Sunday, 11 October 2015

Toebroodjie-generasie

Psalm 31 : 7  My vertroue stel ek in die Here.

Is jy ook deel van die ‘toebroodjie-generasie’?  Dis nou diegene wat aan die een kant hul ouers versorg en aan die ander kant nog (of weer)  volwasse kinders in die huis het.

Daar is die gelukkiges wat aftreeoorde of ‘n huisie by die see kan bekostig, maar baie van vandag se seniors het nie voldoende vir die toekoms/aftrede voorsiening gemaak nie.  Die skuld kan ook nie heeltemal voor hul deur gepak word nie, want daar is mense wat hul lewe lank hard gewerk het en steeds van ander afhanklik is vir ‘n stukkie brood en ‘n dak oor hul kop.

My eerste salaris was net so oor R200 pm en daarvan het ek R30 pm betaal vir losies en R2-50 pm vir ‘n buskaartjie.  So ek het nog hope geld oorgehad om te spandeer en selfs ‘n ietsie te spaar.  Vandag sukkel dit eerstens om werk te kry.  Daar is selfs gegradueerdes wat nie werk kry nie.  Van ‘n plekkie te huur of ‘n eie woning word daar net gedroom.  Die lewe is duur. Al oplossing is dus maar om so lank as moontlik by jou ouers te woon. 

En so sit ons tussen die duiwel en die diep blou see.  Van self aftree, is daar geen sprake nie.  Soms trek jou keel toe en wonder jy hoe jy gaan deurkom, maar op die een of ander manier voorsien God altyd. 

Here, as toebroodjie-generasie stel ek my vertroue volkome in U.


Thursday, 8 October 2015

Die sewende dag

Eksodus 16

Die volk was in die Sinwoestyn, ‘n maand nadat hul Egipte verlaat het.  Soos ons as mense maar is, vergeet die volk gou hoe sleg die omstandighede was waaruit God hul gered het en  verlang hul terug na Egipte.  Hulle is ongedurig met Moses en Aaron.  Die volk was net soos ek en jy gefokus op die huidige omstandighede en het vergeet waarheen God met hulle op pad was.

Die Here sê toe vir Moses:  “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën.  Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir daardie dag bymekaarmaak.  Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na My wil luister.  Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaarmaak.”

Elke oggend het hul kos opgetel.  Sodra dit warmer geword het, het dit wat nie opgetel is nie, verdwyn.  Op die sesde dag het Moses hulle herinner om dubbel soveel op te tel en alles gaar te maak sodat hul op die sewende dag kon rus.  Op die Sabbatdag sou daar geen kos op die grond wees nie.

Tog het ‘n klompie nie geluister nie en is hul die veld in om kos te gaan soek.  Hulle kon egter niks kry nie.  Die Here het toe vir Moses gevra:  “Hoe lank gaan julle bly weier om na My te luister en te doen wat Ek sê?  Kan julle nie insien dat die Here die Sabbat gegee het om op te rus nie?”

In ons land bestaan die Sabbatdag byna nie meer nie.  Winkels is oop… mense werk… sport stadions sit volgepak… Selfs diegene wat in die kerk was, sal daarna die winkels invaar.  Ons wil ook nie luister nie.  Met die nodige beplanning, hoef ek en jy nie “te gaan kos soek nie.”  Ons kan genoeg geld verdien en alles doen wat ons moet binne ses dae sodat ons die Sabbatdag kan heilig.  Dit is ‘n uitdaging ja, want party mense se werkgewer vereis van hul om te werk.  Ek glo dat God sal voorsien indien jy gehoorsaam is. 

‘n Paar jaar gelede is 'n hardeware winkel in Bellville beroof.  Die eienaar het besluit dat hul van daardie dag af nie meer sake sal doen op ‘n Sondag nie.  Van daardie oomblik het die gety gedraai vir daardie besigheid.  Hulle het nog winkels oopgemaak en gaan van krag tot krag… net omdat hul die Sabbatdag begin heilig het.

Niks kan so dringend wees dat dit nie tot Maandag kan wag nie.  God gee vir ons ses dae om te woeker en te woel en die sewende is ‘n geskenk van rus.  Dit is die een dag waarop ek en jy van die mallemeule kan afklim en weer die lewe in oënskou kan neem sodat ons nuwe krag het vir die week wat voorlê.

Wednesday, 7 October 2015

Boodskappers

Jesaja 6 : 8  Toe het ek die Here hoor vra:  “Wie kan Ek stuur?”

Ek het groot bewondering vir vrywilligers;  mense wat hul lewe daaraan wy om ander te help.  So iemand moet regtig ‘n passie hê vir dit wat hulle doen, want die vergoeding is gewoonlik minimaal tot niks.

Kyk maar net in ons land hoeveel mense en maatskappye betrokke is en ‘n verskil maak in die lewe van minderbevoorregtes.  Wat sou van die mense word as gewone mense nie bereid is om hul moue op te rol en iets te doen nie?  Skenkings, tyd, fisiese arbeid, sopkombuise, tehuise vir haweloses…  Daar word so maklik vinger gewys, maar besef die regering ooit hoeveel daar gegee word?

Elkeen van ons is geroep om die hande en voete van Jesus op aarde te wees.  Ons mag nie terugstaan en hoop iemand anders sal dit doen nie. 

Dit mag wees dat jy jare lank swoeg en sweet vir ander en nooit erkenning daarvoor kry nie.  Soms voel ‘n mens asof jy net misbruik word en net moet gee en gee, maar dat daar nooit iemand in sig is as jy hulp nodig het nie.  Volhard asseblief.  Doen dit waarvoor jy geroep is.  Moenie vrae vra nie.  God het iemand nodig gehad wat Hy kon stuur en daardie iemand is jy.  Jou beloning wag in die hemel vir jou.


Tuesday, 6 October 2015

Gedagtes

Filippense 4 : 8 Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, daarop moet julle julle gedagtes rig

Dit ammusseer my nogal as iemand gevra word om aan niks te dink nie.  Die blote feit dat jy aan niks dink, beteken dat jy aan iets dink.  Ons dink altyd aan iets.  Ons brein werk oortyd.  Die vraag is net waaraan dink ons?

Ons denke is deel van wie ons is.  As ons iets verkeerd gedoen het, wie van ons dink daaraan om die waarheid te vertel?  Meeste van ons sal ure lank dink hoe om die waarheid te verdraai.  Om die regte ding te doen terwyl almal wegkom is nie altyd maklik nie, maar dit is wat van jou en my verwag word.  Volgens die slim mense, het ons iemand alreeds be(ver)oordeel, nog voor ons mekaar gegroet het.  Elke mens het iets mooi en goed in hom/haar, so hoekom kritiseer ons so maklik, maar ons komplimenteer amper nooit?  Wanneer jy vanaand jou kop neerlê sal God vir jou sê?:  “Jou optrede vandag was prysenswaardig, my kind, al het dit van jou geverg om die minste te wees?”

Edelheid en reinheid is skaars.  Tog kan ons, ons gedagtes daarop rig en fokus sodat dit van ons beter mense kan maak.  Kondisioneer jouself van vandag af om jou gedagtes te rig op alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is.  Leef doelgerig.

Monday, 5 October 2015

Wat maak jou onrein?

Matteus 15 : 20  Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

Op ‘n stadium vra die Fariseërs en skrifgeleerdes vir Jesus hoekom Sy dissipels nie die tradisies volg soos byvoorbeeld om hul hande te was nie.  Jesus antwoord hulle:  “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.  Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike dogmas voor as wette van God.”  Later sê hy ook:  Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou gaan – wat jy sê en doen – dit is wat jou onrein maak.”

Toe Sy dissipels dit steeds nie verstaan nie, het Jesus gesê:  “Uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord, huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.  Dit is wat jou voor God onrein maak.”  (vers 19) 

Ons kan allerhande tradisies volg soos om elke Sondag as gesin kerk toe te gaan, nagmaal te gebruik, ons kinders laat doop en Sondagskool toe stuur.  Later kan hul aangeneem word en volwaardige lidmate van die kerk word.   As ons egter nie kyk na ons daaglikse gedrag en optrede teenoor ander nie, gaan dit geen verskil aan ons saligheid maak nie.  

Die dinge wat Jesus in hierdie vers noem, is elkeen van ons in ‘n mindere of meerdere mate aan skuldig, dus is daar nog baie werk wat vir ons voorlê.  Vers 19 behoort die gids te wees waarvolgens ons leef.  Is dit 'n uitdaging?  Verseker!  Laat ons hande vat en saam probeer... mekaar herinner... mekaar dra...sodat ons aandag kan skenk aan dit wat ons onrein maak.

Here, reinig my van alle ongeregtighede asseblief.

Sunday, 4 October 2015

Tot die dood ons skei

Hebreërs 13 : 4  Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

Daar word beweer dat tussen 50 en 66% van huwelike in egskeiding eindig.  In 2011 is 20 980 egskeidings toegestaan wat 18 571 kinders geaffekteer het.  Volgens 2010 statistiek het 27.3% huwelike tussen 5 en 9 jaar geduur , terwyl 20% minder as 5 jaar geduur het. 

Hierdie statistiek bevestig amper dit wat ons deesdae al meer sien.  Bekendes se huwelike word gedeel in tydskrifte, koerante en op TV en skaars 'n paar maande later skei daardie 'gelukkige' paartjie.  Dalk is hul omstandighede nie so uniek nie; net meer in die publieke oog as die deursnee huwelik.  

Waar lê die probleem?  Gee ons te maklik op?  Is ons so selfsugtig dat ons eenvoudig wegstap as dinge nie volgens ons manier verloop nie?  Ken ons mekaar goed genoeg voor ons trou?  Het ons uitmekaar gegroei?  Is daar te veel verskille?  Het die ouers of skoonouers te veel ingemeng?  Is ons eenvoudig verveeld? Of soek ons net verskonings?

Of dalk moet daardie sinnetjie in die huweliksbelofte eenvoudig verander word na ‘tot die hof ons skei.’

Ek wens ek het die antwoord(e) gehad.  Om te oordeel is ook nie my plek nie.  Wat ek wel weet, is dat elkeen wat die ja-woord gee, dit met die nodige respek en erns moet doen.  Doen alles wat jy kan om seker te maak dit is die regte persoon… met wie jy die res van jou lewe wil, kan en sal deel.  Egskeiding was nog nooit ‘n oplossing nie.

Thursday, 1 October 2015

Minderwaardig en onbekend

Rigters 6

Net soos dit met ons gebeur, het daar ook ‘n tyd gekom dat die Israeliete weer dinge begin doen het wat verkeerd was in die oë van die Here.  God onderwerp hul 7 jaar lank aan die Midianiete en Amalakiete.  Die Israeliete het ‘n swaar lewe gely onder hulle.  Alles wat hul geplant het is vernietig.  Al hul diere is gedood.  Toe begin die Israeliete smeek dat die Here hul weer moet help.

God het hul herinner aan alles wat Hy vir hulle gedoen het, maar dat hulle nie wou hoor nie.  So kom dit dat Gideon wegkruip in ‘n parskuip waar die Engel aan hom verskyn en sê dat die Here by hom is en dat hy ‘n dapper man is.  ‘n Dapper man wat wegkruip vir die vyand, wonder jy?

As dit ek of jy was wat deur sulke swaar tye gegaan het en moes hoor dat God by ons is, sou ons ook seker soos Gideon gedink het… dat die Here sy rug op ons gedraai het.  Ons rasionaliseer omstandighede en dan kom ons tot die slotsom dat dit onmoontlik is, maar ons vergeet dat ons die God van die onmoontlike dien.  Al het Gideon gedink hy is nie die regte persoon nie, het God van hom verwag om gehoorsaam te wees.  

Gideon moes gaan met die krag wat hy het (nie ekstra krag nie) en die Israeliete bevry… omdat God hom stuur. 

Weereens kan ek met Gideon vereenselwig, want Gideon kyk na sy omstandighede en dink soos ek en jy.  Hy en sy familie is een van die swakstes in Manasse en hy wat Gideon is, is die onbelangrikste van die gesin.  Hoe kan hy nou die een wees wat Israel red?

“Ek is dan saam met jou!” het die Here vir hom gesê.  “Jy sal die Midianiete verslaan asof hul net een man is.”  Gideon was nog nie oortuig nie. “Gee tog vir my ‘n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, Here, wat met my praat!”  Die Here sê toe:  “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”  Gideon sou nog twee tekens vra en elke keer het God dit laat gebeur om hom te verseker dat Hy by hom is. Sien jy, soos ek, jouself in Gideon?

Uiteindelik kon Gideon nie meer verskonings uitdink nie en het hy geweet die tyd het aangebreek.   Hy het al sy manskappe opgekommandeer, maar God sê vir hom daar is te veel.  Hy moet die wat bang is laat gaan.  22 000 het omgedraai, maar nog 10 000 het oorgebly waarop God gereken het daar is nog steeds te veel.  

Is dit nie wat ek en jy ook doen nie?  Ons bid en vra vir 'n wonderwerk, maar net om dubbel seker te maak, spring ons self ook in. God het geweet as Gideon die Midianiete verslaan met baie manskappe, sou die Israeliete dit nie as ‘n wonderwerk sien nie.  Op die ou end het God hom toegelaat om 300 man oor te hou.  Gideon het die vyand op die ou einde verslaan en Israel bevry.  Vir die volgende 40 jaar het Israel vrede beleef.

Ek moet ruiterlik erken dat ek ook 'n Gideon is, want ek is 'n mens... en die duiwel is listig.  Ek bid, maar daar is nog steeds so 'n bietjie twyfel, al weet ek waartoe God in staat is... al het Hy Homself al hoeveel keer aan my geopenbaar.  Soms dryf God ons om Hom te vertrou.  Dit wat Hy van ons verwag, maak eenvoudig nie sin nie.  Dis dan wat ons tekens vra en ekstra veiligheidsmaatreëls tref.  

Met Gideon se verhaal wil God ons verseker dat Hy verstaan, maar Hy will ook hê dat ons sien hoe Hy vir Gideon deurgekom het sodat ons Hom vir daardie onmoontlike uitdagings in ons lewens kan vertrou.  




Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...