Wednesday, 9 December 2015

Die gedruis van branders

Psalm 42 : 7  waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.

Liewe mens, God wil ‘n vloed van Sy krag en genade oor jou lewe laat spoel.  Nie ‘n  stroompie of ‘n riviertjie nie, maar ‘n vloed.  Dit beteken ‘n vloed van hernuwing, genesing, vrymaking, opheffing.

Moenie in ‘n groef verval en op klein veranderinkies hoop nie.  Moenie vir een oomblik dink waar jy jou nou bevind, is waar jy die res van jou lewe gaan deurbring nie.  Groot verskuiwings is in die vooruitsig vir jou.  Die veranderings gaan lewensveranderend wees en ek hoop jy is gereed hiervoor.  Begin jouself geestelik voorberei vir groot dinge wat op die punt staan om te gebeur. 

Voor jou geestesoog, sien ‘n tsunami, nie een van vernietiging nie, maar een wat vir jou ‘n pad oopkloof waar dit onmoontlik gelyk het.  Sien hoe God al die onaangename gebeurtenisse van die afgelope jaar uitwis met een brander van vernietiging van die bose.  Hy wil vir jou ‘n skoon blaadjie gee om op te begin. 

Onlangs het ons gebid vir reën en kort daarna was daar oorstromings.  Net so is daar dikwels droogte in ons lewens, maar wanneer God die sluise van die hemel oopmaak, vee dit alles weg en bring dit nuwe lewe.  Ons is net nie altyd gereed vir die oorvloedige hand waarmee God uitdeel nie.  As ons damme gebou het terwyl ons gebid het, sou daar nie soveel skade aangerig gewees het nie, maar ons wil bid en hoop ten beste op so ‘n doutjie van verligting.


Dit waarna jy smag, dit waarvoor jy bid, dit waarvoor jy hoop… dit staan op die punt om te gebeur.  Hoor jy die gedruis van die waters?

Tuesday, 8 December 2015

Alles werk ten goede mee

Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is

Op hierdie presiese oomblik is God besig om agter die skerms te werk.  Jy mag dalk mismoedig gewag wees omdat jy bid en niks gebeur nie, maar ek verseker jou dat God nie handjies gevou sit terwyl Hy kyk waardeur jy gaan nie.   Die situasie mag dalk onmoontlik lyk of jy mag dalk erg bekommerd wees dat jy uit tyd uit hardloop, maar jy hoef nie bang te wees nie, want God is altyd betyds.

Ek moes vandag ‘n spesifieke bedrag geld betaal en ek het dit eenvoudig nie gehad nie.  Oor die naweek bring my broer vir geld en vanoggend op pad werk toe kry ek ‘n sms vir geld wat in my rekening inbetaal is.  Vrydag het ek geweet ek moes die geld vandag betaal.  Stel jou dus voor dat ek ‘n naweek binnegaan en nie ‘n benul het waar ek Maandag die nodige fondse sal vind nie.  Geld val tog nie uit die lug uit nie, veral nie oor naweke nie.  Wel, dit het in my geval.  Min het ek geweet dat Hy in die harte van mense besig was om te werk en dat hul Sy roepstem sou gehoorsaam.

Ek vra al hoe lank vir ‘n uitkoms, maar God wag tot op die laaste nippertjie voor Hy voorsien.  En dit is tog al wat nodig is – dat Hy wel deurkom vir ons.  Die geheim is om aan te hou glo in die onmoontlike.


Dit waarvoor jy bid is dalk heeltemal anders, maar die beginsel bly dieselfde.  Al sien jy niks gebeur nie, kyk met oë van geloof.  God sal alles ten goede laat meewerk.

Monday, 7 December 2015

'Silly Season'

Matteus 20:15  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie?

As jy al ooit vissies kos gegee het, sal jy weet dat daardie vissies rustig sal rondswem totdat die eerste kosblaartjie in die water val, dan storm hul almal na dieselfde plek.

Dis min of meer wat hier teen einde November, begin Desember gebeur wanneer ons die ‘silly season’ ingaan.  Ek vermoed maatskappye reken almal het bonus gekry, so hul begin ‘sales’ hou.   Mense storm almal op daardie uitverkopings af, soos ‘n klomp visse wat kos kry. 

Glo my dit is nie die laaste uitverkoping of spesiale aanbod nie.  Iemand het eendag gesê:  “Dit is net ‘n spesiale aanbod as jy dit regtig nodig het.”  Moenie toelaat dat advertensies jou uitlok om jou swaarverdiende geld te gaan uitgee op onnodige items nie. 

Daardie bedraggie wat met betaaldag in jou bankrekening beland, is nie ‘n teiken nie.  Dit is bloot vergoeding vir ‘n maand se bloedsweet.  Gebruik dit vir wat jy nodig het en sit die res weg.  Jy hoef regtig nie alles te gebruik nie.


Hoekom ons so onmiddellik ‘n behoefte ontwikkel as ons geld het, gaan my verstand te bowe.  As jy tot nou toe daarsonder kon kaarkom, kan jy verseker dit verder daarsonder ook doen.  

Sunday, 6 December 2015

Nuwe wyn in ou velsakke

Lukas 5 : 37  “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen.

Ons kan nie voortgaan om dieselfde dinge te doen as ons die dag tot bekering kom nie.  ‘n Christen se lewe is anders as die van ‘n nie-christen.  Jou fokus verskuif van dit wat vir die wêreld belangrik is, na dit wat vir God belangrik is.  God het geen erg aan klubs en pubs nie.  Hy gebruik nie dwelms of pille nie.  Hy het geen erg aan enige iets wat nie ewigheidswaarde het nie.

Dit sal dus fataal wees om nie verandering in jou eie lewe te bewerkstellig nie.  Die vergelyking met die wyn en die sakke is heel relevant.  Jy kan nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie.  Net so kan jy nie jou nuwe lewe op die ou manier voortsit nie.

 Jesus se lewe op aarde is ‘n voorbeeld vir ons.  Hy het nie sy eie gemak of homself eerste gestel nie.  Sy hele lewe was daarop gefokus om ander te dien.  Hy het nooit sy ‘rang’ as seun van die Koning gebruik nie.  Tussen konings en bekendes sou jy hom nie vind nie, wel tussen gewone mense, meer spesifiek diegene met wie ander nie juis wou vereenselwig nie.

Hy het nie die massas gevolg nie, maar eerder Sy eie gevolg geskep.  Alles wat Hy gedoen het, was in opdrag van die Vader en as Hy enigsins getwyfel het, het Hy Homself gaan afsonder en gebid.  Wanneer ander Hom beskuldig of geslaan het, het Hy nie terugbaklei nie.  Hy’t bloot die ander wang gedraai en vir hul gebid.


Dis nie ‘n maklike voorbeeld om te volg nie, maar dit is verseker beter as om die res te volg.  Ten minste sal jy in die ewigheid eindig as jy Hom volg, terwyl ek nie so seker is waar jy sal eindig as jy die massa navolg nie.

Thursday, 3 December 2015

Geen geweld

Handelinge 5:26  Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld

Sestien dae van aktivisme teen vrou en kinders… Vir 16 Dae word die kollig geplaas op geweld teen vroue en kinders.  Blykbaar is Suid-Afrika se statistiek van die hoogstes ter wêreld! 

Vroue en kinders… die weerloses.  Hoekom dink enige iemand dat dit reg is om hul woede of aggressie op iemand swakker of kleiner as hulle uit te haal?  Wat veroorsaak dat iemand tot daardie punt oorgaan?

Wat ek wel weet, is dat dit heelwaarskynlik ‘n aanloop het.  Dalk manifesteer dit as kind reeds in diegene wat ander afknou of boelie en daarmee wegkom.  Indien jy die regte groep rondom jou het, kan jy gou voel jy is onaantasbaar.

Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.  Moenie afknouery of mishandeling van diere duld nie.  Indien iemand van jongs af daarmee wegkom, kan hul glo dat dit aanvaarbaar is. 

Dissipline en duidelike grense is nodig, met liefde in oormaat.  Ek glo dat baie van die geweld beperk kan word as ouers hul rol in die samelewing ernstig opneem.  Stuur ons goed aangepaste individue die lewe in, of maak ons monstertjies groot?


Respek vir jouself en vir ander is die grondslag van ‘n goedaangepaste lid van die samelewing.

Wednesday, 2 December 2015

Enkel en alleen omdat jy glo

Romeine 1:17     In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

“Hoe kan ek seker wees my saak met God is reg?” vra ‘n kollega my onlangs.  Sy wonder daaroor omdat daar volgens haar soveel ‘goeie’ mense is en sy voel dat sy tekortskiet wanneer sy haar lewe aan hul lewe meet. 

Ek moes met haar saamstem.  Oral hoor jy van mense wat goed doen.  Hulle gee hul tyd en geld vir diegene wat behoeftig is.  Jy kry ook gereelde kerkgangers wat jou skuldig laat voel as jy op ‘n reenerige Sondag, na ‘n week van vroeg opstaan, nie die krag het om kerk toe te gaan nie.  En wat van diegene wat Bybelverse kan aanhaal?  Jy voel dalk jy kan dit nie doen nie en voel jy ken dus nie jou Bybel goed genoeg nie.  Daar is soveel voorbeelde van mense wat op die oog af ‘n perfekte lewe lei, volgens Christelike maatstawe.

Indien jy dan jou eie swakhede herken… vloek, gebrek aan naasteliefde, min of geen goeie dade, kleingelowigheid, ens, ens, ens… dan begin jy inderdaad twyfel of jy eendag die hemel sal haal.


God maak dit egter eenvoudig.  Glo, en God spreek jou vry… en so sal jy vir ewig lewe.  Al die ander dinge lei eenvoudig jou aandag af van dit wat werklik saak maak.  Glo onwrikbaar en sonder twyfel.

Tuesday, 1 December 2015

Wurms en Skoenlappers

Samuel 14:20  Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring

Wanneer die wurm hom toespin in ‘n papie, groet hy sy ou gedaante.  Hy sal nie weer ‘n wurm wees nie.  As hy weer die lewenslig aanskou, het hy ‘n algehele metamorfose ondergaan.  As daardie kleurryke skoenlapper uit die papie worstel, kan jy jou beswaarlik voorstel dat hy eens ‘n wurm was.

Ons moet soms ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.  Dit vereis ‘n tyd van stilword… introspeksie.  Die buffel wat jy eens was, kan ‘n persoon word wat ander in ag neem.  Die selfgesentreerde persoon wat jy tot nou was, kan iemand word wat begin om op ander te fokus.  Die persoon wat hom/haar aan drank vergryp het, kan sonder drank klaarkom.  Die persoon wie se oog gedwaal het, kan getrou word.  Iemand wat altyd leuens vertel het, kan nou die waarheid nastreef.

Verandering is nooit maklik nie, maar indien jy God vra om jou te help, kan jy dit doen.  Die geheim is liefde, nie vir jouself nie, maar vir jou medemens.

Indien jy iemand werklik liefhet, liewer as jouself, sal jy nie meer dit doen wat jou gelukkig maak nie, maar jy sal begeer om te doen wat die ander persoon gelukkig maak.


Hoe meer liefde jy gee, hoe meer sal jy ook ontvang.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...