Monkey Life is een van my gunsteling TV programme. Dit gaan oor Monkey
World Ape Rescue Centre, sowat 65 ha bewaringsgebied in Dorset, Engeland. Dis in 1987 deur Jim & Alison Cronin
gestig. Jim is intussen oorlede, maar
Alison sit die werk voort. Hulle red
primate van regoor die wêreld en hervestig hul in ‘n omgewing wat hul so
natuurlik as moontlik vir die diere probeer maak. Geen geld of moeite word ontsien nie.
Van die diere is afkomstig uit laboratoriums waar
hul vir wetenskaplike toetse gebruik is.
Sommige het nog nooit die buitelug gesien nie, wat nog te sê bome of
gras. Ander is as troeteldiere aangehou,
tot die diere uit verveling en frustrasie aggressief begin raak en dan in hokke
toegesluit is. Sommige toon kompulsiewe
gedragspatrone, soos om aanhoudend op en af te spring omdat dit al was wat hul
in die hok kon doen.
Hoekom kyk ek na iets so hartseer? Omdat dit my tot trane van blydskap dryf om
te sien dat daar nog mense is wat uit hul pad gaan om op te maak vir wat
hierdie diere deurgemaak het – en ek geniet die diere se manewales.
Daar is 17 verskillende tipe primate en meer
as 200 inwonertjies, van marmoset apies, tot ‘ugly monkeys, sjimpansjees, woolies, oerangoetangs... Elkeen het ‘n naam en
sy/haar eie persoonlikheid. Wat my veral
opval is die kundigheid van die werknemers van die park. Ek verkyk my aan die vindingrykheid waarmee
die personeel die diere versorg. Hulle
doen navorsing oor die diere se natuurlike habitat en veral voertyd kom die personeel se kreatiwiteit na vore. Party van die spesies sal bv met hul
vingertjies grawe vir gom in bome, so daar word gate in die hout geboor en
stropies ingespuit sodat die apies dit kan uitvis. Vir ander word weer wurmpies in verskillende
vorms weggesteek. Hulle maak
interessante ‘treats bv joghurt en jellie wat gevries word en dan vir die diere
gevoer word. Sommige kry baddens jellie
met stukke waatlemoen ens daarin. Dit is
absoluut fasinerend.
Daar is ‘n hospitaal, maar hulle opereer slegs as
dit die enigste uitweg is. Soms verloor
hul van die diere. In een episode vertel
hul van ‘n aap wat in die park gebore is d.m.v. ‘n keisersnee. Sy ma is oorlede by geboorte en sy pa het
vreeslik getreur, maar uiteindelik het daar ‘n baie spesiale en hegte band
tussen pa en seun ontstaan en oor die jare het die twee onafskeidbaar geword. Eendag let die pa op dat iets fout is met sy
aapseun en die personeel let op hoe hy alles probeer om hom op te beur en te
laat eet, maar die outjie kan eenvoudig nie.
Uiteindelik het hulle hom geopereer.
‘n Gewas het sy organe oorgroei en hulle kon dit nie verwyder nie. Die personeel het saam besluit om hom die pyn
te spaar en eerder uit te sit onder narkose.
Trane het vryelik gevloei in die teater.
Die ergste was om die pa te sien sit en wag dat sy aapseun moet
terugkom. Daardie oë… dit kon net sowel
‘n menspa gewees het. Ek het nog nooit
soveel smart in twee pikswart ogies gesien nie.
Dis asof jy kan sien hoe hy sit en dink… eers my vrou en nou my seun… Selfs
sy liggaamshouding was een van gelatenheid.
Die pa is nou die enigste van sy soort en die dieretuin is besig om te
kyk wat hulle vir hom kan doen. Hulle is
bang om hom in die bome los te laat waar hy en sy seun soveel gelukkige oomblikke deurgebring het omdat hulle bang is hy sal van sy kop af
raak as hy nie sy seun kan vind nie, maar hulle glo dat sy enigste anker sy
bekende omgewing is – sy aaphuis in die dieretuin.
Wat ‘n wonderlike kontras teenoor
dieremishandeling. Hierdie mense vergoed
vir al die hartseer, pyn en onreg wat soveel andere regoor die wêreld
onskuldige diere aandoen.
Dra hul asseblief in gebed op. Genesis 24 : 26 Toe het die man gekniel en tot die Here
gebid En as jy enigsins kan gaan
besoek hulle in Engeland. Daar is ook ‘n
oerangoetang van Suid-Afrika, Osjeen.
Haar eienares wou haar die geleentheid gee om weer tussen haar eie mense
te wees en Monkey World het haar kom haal.
PS: Die personeel het nou 'n gepaste wyfie vir Sam opgespoor. Omdat hy al ouerig is, wou hul nie 'n jong maat vir hom kry nie. Die dame is 18 jaar oud en ek kan nie wag om te sien hoe hy oor haar gaan voel nie.
No comments:
Post a Comment