Tuesday, 9 October 2018

Tiendes


Maleagi 3:10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Iemand vra vandag vir my ‘n vraag.  Sy het vir ‘n lang tyd haar tiende gegee omdat sy graag ‘n huis wou hê.  Verlede jaar het God vir haar ‘n huis gegee.  Sedert sy die huis gekry het, het dinge in haar lewe verkeerd geloop en kon sy nie meer haar tiende gee nie.  Sy voel baie sleg daaroor en wou weet wat haar te doen staan.

Om jou tiende vir God te gee, is ‘n bespreking waaroor daar baie verskillende menings is.  Eerstens word daar gedebatteer wat as die tiende gesien word.  Bereken jy dit op jou bruto of netto inkomste?  Of betaal jy alles en gee ‘n tiende van wat oor is?

My mening is dat jou tiende heel bo aan jou begrotingslysie staan.  God kom eerste.  Jy sal weet hoe om jou tiende te bereken, want die Heilige Gees sal jou lei.

As jy twyfel of jy moet gee of nie… moenie gee nie.  God het ‘n blymoedige gewer lief, hy het nie aalmoese nodig nie.  In die Bybelse tye het hy gesonde diere gesoek, nie die sieklikes of kreupeles nie.  Moet ook nie gee omdat jy iets in ruil verwag nie.  Gee omdat jy wil gee.
Vir wie gee ek my tiende?  Weereens laat jy jou deur die gees lei.  Niemand kan aan jou voorskryf nie, net God.

Dan is daar ook diegene wat sal sê hul het nie eens genoeg vir hulself nie, waar sal hul ‘n tiende vandaan kry.  Kyk maar in die Bybel hoeveel keer God mense geseën het wat hul laaste gegee het… die weduwee wat haar laaste meel waarmee sy vir haar en haar seun ‘n broodjie wou bak voor hul omkom van hongersnood moes gebruik om vir Elia ‘n brood te bak.  Daardie weduwee het nooit honger gely nie.   Jy sal ook nie terwyl jy jou tiende gee nie.

As jy hou van ‘n uitdaging, gee vir God wat Hom toekom en kyk hoe hy die sluise ooptrek.  En hoe meer jy ontvang, natuurlik hoe meer gee jy.  Jy sal nooit meer kan gee as wat God jou mee terug gaan seen nie.

Monday, 8 October 2018

Jou huis staan op 'n rots


Psalm 18 : 3  Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

Wat gebeur wanneer jy deur moeilike tye gaan?  Ons reageer natuurlik verskillend.  Een persoon sal op ‘n hopie gaan sit terwyl iemand anders sal kyk wat hul daaraan kan doen. 
Indien jy iemand is wat op ‘n hopie gaan sit, dalk verlam word deur dit waardeur jy tans gaan… iemand is wat sonder hoop is,  mag dit dalk help om so ‘n bietjie terug te kyk op jou verlede.  Dink ‘n bietjie hoe Hy vir jou ‘n pad in die woestyn gemaak het.  Onthou bietjie hoe hy vir jou deure oopgemaak het wat jy nooit gedink het oopgemaak kan word nie.  Onthou jy die keer toe hy iemand oor jou pad gebring het wat jy juis op daardie oomblik nodig gehad het?  Ons almal se uitdagings verskil, maar elkeen het ‘n getuienis van God se almag.  Moet nooit vergeet hoe hy jou opgetel het, op die regte tyd op die regte plek geplaas het, gesond gemaak het, of jou geleenthede gebied het wat jou mond laat oophang het nie. 

Wat laat jou dink dat dit nie weer kan gebeur nie?  As Hy dit een keer kon doen, kan Hy dit verseker weer doen.  As Hy dit vir verskillende mense in Die Bybel kon doen, kan Hy dit ook vandag vir jou doen.

Dit is hoe jy jou huis op die rots bou.  Hou vas aan Sy beloftes.  Hy is jou rots, jou skild, jou verlosser, jou veilige vesting… die Een by wie jy kan skuil.  Maak nie saak wat oor jou lewe kom of wat verkeerd loop nie, wanneer die storm verby is sal jy steeds staande wees.  Ons vergeet te maklik Wie ons dien.  Dieselfde krag wat Christus uit die graf laat opstaan het, leef voort binne ons.  Ons is tot ALLES in staat. 

So onthou vandag een ding… jy mag dalk platgeslaan wees deur die lewe, maar dit is nie waar jy gaan bly nie.  Wanneer ons op die naat van ons rug lê is daar in elk geval net een rigting om te kyk en dit is boontoe.

Sunday, 7 October 2018

Hoor


Deuteronomium 1:34  “Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê:

Ons hoor so dikwels dat God ‘n God van liefde is… dat Hy geduldig is… dat Hy regverdig is… dalk is dit tyd dat ons hoor dat God ook kan kwaad word.

Dink maar net hoeveel keer word jy kwaad vir jou medemens.  Dis partykeer nie maklik om met party mense oor die weg te kom nie.  Dalk is ek of jy ook nie maklik om mee oor die weg te kom nie.  Dalk is ons nie baie oulike mense nie.  Dalk is ons ongehoorsaam en beproef ons God tot op ‘n punt waar Hy Sy humeur met ons gaan verloor wanneer Sy toorn ontvlam.

Ons wil net die goeie omtrent God hoor.  Ons wil hoor dat Hy ons gebede beantwoord en dat Hy luister wanneer ons vra… en dit is so, maar dit beteken nie ons kan soos bedorwe brokkies optree wat eenvoudig doen wat ons wil, wanneer ons wil, nie omgee wie ons te na kom en verwag dat God maar net altyd liefdevol moet wees en vergewensgesindheid moet openbaar nie. 

Wanneer jy die Ou Testament lees, besef jy hoeveel keer God regtig kwaad geword het vir ‘n ongehoorsame volk wat gereeld afgedwaal het.  Jy staan verstom oor Sy mag en waartoe Hy in staat is om aan die mens te doen.  Die Israeliete wat jare lank deur die woestyn geswerf het op pad na die beloofde land moes almal omkom as gevolg van hul ongelowigheid voordat hul afstammelinge die beloofde land in is.  Hulle het God een keer te veel beproef.

Alhoewel ek ook onwrikbaar in God se vergifnis glo, weet ons nooit wanneeer ons laaste kans aangebreek het nie.

Thursday, 4 October 2018

Waarop fokus jy?


2 Korintiërs 4:18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Sien is glo, so lui die spreekwoord.  Ons wil sien alvorens ons glo. 

Oor die eeue heen was dit so.  Thomas wou ook eers die gate in Jesus se hande en voete sien alvorens hy geglo het. 

So dikwels fokus ons op sigbare dinge.  Ons wil sien dat daaar genoeg geld gaan wees om te doen wat ons moet doen.  Ons wil sien dat God voorsien alvorens ons glo.  Ons wil God sien voordat ons in Hom glo.  Hoe glo enige iemand in ‘n God wat jy nog nooit gesien het nie?

En tog behoort ons te fokus op die onsigbare.  Ons wil dikwels eerder sekermaak dat dit wat mense kan sien saakmaak.  Ons adres… ons posbenaming… die motor wat ons ry… die plekke waar ons gesien word… wat ons in die lewe bereik het… hoeveel ons bymekaar gemaak het… Ons meet mekaar se waarde aan sigbare dinge eerder as aan onsigbare dinge.  Geen van hierdie dinge gaan jou egter in die hemel kry nie.  Onthou jy nog wat God van die rykman, die kameel en die naald se oog gesê het?

Ons spandeer soveel tyd en energie aan die hier en die nou, maar wat van die Hiernamaals?  Dood is die groot gelykmaker.  Dalk het dit tyd geword om jou fokus te verskuif na dit wat regtig saakmaak.  Nie almal is gered nie en nie almal gaan die Ewige Lewe beërwe nie.  Jy hoef nie te sien om te glo nie, dit is 'n keuse... en jy wil dit nie te laat uitvind nie.

Wednesday, 3 October 2018

Onsekerheid


1 Timoteus 6:17  Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.

Droom jy ook daarvan om ryk en/of suksesvol te wees, dalk die Lotto te wen?  Meeste mense begeer ‘n sorgvrye lewe.  En baie leef elke dag asof hul nie ‘n sorg in die wêreld het, terwyl hul geld uitgee asof hul oor eindelose bronne beskik. 

Luister jy na die salarisse wat party mense verdien, kan jy nie help om te wonder hoe dit moet voel om soveel geld per maand te verdien nie.  Dit moet heerlik wees om ‘n sms te ontvang wat so ‘n krediet in jou bankrekening wys. Die probleem met soveel geld is dat jy begin glo jy is die beskikker van jou lewe en lot.  Jy is ‘self-made’.  Wie het God nodig as jy alles kan koop wat jou hart begeer en nooit na ‘n prys hoef te kyk nie?

Pasop, maan die Bybel.  Geld kan nie geluk of gesondheid koop nie.  Rykdom kan oornag verdwyn.  Jou belangrike posbenaming kan oornag van jou af weggeneem word.  Net op God kan jy vertrou.  En dis hier waar party mense vasskop en dink dat hul liewer ‘n kans op hulself as op God gaan neem.

Selfs al het jy al God se voorsiening persoonlik beleef, kom daar steeds tye dat jy twyfel… tye dat jy wonder hoe jy alles gaan betaal… tye wanneer jy wonder hoe jy vir jou kind se studies gaan betaal… tye dat jy wonder hoe jy kop bo water gaan hou wanneer jy jou werk verloor of aftree.

Dis menslik en te verstane, want die lewe is nie goedkoop nie.  Meeste mense het verantwoordelikhede… al is dit net elektrisiteit, water en kos wat jy moet koop, kan jou keel toetrek.

Glo een ding vandag… hierdie teks dra krag.  Dit is ‘n teks wat jy elke dag moet lees terwyl jy die suksesleertjie uitklim en ook wanneer jy aan Sy voorsiening twyfel.  Hy sal jou nooit in die steek laat nie.


Tuesday, 2 October 2018

Toegerus


2 Timoteus 3 : 16 – 17  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Nou mag jy vra, maar hoe kan ek op ‘n punt kom waar ek ander kan aanspreek as my eie lewe nie volmaak is nie?  Realiteit is dat niemand se lewe volmaak is nie.  Ons het egter ‘n handboek gekry wat ons presies verduidelik hoe om op tree en natuurlik ook te onderskei tussen reg en verkeerd.

Juis daarom is jy, wat die Skrif lees en bestudeer, volkome voorberei en toegerus om in diens van God te staan. 

Wanneer jy twyfel of dalk begin wonder of jy dit in jou het, gaan na die Woord van God en verfris jou geheue.  Jy het alles wat nodig is om suksesvol, kreatief of talentvol te wees.  Wanneer jy in so ‘n noue verhouding met God staan, sal Hy Sy seen oor jou uitstort.  Jy is Sy geseende, Sy gesalfde.  Daardie salwing bemoedig jou, gee jou krag en die vermoë om die goeie stryd te stry.

As kind van God moet jy dikwels die relevansie en selfs die moontlikheid dat die Bybel die waarheid is verdedig.  Hierdie teks gee jou ook die versekering dat die Bybel nie net ‘n storie is nie.  Dit is deur God geinspireer en is die waarheid.

Monday, 1 October 2018

Vergifnis


Eksodus 32:30  Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

Dalk lees jy hier en dink:  "Ons het ‘n Moses nodig."  Moses se verhouding met God was die volk se enigste redding.  Keer op keer het die volk gesondig en keer op keer het Moses tot God genader en om vergifnis gesmeek.

Elke Christen in hierdie land is ‘n Moses.  Dit is elkeen van ons se plig om vir ons land en sy mense by God in te tree.  Ons mag nie moeg raak om te bid nie, maar ek glo verseker dat ons ook ‘n verantwoordelikheid het om ons naaste aan te spreek oor hul sondigheid.  Moses het nie in stilte gaan bid nie.  Hy was baie reguit en glad nie skaam om hul op hul sondige lewe te wys nie.

Meeste van ons keer ‘n blinde oog.  Ons is nie bereid om op te staan vir God nie.  Ons is draadsitters of ‘lou’.  God hou nie van lou nie.  Jy is of vir Hom of teen Hom. 

En dis juis hier waar ‘n Christen hom/haarself onderskei van ander.  ‘n Christen blameer nie net nie.  Jy maak seker die individu weet wat hul verkeerd gedoen het, maar jy verseker hom/haar ook van God se vergifnis wanneer daar ware berou is.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...