Monday, 9 September 2013

Moenie tou opgooi nie


2 Kronieke 16 : 9 Die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou

Diana Nyad is ‘n 64-jarige dame wat die eerste vrou geword het om van Kuba na Amerika, regoor die Florida Seestraat, sonder ‘n haaihok of paddavoete te swem.  Sy’t wel ‘n silikoonmaskerpak gedra om haar teen dodelike boksjellievisse te beskerm.  Wat haar poging selfs meer merkwaardig maak, is dat dit haar 5de poging in 35 jaar is.  Dit het haar 53 uur geneem om die 177 km af te lê. 
 
Net soos ek en jy ook nie die lewe alleen hoef aan te durf nie, het Diana ook nie hierdie mylpaal alleen aangepak of bereik nie.  Sy’t ‘n ondersteuningspan op 5 bote gehad wat haar vergesel het.  Ons het almal mekaar nodig op die een of ander manier.  Elke 40 minute kon sy stop om roereier en pasta te eet.

Vir diegene in hul twintigs of dertigs is, is 64 sekerlik oud, maar hierdie dame het haar nie deur ouderdom laat terughou nie.  Sy’t ook nooit haar droom laat vaar nie.  Vyf pogings in 35 jaar! 

Hoe vaar jy met jou drome?  Moenie opgee nie, vertrou op die Here om jou die nodige krag en deursettingsvermoë te gee om aan te hou.  Net soos wat Hy Sy oë op ‘n 64 jarige vrou gehad het, so is Sy oë vasgenael op jou.  Gesels met Hom oor jou drome en neem ‘n wilsbesluit om dit waar te maak.

Sunday, 8 September 2013

Me, myself and I

Markus 12 : 33 En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

Ek verkyk my altyd hoe min mense vir mekaar omgee.  Daar is ‘n ‘me, myself and I’ mentaliteit wat my afskrik.  Of dit nou in die verkeer is, of wanneer ons uit ‘n hysbak borrel, of op die kassiere afpyl, ons wil altyd eerste wees. 

Gaan ons regtig laat wees as ons iemand voor ons van baan laat verwissel?  Gee iemand kans om voor jou in die ry te staan volgende keer.  Meeste van tyd word jy met ‘n stralende, ietwat verbaasde, glimlag begroet en somtyds is dit die begin van ‘n lekker geselsie.


Hoe kan ons God liefhê, maar bo-oor ons naaste leef?

Thursday, 5 September 2013

Vir wie werk jy?

Genesis 3 : 19:  In die die sweet van jou aangesig sal jy brood eet…

Tydens opstyging hoor ek twee vlugkelners met mekaar praat.  “Wanneer begin jou vakansie?” vra die een.  “Nog ‘n week.  Ek kan nie meer wag nie.  Man, ek wil vir ‘n hele maand nie ‘n vliegtuig sien nie – ek is moeg gevlieg…

Ek het ‘n seun wat daarvan droom om eendag ‘n vlieënier te word.  Hy praat heeldag en aldag daaroor, lees daaroor, droom daaroor.  As ek gevlieg het, wil hy alles van die vliegtuig weet.  Hierdie vlugkelner het seker ook sulke drome gehad?   Ek wil graag glo dat hy steeds van sy werk hou, maar net moeg is.  En ek glo daar is baie mense wat dink hul sal nooit ooit moeg word as hulle kan rondvlieg vir ‘n lewe nie.


Realiteit is dat die werksomgewing meer veeleisend as voorheen is.  Ons werk langer ure en daar is meer druk op ons as ooit tevore.  As jy vandag moeg is vir jou werk of dit sieldodend vind, dink weer terug aan die dag toe jy gehoor het dat jy die suksesvolle kandidaat is.  Onthou weer hoe opgewonde jy was en hoe jy na daardie eerste dag uitgesien het.  

Al waaroor ons beheer het, is hoe ons reageer op dit wat met ons gebeur.  Moenie toelaat dat die meule van die lewe jou geesdrif demp nie.  Buitendien, ons werk nie vir ‘n aardse baas nie, maar vir God.

Wednesday, 4 September 2013

God sal jou nie in die steek laat nie

Genesis 28 : 15 … Ek sal jou nie in die steek laat nie…

Op ‘n dag dat die Kaap van Storms sy naam gestand doen, haal ek ‘n vlug na Johannesburg.  Een ding waaraan ek my vergaap, is hoe die vliegtuig in gietende reën opstyg en nog voor die vlugkelners kan versnapperings uitdeel, deur die wolke breek waar die son steeds baldadig skyn.


Dit het my laat dink hoe ons tydens moeilike tye van God verlate voel.  Dis tye dat ons, ons in gietende reën bevind.   Wanneer dit reën is ons onder die indruk dat die son nie skyn nie, maar bo die reënwolke skyn die son steeds.  God is steeds bo die onweerswolke in ons lewe.  Omdat ons Hom nie kan sien nie, beteken dit nie Hy’s nie daar nie.  God word nie deur reën of storms gekortwiek nie.  Hy is verhewe bo die wêreldse stryd, maar nie verwyder nie.  

Net soos wat die reën die een of ander tyd opklaar, sal ons probleem ook die een of ander tyd wyk. God se belofte in Genesis is steeds van toepassing vandag, maak nie saak hoe hopeloos jou situasie lyk.  Hy SAL jou nie in die steek laat nie. Sy liefde vir ons is net so oorvloedig soos die heerlike sonskyn bo daardie gietende reën.

Tuesday, 3 September 2013

Kosbare pêrels en meetsnoere

Psalm 16 : 6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

Mense kom en gaan in ‘n mens se lewe, maar party laat ‘n blywende indruk.  Voor ons verlede jaar deur herstrukturering is, was ons vyf dames wat ‘n hegte band gesmee het.  Ons het nie baie saamgereis nie, maar die kere wat ons wel saamgereis het, sal my altyd bybly.  Ons was ‘n diverse groepie, wat op elke moontlike manier van mekaar verskil het, maar mekaar leer waardeer het.  En… ons het saam 2 herstrukturerings beleef – ‘n smeltkroes wat ons gebind het asof ons verskillende metale was wat saamgesmelt het. 

Uiteindelik sou drie van die vyf slagoffers van die herstrukturering word, terwyl ‘n vierde bedank het.  Vandag moes ek  alleen ‘n reis aanpak wat ons vyf voorheen saam beleef het.  Dit het soveel herinneringe by my opgeroep, en verlange na dit wat was, maar onherroeplik verander het toe die korporatiewe wiele hul draai gedraai het. 


Die wonder is dat ons steeds kontak behou al is ons nou op afsonderlike eenspoor paadjies.  Al verstaan ons dit nie altyd nie, was ook dit deel van God se groter plan.  Uiteindelik het die meetsnoere vir elkeen op lieflike plekke geval en ons is elkeen ryker omdat ons mekaar werklik leer ken het.

Waardeer daardie kosbare pêrels wat jou pad kruis.  Die lewe verander binne 'n oogwink.

Monday, 2 September 2013

Help Mekaar

Jesaja 41 : 6  “hulle help mekaar en praat mekaar moed in.”

Een van my gunsteling tydverdrywe is om mense dop te hou, spesifiek hul interaksie met mekaar.

Terwyl ek vandag in ‘n ry staan en wag om aan boord van ‘n vlug na Johannesburg te stap, staan daar ‘n gesin voor my in die ry – pa, ma en ‘n seun van +- 13 jaar.  Beide ouers is op hul selfoon besig terwyl die seun met die selfone kompeteer om aandag.  Kort-kort mik hy van die een na die ander se selfoon om te sien waarmeer hul besig is.  Die pa is besig om ‘n speletjie op die selfoon te speel en alhoewel die seun ook wou speel, het die pa net gelag en gesê hy moet wag.  Selfs terwyl ons vorentoe beweeg, het hul nie een oomblik weggekyk van hul selfone nie.  Op ‘n stadium moes die seun sy pa aangespreek:  “Stop playing,” en die drasak optel, want beide ouers was te besig om daaraan aandag te gee.  Hulle is die vliegtuig in sonder om hul oë vir een oomblik van die skerms af te haal.  Eintlik kon hul net sowel die kind by die huis gelos het, eerder as om hom op ‘n duur oorsese vakansie te bring.  Dit kon ek aflui van hul internasionale paspoorte en die feit dat hul aan boord ‘n vlug gegaan het wat via Johannesburg na Frankfort op pad was.

Selfone het ongetwyfeld hul voordele, maar dit is hartverskeurend wat dit aan ons doen.  Die selfoon het vir baie hul beste vriend geword, die een wat al hul tyd en aandag kry.


Ons is almal skuldig op die een of ander vlak, want ons laat toe dat ons op ‘n afstand beheer word d.m.v. epos, smsse, bbm’s, whats-up en wat nog alles.  Neem jouself vandag voor om nie ook ‘n slagoffer te word van selfoonverslawing nie.  Druk die rooi knoppie en maak Jesaja 41 : 6 ‘n werklikheid vir mekaar.

Sunday, 1 September 2013

Hoop

Romeine 8 : 25  Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag.
Moet nooit
Opkrop as jy iets op die hart het nie
Stilbly as jy ‘n opinie het nie
Moed opgee as jy sukkel nie
Kwaad word as jy teleurgestel word nie
Ophou wanneer jy verloor het nie
Ongeduldig raak as jy nie jou sin kry nie
Bly lê as jy geval het nie
Persoonlik raak as jy in die rug gesteek word nie
Sinies raak as liefde nie uitwerk nie
Oordeel as jy iemand nie ken nie
Verwyt as iemad ‘n fut began nie
Haat as iemand jou seermaak nie
Ophou glo as jou vertroue geskend word nie
Bang wees as jy alleen is nie
WANT… jy is baie spesiaal en elke liewe ding wat met jou gebeur
En elke liewe men swat oor jou pad kom, is vooraf vir jou beplan
Om jou sterker, wiser en slimmer te maak
En jou diepte en karakter te gee
Geniet jou lewensreis…
Onthou…
Hoop maak die reis moontlik, Geloof maak dit makliker
En liefde maak dit onvergeetlik mooi

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...