Wednesday, 31 July 2013

Ek weet nie, maar God weet

2 Korintiers 12 : 9  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Partykeer kan ons grootste swakheid ons grootste krag word.  Daar was ‘n 10-jarige seun wat ten spyte daarvan dat hy sy linkerarm in ‘n motorongeluk verloor het, Judo geneem het.
Die seun het gevoel dat hy goed vorder, maar die Japanese Judo meester het hom net een beweging geleer en na drie maande was die seun ‘n bietjie mismoedig. 
“Sensei, hoekom leer u nie vir my ‘n slag ander bewegings ook nie?”
“Dit, seun, is al beweging wat jy nodig het,” het die Sensei geantwoord.
Alhoewel die seun nie verstaan het nie, het hy sy leermeester vertrou en aangehou oefen.  Maande later was daar ‘n toernooi waarvoor die seun ingeskryf is.  Hy’t elke geveg gewen, ten spyte van die feit dat sy opponente groter, sterker en meer ervare was.  Op pad huis toe het hy en die sensei die gevegte bespreek en die seun wou weet:  “Sensei, hoe is dit dat ek elke geveg gewen het?”
Jy het om twee redes gewen:  “Eerstens omdat jy daardie een beweging byna vervolmaak het en tweedens omdat hul beste teen-beweging vir jou wen-beweging sou wees om die linkerarm te gryp.”
Die seun se swakheid was in hierdie geval sy krag.  Ons weet nie altyd hoekom dinge met ons gebeur of hoekom ons in sekere situasies beland nie, maar God het ‘n groter plan met ons lewens.  Ons swakhede is die groenlig vir Hom om in te gryp.

Tuesday, 30 July 2013

Grootte God

Ons is so gewoond aan die lewe soos ons dit ken dat ons nie meer in verwondering staan oor die ‘klein’ dingetjies nie.  In Job 39 vra God ‘n paar vrae vir Job.  Kan jy vir ‘n leeu sy prooi vang?  Wie gee vir die kraai kos wanneer sy kleintjies om hulp roep?  Ken jy die tyd wat die klipspringers lam?  Kan jy vir hulle draagtyd bepaal?  Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid?  Gee jy vir die perd sy krag; sit jy vir hom maanhare aan? 

Alles en almal is geskape om perfek binne God se volmaakte plan in te pas.  Van bio-diversiteit kan ons Hom niks leer nie.  In vers 35 vra hy finaal:  Wil jy vir God kom teregwys,” wat al hierdie dinge gedoen het waartoe jy nie in staat is nie?
Is dit nie alles wonderwerke nie?  God laat wel die mens toe om te ontwikkel en vooruit te gaan, maar sekere dinge sal ons nooit kan doen nie.  Ons kan soutwater ontsout, maar ons kan nie reën maak nie.  Sonder water is ons verlore.
Dis tyd dat ons ons beperkinge as mense erken en weer met nuwe oe begin kyk na waartoe God in staat is.

Monday, 29 July 2013

Dankie, dankie Jesus

Markus 6 : 5  “Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het.“

Toe Jesus in sy geboortedorp kom, wou die mense niks van Hom weet nie.  Hulle het Hom as net nog ‘n mens gesien.  Vir hulle was hy Josef, die timmerman se seun met broers en susters wat hul by naam geken het.  Hoe kon Hy spesiaal wees? 
Ek het myself afgevra of ek anders oor hom sou voel as ek destyds geleef het.  En ongelukkig moet ek erken dat ek ook maar skepties sou wees, behalwe as ek Sy wonderwerke sou aanskou.  So hoe op dees aarde wil ons nou mense oortuig om te glo in ‘n God wat hul nie kan sien nie? 
Deur hul te vertel van dit wat God in jou eie lewe doen.  Ons hoef nie vreeslik lank te dink om te weet wat hy alles vir ons doen nie.  Die dak oor ons kop, ons gesin, ons werk, ons besittings – dit kom alles uit Sy hand.  Deure gaan nie maar sommer net oop nie.  Iemand skakel jou nie uit die bloute nie…  Jy wou so graag daardie pos gehad het en jy was SO teleurgesteld toe jy dit nie kry nie en kort daarna word jy verstom deur ‘n beter geleentheid…  Die verhouding wat misluk het en jou met ‘n gebroke hart gelaat het en kort daarna ontmoet jy die mees perfekte lewensmaat… Jy wou van baan verwissel, maar iets weerhou jou daarvan en net die volgende oomblik snel ‘n motor langs jou verby – dis altyd die hand van God. 
Vertel vir ander van hierdie ‘profeet’ wat nie onder Sy eie mense erken is nie. Vertel vir hulle van die groot en die klein wonderwerkies wat jy ervaar.  Om erkenning aan God te gee, sal die sluise van die hemel vir jou open. 

Sunday, 28 July 2013

Is jy skaam?


Matteus 10 : 42  Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

As jy na Christene kyk, is daar min van ons wat voortdurend geloofwaardigheid uitstraal.  Wanneer mense na jou kyk gedurende die dag, behoort jou optrede teenoor ander, jou woorde, jou dade as’t ware ‘n demonstrasie van ‘Christenwees’ wees. 
Soms uiter ons woorde wat ons gebrek aan geloof demonstreer eerder as ons vertroue in God.  Meeste van tyd is ons woorde en dade die enigste Bybel wat iemand daardie dag te lese sal kry.  Ons behoort Jesus se arms en voete hier op aarde te wees.  Dit beteken nie noodwendig dat ons die Sendingveld moet invaar nie.  Even the rich are hungry for love, for being cared for, for being wanted, for having someone to call their own. We think sometimes that poverty is only being hungry, naked and homeless. The poverty of being unwanted, unloved and uncared for is the greatest poverty. We must start in our own homes to remedy this kind of poverty.” Mother Theresa

Wanneer iemand mismoedig is, moet ons hul optel met ‘n sagte woord of ‘n koppie koffie.  As iemand ons tenakom, moet ons hipoteties gesproke, die ander wang draai.  Daar is soveel wat op ander trap, en so min Barmhartige Samaritane.  Ons kan ‘n groot verskil in die wêreld maak deur vir ander ‘n voorbeeld te stel eerder as om Bybelversies aan te haal. 

Wanneer jy vanaand in die bed klim, kan jy terugkyk en sien waar jy ‘n positiewe verskil gemaak het of is jy skaam oor jou doen en late?

 

Thursday, 25 July 2013

Eensaamheid

Psalm 25 : 16  Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote.

 Eensaamheid is ‘n monster wat jou kan bekruip en tot raserny dryf.  Dit spin jou toe en sonder jou af. 
 
Mense is tropdiere.  Alleenlopers word eenkant toe gestoot of as ‘n bedreiging gesien.  Vra maar enige weduwee/wewenaar/geskeide persoon.  Sodra jy nie meer ‘n maat het nie, is jy nie meer welkom by sekere geleenthede nie.  Dit is asof jy nie meer ‘n voltooide mens is nie. 
 
Wat doen jy om alleenlopers te betrek?  Reik jy uit na hulle of sien jy hulle as ‘n bedreiging?  Ons moet ook so leef dat ons nie afhanklik van ‘n ander is vir ons eie geluk nie, want dit is dan dat jou hele wêreld platval as daardie persoon nie meer daar is nie.  Word jou eie mens.  Kry jou eie belangstellings en bou jou eie vriendekring binne ‘n verhouding.  En as jy alleen is, reik uit na ander.  Neem die eerste tree om ander uit te nooi en word ‘n getroue vriend(in).

 

Wednesday, 24 July 2013

Nog 'n sonsopkoms...

Die opdrag was duidelik:  Gaan dan heen en maak dissipels van alle mense.  Markus 16 : 15  Hy het vir hulle gesê: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Ons moet elke moontlike geleentheid gebruik om te getuig van dit wat God vir ons as mense gedoen het.  Hy het Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te sterwe.  Meer nog.  Ons moet getuig wat Hy in ons lewens doen.  Vertel vir ander van die wonderwerke wat daar in jou lewe plaasvind. 

Ons kla so maklik oor ons swaarkry, maar hoeveel keer vertel ons vir dieselfde mense wanneer God vir ons deurgekom het.  Hy het nog nooit opgehou om vir ons te sorg nie.  Nog minder het Hy opgehou om Sy oorvloed oor ons uit te stort nie.  Elke dag gebeur daar klein wonderwerkies, maar omdat ons dit as vanselfsprekend aanvaar, praat ons nie eens meer daaroor nie. 

 Selfs die wonder van die sonsopkoms getuig van Sy liefde...

Tuesday, 23 July 2013

Haat wat verkeerd is

Vra jouself af, sal ons dan:

Mekaar verkleineer?

Vir mekaar leuens vertel?

Niks vir ‘n ander gun nie?

Kwaadpraat van ander?

Van ander steel?

Hulle doodmaak?

Ons naaste haat?

Begeer wat hulle het?

Ander beswadder/beskinder?

Net aan onsself dink?


Amos 5 : 15  Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...