Wie se saak is reg met God?”
Die Farisëer
bid: O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense
is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek
vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ (vers 11 & 12)
Die tollenaar
reageer soos hierbo in vers 13. Jesus se
standpunt is: “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand
wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy
wat nederig is, sal verhoog word.”
God kyk nie na
vertoon nie. Hy kyk na die hart en die
absolute opregtheid en berou van die Tollenaar.
Maak nie saak
hoe jou verlede lyk nie, ook vir jou is daar genade by God. Roep vandag soos hierdie tollenaar uit: “God, wees hierdie sondaar genadig.”
God ken die
hele verhaal van jou lewe. Daar is niks
vir Hom verborge nie. Ware en opregte
berou sal Hom beweeg.
No comments:
Post a Comment