Markus 1 : 35 Die volgende oggend het Jesus opgestaan en
alleen op ‘n stil plek gaan bid…
Jesus weet hoe
dit voel om ‘n geliefde aan die dood af te staan. Sy neef Johannes, die een wat hom gedoop het
in die Jordaan (wat ons ken as Johannes die Doper), is gearresteer en onthoof
omdat hy ‘n koning oor sy sonde gekonfronteer het. Matteus
14 : 12 - 13 Sy dissipels het sy liggaam
kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit
daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan
gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.
Net as jy
iemand na aan jou aan die dood moes afstaan, sal jy verstaan hoe Jesus moes
gevoel het. Ons word daagliks met moorde
en wreedheid gekonfronteer. Jesus weet
presies waardeur ons gaan… Hy was daar.
Ek en jy gaan
ook hartseer, gebrokenheid, teleurstelling, verwerping ervaar. Ons kan daaroor met vriende, dokters en
sielkundiges gesels, maar uiteindelik is dit net ‘n gesprek met God wat ‘n
gebroke hart genees soos ons in Psalm 147 : 3 lees. Hy genees die gebroke hart en verbind die
wonde.
Job is ‘n man
wat van beproewing geweet het, seker meer as enige iemand anders. In die elfde hoofstuk lees ons “Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal weg wees soos water onderdeur ‘n brug…”
Wanneer jy op
jou knieë voor God bly, sal Hy jou weer optel en alles nuutmaak.
No comments:
Post a Comment