Wednesday, 25 April 2018

Waag


Prediker 11 : 1  Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.

Die beginsel van brood op die water werp, kom van saad wat uitgegooi word op deurnat grond en dan ‘n oes lewer.  Net soos ‘n boer moet ons ook partykeer kanse waag.

Jogebed het ook haar ‘brood’ op die water gewerp toe sy vir Moses in die biesiemandjie in die rivier gesit het.  Op die ou end het Farao se dogter op die babatjie afgekom en iemand gesoek wat die babatjie kon soog en vertroetel tot hy groot genoeg is.

Dit wys net hoe saad kan ontkiem as jy ‘n kans neem.

Watter uitdaging in jou lewe verlang dat jy ‘n stap in geloof neem.  Is dit dalk om jou meer vryheid te gee noudat hul puberteit ingaan? Dalk moet jou kind volgende jaar verder gaan studeer en iewers in ‘n koshuis of saam met ander gaan bly.  Miskien moet jou man op ‘n ander dorp gaan woon, dalk selfs oorsee?  Miskien is jy bang om te laat gaan.  Dalk sukkel jy met vertroue.  Dalk is jy in ‘n tweestryd oor ‘n verhouding.

Wees braaf… wees ‘n Jogebed.  Neem die risiko en laat gaan.  En vertrou God dat jy uiteindelik die oes sal inbring.

Tuesday, 24 April 2018

Glo onwrikbaar


Eksodus 1 : 22  Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi

Stel jou voor jy is ‘n swanger mamma wat rykhalsend uitsien na die geboorte van jou ongebore babatjie.  Jy gaan vir ‘n skandering en hoor dis ‘n seuntjie.  Die voorbereiding begin… blou kleertjies word gekoop, die kamer word versier, jy begin moontlike name oorweeg… Een aand luister jy oor die nuus en jy hoor dat ‘n nuwe wet geproklameer is. Alle babaseuntjies sal by geboorte doodgemaak word.  Dis presies wat Farao gedoen het toe hy besef dat die Israeliete meer raak as die Egiptenare. 

Kan jy jou indink hoe Jogebed moes voel toe sy dit hoor?  Angsbevange… wat as dit ‘n seuntjie is?  En toe is dit ‘n seuntjie... Moses.  Jogebed was egter ‘n Godvresende vrou.  Sy het vas geglo dat haar seuntjie nie sal sterf nie.  Sy sou bid en glo dat God hom sal beskerm vandaar haar plan om vir hom ‘n mandjie te vleg en hom in die rivier te gaan wegsteek.

In Hebreërs 11 word daar verduidelik, aan die hand van voorbeelde van geloofshelde, wat dit beteken om te glo.  Net drie vroue word in die hoofstuk vereer:  Sarah, Rahab en Jogebed. 
Wat sal God oor jou geloof sê?  Sal jy die geloofshelde lysie haal?  As ander 
mense na jou kyk, sal hul jou bewonder vir jou sterk geloof?

Dis nie altyd maklik om onwrikbaar op God te vertrou nie.  Dis nie altyd maklik om vaste geloof te demonstreer nie.  Maar wanneer ons wel bly glo ten spyte van almal se ongeloof, kan ons iemand anders se geloof versterk.

Monday, 23 April 2018

Geduld


Genesis 30 : 22  God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie.

Wanneer ons bid, hoop en vertrou ons dat God ons gebede sal beantwoord.  Ons het nou al geleer dat God se tyd nie ons tyd is nie en daarom weet ons dat dit langer kan neem as waarop ons hoop.  Dus bly meeste van ons glo, maar sou ons so lank vas staan in geloof soos Ragel?

Ragel het ook geglo dat God een of ander tyd haar gebede sou beantwoord.  Dalk het sy selfs gedink dat sy darem so ‘n bietjie van ‘n voorsprong gehad het, want Abraham was haar man se oupa.  Dieselfde Abraham vir wie God in Genesis 12 : 2 – 3 en 22 : 17 beloof dat sy nageslag sal wees soos die sterre aan die hemel of soos die sand van die see.  Ragel sou tog ‘n rol in hierdie vermeerdering moes speel? Tog bly sy wag.  Sy wag terwyl tien kinders vir Jakob gebore word by haar suster Lea asook haar twee slawe Bilhah and Zilpah. 

Ons leer ‘n wonderlike les of twee by Ragel.  Sy het aanhoudend gebid, want uiteindelik het God gehoor gegee en haar gebed verhoor (soos ons in die teks lees). 

Om te bid sonder om te glo, is tydmors.  Ragel het gebid en vas gestaan in geloof sowel as God se beloftes aan Abraham.  Haar geloof is so sterk dat sy nie glo dat God net vir haar een kindjie sal gee toe hy uiteindelik gebore word nie… daarom doop sy haar eersteling “Josef”, wat beteken “God sal byvoeg”.  Dis ‘n kragtoertjie in geloof!

Wat is die langste wat jy al moes wag op God om jou gebede te beantwoord?  Is jy besig om moedeloos te raak en hoop te verloor?  Of jy nou wag op genesing, herlewing, rekonsiliasie, vernuwing… hou aan bid… hou aan glo, maar ek wil jou ook aanmoedig om jouself af te vra wat jy besig is om te leer terwyl jy wag. Ek dink nie God laat ons moedswilliglik wag nie.  God se planne is immers altyd goed vir ons.  Wees verseker dat Hy jou lei volgens Sy perfekte wil.  In die proses word ons gevorm en gebrei in die hande van die Meester Potttebakker.

Thursday, 19 April 2018

'n Sondige natuur


Romeine 8:6  Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede

Om binne die wil van God te leef is nie maklik nie.  Ons as mens beskik oor ‘n sondige natuur en daardie sondige natuur kan ons ondergang beteken. 

Om in ontkenning te leef, gaan ook nie help nie.  Die eerste stap tot genesing vir ‘n alkoholis is om te erken dat hy/sy ‘n probleem het.  Net so moet ons ook ons sondes herken alvorens ons daarmee kan breek.

Watter sonde(s) is daar in jou lewe? Vir elkeen van ons sal dit iets verskillend wees, maar daar is ook sondes waarmee ons almal sukkel.

Naasteliefde is ‘n groot probleem.  Ons is veronderstel om mekaar lief te hê met dieselfde liefde wat ons vir onsself het.  Sal jy dan van jouself slegpraat of jouself lelike name noem?  Die eie ek moet eers gekruisig word alvorens ons werklik vir ander kan lief wees.

Afgodery is nog ‘n algemene probleem.  Ons dien dalk nie ‘n goue kalf nie, maar ons afgod is dalk sport, televisie, gym, kos...  Dink maar net wat is belangriker as God in jou lewe.  Bygesê, onthou God is ‘n jaloerse God.

Word die Sabbatdag nog geheilig?  Deesdae is winkels en selfs Banke oop op ‘n Sondag en mense ondersteun hierdie winkels sonder om daaraan te dink dat hul die Sabbatdag ontheilig en iemand die geleentheid ontneem om kerk toe te gaan omdat hul moet werk.  Sondag is ‘n rusdag… vir almal… ‘n dag gewy aan God. 

Is vloek dalk iets waarmee jy sukkel?  Jy probeer so hard, maar as jy jouself kom kry, uiter jy ‘n kragwoord? Gebruik jy byvoorbeeld die Naam van God sonder dat jy daaraan dink of kyk jy na flieks of televisieprogramme wat deurspek is met Godslastering? 

Of dalk sukkel jy om nie te begeer nie.  Jy weet jy mag nie, maar dis darem swaar as iemand anders iets het of kry wat jy so bitter graag wou hê?   Dalk is jy selfs jaloers op iemand se sterk geloof terwyl jyself so maklik twyfel.

Is jy dalk besig met ‘n buite-egtelike verhouding?  Jy troos jouself dat die persoon in elk geval ongelukkig getroud is?  Sou dit so gewees het as jy nie op die toneel was nie?  Dalk is jy self ongelukkig getroud.  Het jy geweet dat die gras net so groen aan jou kant kan wees as jy dit net soveel water gee as aan die oorkant?

Miskien neem jy goed wat nie aan jouself behoort nie.  Jy probeer dit regverdig deur te dink dat die persoon in elk geval genoeg het en jy nie naastenby soveel nie.  Dit bly steel as dit nie aan jou behoort of jy nie daarvoor gewerk het nie. 

Dalk vertel jy skindernuus oor vir die waarheid en jy besef nie dat die storie al soveel stertjies bygekry het dat dit lankal nie meer waar is, maar eerder vals getuienis is. 

Het jy dalk iemand se lewe geneem? Of het jy dalk moordgedagtes teenoor iemand?

Hoe tree jy teenoor jou ouers op?  Respekteer jy hulle?  Dalk reken jy hulle verdien nie om gerespekteer te word nie.  Feit is jy moet jou ouers respekteer sonder enige voorbehoud.  Dit beteken dat jy hul met liefde sal behandel, nie op hul skel en vloek, selfs vir hul sorg waar nodig.  Jou ouers is miskien nie perfek nie, maar hul bly die ouers waaruit jy gebore is.

Daar is ‘n rede hoekom God vir Moses en vir ons ‘n wetboek gegee het.  Ons kan die sondige natuur afsterf as ons God vra om ons te help.

Wednesday, 18 April 2018

Mostertsaadgeloof


Lukas 17 : 6  Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

Ons weet dat ‘n mostertsaadjie, een van die kleinste saadjies is en tog as dit geplant word, groei dit tot ‘n enorme boom.  Wat God hiermee bedoel is dat die kleinste gryntjie van geloof, te midde van onmoontlike omstandighede, ook kan lei tot fantastiese resultate.

As ‘n gelowige het jy reeds genoeg geloof binne jou om enige probleem te oorkom.  Dit maak nie saak of jy in ‘n gelowige huis grootgeword het of nie.  Dit maak ook nie saak wat jy weet of nie weet nie.  God wil in jou lewe werk vandag.  Jy kan dalk nie sien hoe dinge kan uitwerk nie, maar dis in orde.  Al wat jy moet doen is om te glo dat God wel ‘n verskil kan maak omdat niks vir Hom onmoontlik is nie.

Sit jou geloof vandag in aksie deur te verklaar dat jou hoop en vertroue in Hom is.  Dank God omdat jy weet dat Hy agter die skerms besig is.  Gebruik daardie mostertsaadgeloof van jou en dit sal ontkiem en deur die harde kors breek en groei tot ‘n lieflke boom.

Met mostertsaadgeloof het jy alles wat jy nodig het.

Tuesday, 17 April 2018

In God se greep


Jesaja 41 : 10   Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou

Ons almal beland een of ander tyd in situasies waar ons buite beheer voel; bang raak.  Dis maklik om dan ontmoedig te voel en toe te laat dat vrees jou oorweldig.  Dis tye wat jy juis moet onthou dat God vasgegryp het en met Sy eie twee hande vashou.  Daar is niks te moeilik vir God nie.  Onmoontlik is nie deel van God se woordeskat nie. In Sy greep, is jy volkome veilig;  jy is versorg.  In Sy hand is oorwinning, krag en voorsiening… In Sy hand is alles wat jy nodig het.

Maak nie saak waardeur jy vandag gaan nie, jy kan God volkome vertrou, want Hy is vir jou.  In plaas van in ‘n depressie te verval oor jou omstandighede, kyk op en visualiseer hoe God jou situasie omdraai.  Blaas die flammetjie van geloof aan, koester dit in jou binneste tot dit behoorlik vlamvat.  Sien voor jou geestesoog guns, promosie en oorvloedige seëninge.

Indien ons dieselfde ywer aan die dag lê met positiewe denke as wat ons met negatiewe denke doen, kan dit net vrugte afwerp.  Dit lig jou op en gee jou hoop. 

Ons verloor so maklik God se beloftes uit die oog.  Dieselfde beloftes wat in Die Bybel aangeteken is, is van toepassing op ons.  Die Bybel is God se getuigskrif en Hy doen aansoek vir die belangrikste pos in jou lewe… jou persoonlike Lyfwag.  Met Hom aan jou Sy hoef jy niks te vrees nie.

Monday, 16 April 2018

Waarop is jy ingestel?


Psalm 68 : 1   As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, 

As jy nou dood eerlik moet wees, wat geniet die meeste aandag in jou lewe? Waarop is jou gedagtes ingestel?  Wat tap jou energie?

Miskien sê jy:  “Wel, dis maklik, want ek sukkel met my finansies, so ek maak dag en nag planne om net met my geld uit te kom.  Elke sent word gerek tot sy oë traan.  Ek het my uitgawes tot op die been gesny en steeds is daar nie genoeg om al die gate toe te stop nie.”  Iemand anders mag dalk sê:  “Ek is so ongelukkig in my werk dat ek al my tyd en energie spandeer om vir ander werk te soek.”  Vir nog iemand mag dit wees:  “My huwelik is op die rotse.  Ek is emosioneel afgebreek en moet al my kragte inspan om net staande te bly ter wille van my kinders.  Finansiëel kan ek nie op my eie twee bene staan nie, so ek bly vasgevang in hierdie huwelik of ek wil of nie.”  ‘n Ander persoon mag weer gesondheidsprobleme ervaar.   “My mediese uitgawes oorheers alles en ek of my geliefde word nie beter nie.  Daar is dalk nie meer hoop nie.”  Of dit nou ‘n motor is wat breek, ‘n kind wat sukkel om te leer, vriende wat jou teleurgestel het… dit is jou realiteit en ongelukkig is dit wat die meeste aandag in ons daaglikse denke kry.

Kan jy sien hoe maklik fokus ons op die omstandighede.  Ons omstandighede mag wanhopig, ongelukkig, verlore en hooploos daaruit sien, maar dis net die omstandighede.  Dink jy dat God nie in hierdie omstandighede teenwoordig is nie?

Begin fokus op God.  “My finansies is beroerd, maar God kan dit binne ‘n oogknip verander… Ek mag dalk ongelukkig wees by die werk, maar dit beteken nie dat God nie vir my ‘n beter deur kan oopmaak nie…  My huwelik is op die rotse, maar God is die Een wat verhoudings herstel, al lyk dit totaal en al onmoontlik… Die dokters mag dalk sê daar is nie hoop nie, maar God is die groot Geneser… My kar breek aanmekaar, maar ek weet ek gaan binnekort in ‘n ander motor ry…  My kind mag dalk sukkel om te leer, maar God kan die regte mense oor ons pad bring wat my kind verstaan en sal help… Hierdie vriend(e) het my dalk in die steek gelaat, maar God het iemand baie spesiaal in gedagte wat binnekort my pad gaan kruis…

Jy sien, wanneer God eerste plek in jou lewe beklee, val die res eenvoudig in plek. Geen vyand het ‘n kans teen jou in die teenwoordigheid van God nie.  As God op die toneel kom, spat jou vyande uiteen.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...