Sunday, 21 June 2015

Vertroue

Psalm 25:2  my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,

Jose Mestre staan bekend as “Die man sonder gesig”.  Op 14 jarige ouderdom het die gewas sy gesig begin misvorm.  Omdat sy ouers Jehova Getuies was, het hul mediese hulp geweier.  Na die afsterwe van sy ouers, het Jose op 53 jarige ouderdom, danksy sy suster ‘n chirurg in Chicago gevind wat bereid was om op hom te opereer.  Teen hierdie tyd, moes hy die gewas na een kant trek om te kan asemhaal en hy kon slegs deels met sy een oog sien.  Die gewas was 40 cm lank, rooi en knobbelrig.

Tydens die vlug daarheen, het hy hewig begin bloei.  Op een stadium het die loods omgedraai sodat hy eers nood mediese hulp kon kry.  Omdat sy gesig so verskriklik misvorm was, was dit moeilik om te eet en daarom het hy minder as 50 kg geweeg.  Dit het ook beteken dat hy te min vitamiene ingekry het, wat sy gesondheid verder geaffekteer het.

Uiteindelik het hy Chicago bereik en nadat die chirurg die gevare van die chirurgie aan hom verduidelik het, was sy antwoord:  “God is die Dokter van alle dokters.” 

Terwyl ek na ‘n dokumentêr oor sy operasie op televisie gekyk het, het ek gewonder watter hel hierdie man vir soveel jare moes deurmaak.  Hy was byna ‘n kluisenaar omdat die gewas oor sy klere gebloei het en sy gesig was iets wat mense letterlik die skrik op die lyf kon jaag.  Mense het hom selfs probeer afneem, maar as sy suster iemand gewaar het wat dit durf waag, het sy hul goed die leviete voorgelees.

Die operasie het 12 uur lank geduur en die gewas wat hul verwyder het, het meer as 6 kg geweeg.  Daar was meer as een operasie en veloorplantings en steeds het hy nie veel beter gelyk nie.

Jose het egter nooit sy geloof in God verloor nie.  Alhoewel die operasie op ‘n estetiese vlak miskien nie suksesvol was nie, was dit ‘n 100% verbetering op dit waarmee hy moes saamleef.

Ook jy kan God vertrou vir jou toestand.  Gebruik Jose se woorde om lewe oor jou situasie te spreek:  God is die Dokter van alle dokters… die Groot Geneesheer.

Thursday, 18 June 2015

Vaders

Genises  5:3  Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van 'n seun, sy beeld, een soos hyself. Adam het hom Set genoem.  Genesis 5 : 32  Toe Noag 500 was…  Rut 4 : 22 Isai was die vader van Dawid…   Matteus 1:16  Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word...

Regdeur die Bybel word daar weergegee wie die vader van wie was.  So sien ons hoe die prentjie inmekaar pas.  Die Bybel is nie net ‘n bundel kortverhale wat ‘n klomp stories vervat nie.  Dit is ‘n volledige geslagsregister.

‘n Familielid van ons het ons stamboom nagevors tot so ver terug as 1698 in Switzerland.  In 1832 het die eerste familielid wat iewers in sy leeftyd hierheen gekom het, in Suid-Afrika gesterf.  Die stamboom wys wie die vader was, met wie hy getroud is en hoeveel kinders elkeen gehad het.  Die stamboom word ook op datum gehou met geboortes, sterftes en huwelike.  Dit moes ‘n enorme taak gewees het, maar vir my beteken dit geweldig baie om te sien waar ek vandaan kom.   

Vaders speel oor die eeue ‘n kardinale rol tot die voortbou van ‘n nageslag en die nagedagtenis wat hul nalaat.  Party vaders in die Bybel het ernstige foute gemaak.  Ander was weer suksesvol en daar was ook vele wat Godvresend was.

Ons vaders is miskien ook nie perfek nie, maar hy is deur God gekies om aan ons die lewe te skenk.  Dis miskien ‘n onbenullige feit in jou lewe, maar ons almal weet dat nie jy of ek vandag hier sou wees as dit nie vir ons vader was nie.


Vadersdag gee ons die geleentheid om hulde te bring aan elk evader.  Dankie vir die geskenk van lewe en die rol wat jy as pa in jou kind se lewe speel.  Ons salueer al die vaders.

Wednesday, 17 June 2015

Naasteliefde

Matteus 22:39  En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Dit is maklik om te dink dat jy goed doen wat naasteliefde aanbetref.   Jy kan jouself oortuig dat jy met almal goed oor die weg kom;  dat jy niemand haat of enige vyande het nie. 

Die vraag aan myself is gewoonlik:  “Wat is naasteliefde regtig?”  As God naasteliefde moet meet, waaraan sou Hy dit meet?

Daarom ontleed ek graag Jesus se optrede hier op aarde.  Jesus het naasteliefde daagliks uitgeleef.  Hy het as’t ware prakties gedemonstreer hoe ons moet optree.  Hy het ware empatie met siekes, armes en kinders gehad.  Diegene wat swaargekry het, was vir Hom belangrik genoeg om ‘n hand na uit te reik.  Hy het nie geoordeel nie… nie eens die prostituut nie.  Sy eie behoeftes het Hy selde na omgesien, behalwe om Hom af te sonder sodat Hy tyd saam met God kon deurbring.  Selfs aan die kruis het Hy omgesien na die een wat langs Hom gehang het.   Jesus het waarlik  omgegee. 

Ons gee maklik vir onsself om deur na ons eie behoeftes om te sien.  As ons koud kry, trek ons ‘n trui aan en as ons honger is, eet ons, maar gee ons net so maklik om vir ander? 


Naasteliefde beteken dus om ander eerste te stel.  Ons kan ‘n verskil maak in siekes, armes en kinders se lewens, net soos Jesus ‘n verskil in hul lewe gemaak het.  Ons hoef nie wonderwerke te doen nie, maar ons kan liefde gee, vriendelike glimlag, ‘n sagte woord of ‘n helpende hand.

Tuesday, 16 June 2015

Skinder

Levitikus 19:16  Jy mag nie loop en skinder nie…

Skinder is een van daardie aktiwiteite wat ons intrek sonder dat ons dit agterkom.  Jy staan in geselskap en iemand maak ‘n opmerking oor iemand anders en jy begin saampraat.  Kort voor lank het elkeen ‘n stertjie om by te las.  Min mense sal egter hierdie gesprek voortsit as daardie persoon in hul midde sou wees.

My seun het ‘n vriend wat gay is.  Ander kinders is besig om sulke vyandige stories oor hom te versprei en sy karakter so af te breek dat hierdie kind selfdood oorweeg.  Op sy ouderdom sukkel meeste kinders met hul identiteit en enige ‘abnormaliteit’, of dit nou ‘n puisie of maer bene is, word uit verband geruk. Dus kan jy jou voorstel hoe hierdie kind alreeds met sy seksuele identiteit moet worstel… hy is ‘anders’ en pas, volgens hom, alreeds nie in nie. Die boelies baljaar onder hulle, want hul sensitiwiteit word uitgebuit.  Hierdie seun kan die pyn wat ander se woorde aan sy siel aanrig nie meer hanteer nie. 

In sy eenvoudigste vorm is hierdie ook maar net skinder.  Daar word oor hom gepraat terwyl hy nie daar is om homself te verdedig nie.  Wat dit egter erger maak, is dat hul sosiale netwerk gebruik om seker te maak die nuus bereik hom wel.


Kinders sit dikwels gedrag voort wat hul by hul ouers waargeneem het.  Daarom moet ons seker maak dat ons nie skinder nie… dat ons nie uitlatings maak wat ander se karakter afbreek nie… dat ons eerder woorde kwytraak wat opbou en aanvaarding verkondig.

Sunday, 14 June 2015

Klein en groot opdragte

Lukas 16 : 10  “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.

Volgens die skrif het Elia vir Naaman na die Jordaan gestuur om hom te gaan bad  sodat hy genees kon word van sy melaatsheid.  Naaman het gedink dit is absoluut verregaande van Elia om van hom te verwag om in die vuil water van die Jordaan te bad.  Hy was immers ‘n invloedryke man en het ‘n hoë pos beklee in die weermag.  Gemeet aan hoe belangrik hy is, was hierdie versoek ietwat vernederend vir Naaman.  “Watter verskil sou iets so eenvoudig soos was in ‘n vuil rivier immers maak aan my melaatsheid?” het hy gebrom.  

Sy dienskneg het egter oor meer wysheid beskik en vir Naaman gesê:  “As Elia jou sou vra om iets groots te doen, sou jy dit doen, Naaman.  So wees nou maar inskiklik met hierdie nietige opdrag.”  Naaman het toegegee en in die Jordaan gaan bad en is inderdaad genees van sy melaatsheid.

Wanneer ons hierdie gedeelte lees, kan ons Naaman maklik oordeel, maar hoeveel van ons mis ook uit op genesing, seën of drome wat bewaarheid kon word omdat ons nie die klein opdraggies of versoeke van God gehoorsaam nie?  Die woorde wat jou ongemaklik maak tydens ‘n kerkdiens, probeer jy so gou moontlik vergeet… die gedeelte wat jy in die Bybel lees wat van jou opoffering of verandering verg, maak jy af as van toepassing op ander… die skuldgevoel oor iets wat jy moet laat staan, skud jy af… ek sal eendag… ek is nog nie gereed nie…

Wees getrou in die klein en in die groot opdragte en jy sal sien hoe jou lewe verander.

Geniet Jeugdag môre.

Thursday, 11 June 2015

Slotmaker

Openbaring 1 : 18  Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.

Ek het al eendag ‘n motor wat ek gehuur het, se sleutels in die kattebak toegesluit.  Die oomblik toe daardie kattebak toeslaan, besef ek die sleutels is binne en daar is geen manier om dit uit te kry nie.  Die spesifieke fabrikaat se kattebak het afsonderlik gesluit van die res van die motor en jy kon ook nie van binne by die kattebak uitkom nie.  Al genade was om ‘n slotmaker te skakel.  My hele dag was sommer omgekrap as gevolg van my eie agterlosigheid.  Helaas, sonder sleutels, was ek uitgesluit.

Net so benodig ons sleutels tot die Ewige Lewe, vrede, vryheid en seen.  Indien jy in Hom glo, sal jy egter nie uitgesluit wees nie.  Jou sielevrede sal nie gesteel wees nie, en jy sal geen spyt ervaar nie, want Hy hou die sleutel tot die Ewige Lewe.  Die dood kan Hom nie gevange hou nie en daarom ook nie vir jou en my nie. 

Dit gee vir my soveel gemoedsrus.  Ek weet dat daar vir my ‘n toekoms en ‘n verwagting is.  Ek sien reikhalsend uit na die dag dat ek die hemel sal betree en met God wees… vir altyd.  Daar sal geen hartseer, trane, probleme of bekommernis wees nie.


Kry jou lewe in orde sodat jy nie uitgesluit word nie, maar die ‘Slotmaker’ ken.  Jy wil nie staan en kyk hoe almal deur daardie poorte stap en jy staan bedremmeld, met groot spyt, en toekyk nie.

Wednesday, 10 June 2015

Professeer

Romeine 4 : 17  God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

Net soos wat God Hom nie laat terughou deur dood of onmoontlikheid nie, net so hoef jy jouself ook nie blind te staar teen jou omstandighede nie.  Leer om lewe te spreek oor jouself, jou geliefdes en jou omgewing.

Moenie negatiewe gedagtes dink of uiter nie.  Daar kom dae dat jy nie juis skougehalte voel nie, maar praat jouself eerder moed in.  Ongelukkig het ons die neiging om maklik ons gevoelens te uiter oor skete en kwale, maar probeer daadwerklik om nie mag aan daardie gevoelens te gee nie.   Sê liewer:  “Ek sal nou wel nie vandag eerste prys haal nie, maar ek gaan beslis deelneem en my bes lewer.”

Ons onderskat die mag van ons woorde.  Ja, jy het inderdaad die vermoë om seën, voorspoed en positiwiteit oor jou lewe te professeer.  Jou kreatiwiteit met woorde en gedagtes sal bepaal of jou profesieë sal realiseer.


God kan die onmoontlike vermag, en jy beskik oor dieselfde vermoë.  Verklaar dit soos God dit verklaar, soos Hy dit sien…oorwinning, hoop en lewe... 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...