Thursday, 28 February 2019

Reuse


Numeri 13 : 33  Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

Tien van die twaalf spioene wat uit Kanaan teruggekeer het, het gerapporteer dat die Enakiete reusagtig groot is.  In verhouding voel hul soos ‘n sprinkaan teenoor ‘n reus.

Twee van die twaalf, Josua en Kaleb, het dieselfde reuse gesien, maar hul uitkyk verskil.  Vers 30 Laat ons optrek en die land gaan oorneem.  Ons is daartoe in staat. 

Josua en Kaleb het geweet dat hul die reuse kan oorwin omdat God met hul sou wees.  Die ander was bereid om agter te bly, sonder God.  Sjoe, ek face eerder my Goliat met God aan my Sy as 'n dwerg sonder Hom.

God het ‘n plan vir jou lewe net soos wat hy ‘n plan vir die Israeliete gehad het.  Dalk weet jy nie hoe dit kan manifesteer nie, want jy sien net die reuse probleme raak waarmee jy gekonfronteer is.  Kyk na hierdie reuse met Kaleb en Josua oë.  Jy is in staat om hierdie reuse te verslaan, want God is met jou.  Jy het ‘n doel wat deur God bepaal is en geen verskoning om dit nie te vervul nie.  As jy sê ek is te swak, sê God:  my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking (2 Kor 12 : 9).  Dalk gebruik jy jou verlede as verskoning.  God sê:  Die ou dinge is verby, kyk die nuwe is hier! (2 Kor 5 : 17).

Ek dink nie die probleem is God se geloof in ons nie.  Die probleem is ons geloof in God. 

Ons is nooit aan ons eie lot oorgelaat nie.  God is altyd daar en geen reus staan ‘n kans teen Hom nie.

Wednesday, 27 February 2019

Dankie


Lukas 17 : 17  Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Hoekom dien jy God?  Of dalk moet ek vra wanneer dien jy God?  Sien jy Hom as ‘n Voorsiener en Towerfee wat jou voorspoedig maak en uit moeilikheid kan help, Iemand wat jy by geleentheid dien wanneer jy Hom nodig het?  Dalk is jy vinnig om te sê:  “Nee, dis nie hoekom ek Hom dien nie.”

Hoe lyk jou gebede?  Is dit ‘n bestelling wat jy plaas en verwag dat aflewering, gratis, so gou moontlik sal geskied?  En as Hy jou bestelling foutloos aflewer, sê jy dankie?

Uit die tien melaatses het net een teruggekom om dankie te sê.  Dit is tekenend van die mens se ondankbaarheid.  Ons verwag van God om ons gebede te beantwoord en natuurlik op die manier wat ons wil hê dit beantwoord moet word.  En Hy moenie draai nie.  Ons is besig en ons het nou Sy hulp nodig, anders sou ons nie gevra het nie.

Jy kan God nie Sondag in die kerk aanroep, maar Hom Maandag uit die raadsaal uitsluit nie.

God behoort jou alles te wees… jou alfa en jou omega… jou begin en jou einde.  Jou lewe behoort aan Hom.  Jy behoort aan Hom. Dien Hom met jou hele hart, jou hele verstand en jou hele siel.  Hy is nie ‘n geleentheidsgod nie.  Hy is die Enigste God.  Ja Hy is ‘n Voorsiener, Geneesheer en Helper, maar Hy is ook ons Verlosser en Saligmaker. 


Tuesday, 26 February 2019

Laat staan die offer


Matteus 5 : 23 – 24  “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Wanneer jy hierdie teks lees, besef jy dat God nie ons offer wil hê as ons in onvrede meet ons naaste leef nie.  Dalk skok dit jou, maar dis die realiteit.

Soms doen ons alls volgens God se wil.  Ons het ons lewe aan Hom oorgegee, ons lees Bybel, doen Bybelstudie, gaan kerk toe, help ander, gee ons tiende, maar dinge loop nog steeds verkeerd in ons lewens en ons kan nie verstaan hoekom nie.

Vra jouself af of daar iemand is wat jy nog nie vergewe het nie… of iemand wat dalk deur jou seergemaak is… iemand wat jy tenagekom het… of dalk is daar iemand wat jou verantwoordelik hou vir dit wat in hul lewe gebeur het.

God sê:  “Sit daardie offer van jou net hier langs die altaar neer en gaan maak eers reg, dan kan jy terugkom en jou offer op die altaar plaas.”  M.a.w. jou offer sal niks beteken indien jy nie vrede gemaak het nie.

Dit sluit aan by naasteliefde.  Hoe kan ons God liefhê wat ons nie kan sien nie, maar ons broer of suster wat ons kan sien nie voor ons oë verdra nie?

Selfs in die kerk is daar broers en susters wat mekaar nie in die oë kan kyk nie.  As die een die ander in ‘n kerkbank sien, loop hul ‘n draai om so ver moontlik van daardie broer/suster af te sit.

Ons verwag vergifnis van sondes wat veel erger is as dit wat ander aan ons gedoen het, maar ons weier om te vergewe.  Dalk is dit tyd om te laat gaan.


Monday, 25 February 2019

Engele


Hebreërs 13 : 2  Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.

Genesis 16 : 2  Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn…

Eksodus 23:20 “Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm, Jakob

‘n Engel het aan Bileam verskyn, so ook aan Gideon en Manoag, Joab, Dawid, Elia, Gad…

Bekendes, sowel as minder bekendes het besoeke van Engele ontvang.  En daarom sal ek of jy nooit weet wanneer ons dalk besoek ontvang nie.

My seun was nog baie klein toe hy vertel van die Engel wat hy gesien het.  Ons het by my skoonma gekuier en hy het by haar in die kamer geslaap.  Hy het wakker geword en hierdie massiewe Engel gesien staan.  Volgens hom was die Engel tot by die dak met enorme vlerke.  Hy het sy ouma probeer wakkermaak om die Engel vir haar te wys, maar sy het vas geslaap.  Elke keer as hy daaroor praat voeg hy by dat hy nooit bang was nie.  Die Engel het net daar gestaan.  My seun glo tot vandag toe dat dit sy persoonlike Engel is. 

Daar is mense wat jou sal vertel van gevaar waarin hul verkeer het en hoe hul op ‘n wonderbaarlike manier uit die kloue van die dood ontsnap het. 

Het jy al bestuur en byvoorbeeld die idee gehad om van baan verander, maar daarteen besluit, net om ‘n motor die volgende oomblik reg langs jou te gewaar?  Vergewe my as ek verkeerd is, maar ek glo God stuur beskermengele om ons te behoed en bewaar en ek gaan nie myne afskrik nie.


Sunday, 24 February 2019

Trane


Psalm 30 : 6  … Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer

Elkeen van ons het ons al in ‘n vallei van droefheid bevind.  Daardie plek waar jy soveel trane stort dat jy dink jy sal nooit weer ophou huil nie.

Ek het die afgelope week deur ‘n bitter moeilike tyd gegaan.  Omdat ek so ‘n privaat mens is, kon ek ook nie met enige iemand daaroor praat nie.  Dit was net ek en God, maar moenie vir my jammer voel nie, want ek en God is ‘n menigte.  Dit was al wat ek nodig gehad het.  Natuurlik was dit ‘n bonus dat ek nie eens nodig gehad het om die storie aan hom te herhaal nie.  Hy het presies geweet wat gebeur het… wat my amper gebreek het.
Sulke tye kan ons, selfs terwyl ons huil, ons beroep op Sy beloftes.  Ek het elke belofte wat ek kon onthou opgeroep en met God daaroor gesels.  As hy dit alles, oor eeue heen kon doen, was dit waardeur ek gegaan het ‘n nietigheid in die groter prentjie. 

Hartseer en pyn is nie lekker nie, maar gemeet aan die lengte van ons lewens is dit nie so ‘n groot deel daarvan nie.  Tog is dit asof dit allesoorheersend raak wanneer ons, onsself in so ‘n tyd bevind.  Tyd staan stil.  Alles raak donker.  Ons ontwikkel tonnelvisie en daar is ‘n onsigbare mag wat ons wurg en aftrek in ‘n put.

Vandag wil ek vir jou bemoedig na aanleiding van my eie ervaring.  Satan is ‘n brullende leeu en hy lê op loer, maar hy is nie bestand teen die mag van God almagtig nie.  Hy sal jou slaan en skop terwyl jy lê, God sal jou trane afdroog en jou vertroos.  Hy sal hom verlekker in jou seerkry en jou allerhande leuens toesnou.  God neem jou terug na Sy Woord… wat die enigste waarheid is. 

Met God aan ons kant kan ons vannag onsself aan die slaap huil en môreoggend met vreugde wakker word, want by Hom is alles moontlik.

Thursday, 21 February 2019

Visie


Filippense 3 : 13  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Wanneer God mense gebruik gee Hy vir hulle ‘n visie.  Vir Moses was dit om die Israeliete uit Egipte te lei.  Vir Moeder Teresa was dit diensbaarheid.  Vir Florence Nightingdale was dit genesing en hoop aan sterwende soldate tydens die Krimoorlog.

Wat is jou visie?  Indien jy nie weet nie, bid daaroor.  Vra God om jou te wys wat jou visie is.  Wanneer jou visie jou seen en vir ander tot voordeel is, sal jy weet dat dit van God afkomstig is.  As jou visie egter is om die rykste persoon ter wêreld te word en alles te kan koop wat jou hart begeer, glo ek nie dat God jou gaan ondersteun nie.

Daar word gereken dat 40% van mense net oor hul drome praat.  Die volgende 40% is bereid om hard te werk en alles vir hul drome op te offer, maar hul het nie een nie.  Net 20% het ‘n droom en die geloof om dit te bewaarheid.  Realiteit is dat selfs hierdie 20% geen waarborg op sukses het nie, maar hul het ‘n 80% beter kans as die mense om hulle.

Ek glo dat jy alles moet probeer.  Dit is makliker om te erken jy’t ‘n fout gemaak as wat dit is om eendag te sê:  “As ek dit maar net probeer het!”  Go for it!  Wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Wednesday, 20 February 2019

Opgehef deur God


Psalm 75 : 8  Nee, dit is God wat verneder of verhef,

Sommige mense het ‘n geweldige minderwaardigheidskompleks.  Hulle besef nooit hul eie waarde nie.  Daar kan natuurlik goeie rede voor wees, maar iewers moet jy besef dat jy uniek en kosbaar is en nie die leuens glo wat ander jou probeer wysmaak het nie.

As dit nie gebeur nie, sal jy in die versoeking kom om jouself te probeer verhoog / ophef.  En dikwels word dit gedoen deur ander af te breek sodat jy beter kan lyk.  Weet jy wat is so wonderlik omtrent God se koninkryk?  Dit is dat jy nie op jou eie sukses kan bereik nie, maar dat jy dit ontvang van God.  Hy is die een wat verneder of ophef!

‘n Goeie voorbeeld is Dawid.  Sy broers het elkeen geglo dat hul die uitverkorene is om koning te word.  Dawid het in die veld voortgegaan om in nederigheid skape op te pas.  God laat haal hom uit die veld en maak hom koning!  Dit was nie vir Dawid nodig om sukses na te jaag nie.  Sukses is aan hom gegee!

Laat die kompetisie en alewige vergelykings aan andere oor.  Doen jy net wat God van jou verwag asof jy dit vir Hom doen en Hy sal jou ophef.  Om die suksesleer op jou eie te klim verg harde werk, swoeg en sweet van douvoordag tot laat in die nag.  Niks is ooit goed genoeg nie en daar word altyd meer van jou verwag.  Sodra jy jou doelwit bereik, verskuif hul die doelpale?  Klink dit soos jou lewe?  Voel jy ook asof jy ‘n os is wat ingespan is terwyl die baas jou looi om harder te probeer?

Volgens Matteus 11 : 30 is dit veel beter om jouself aan God te onderwerp as om vir ewig vir ‘n baas te werk.  My juk is sag en my las is lig.


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...