2 Samuel 11 : 14 – 15 Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan
Joab geskryf en saam met Urija gestuur. In
dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die
geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.
Urija het
uitgegaan om oorlog te maak. Jy maak tog
oorlog teen jou vyande of hoe? Maar nee,
Urija se vyand was nie die vyand teen wie hulle opgetrek het nie, maar diegene
wie hy veronderstel was om te vertrou.
Dis belangrik
om te verstaan dat Urija ‘n goed opgeleide en gedissiplineerde soldaat
was. Hy was een van Dawid se beste
manskappe. Geen soldaat kan egter ‘n
oorlog op sy eie wen nie. Hy het getroue
kamerade nodig, mense op wie hy kan vertrou.
Hy was ‘n dapper sodaat, nie bang of sonder ervaring nie. Sy enigste swakheid was dat hy op mense
staatgemaak het wat hom uiteindelik sou verraai.
Kan jy die
mense naaste aan jou vertrou of is daar ‘n verraaier onder hulle? Dalk is die verraaier ‘n mede-kollega wat dit
nie kan verdra dat jy suksesvol is nie.
Miskien is die verraaier ‘n familielid wat oor jou loop en stories
verkondig. Of dalk is die verraaier die
persoon wat jy met jou hele lewe liefhet.
Wees bedag
daarop dat nie almal jou ondersteun nie.
Daar is mense wat nie jou beste belange op die hart dra nie.
En as jy die
verraaier is… wees versigtig wie jy verraai.
As jy iemand verraai wat besig is om ‘n taak te verrig waarvoor God self
die opdrag gegee het, gaan God dit nie ongestraf laat bly nie.
Of dit verraad
is of sabbotasie, dit is onvergeeflik.
Laat ons liewer mekaar se beste ondersteuners wees en mekaar dra waar
ons kan.
No comments:
Post a Comment