Jeremia 17 : 17 “Here, moenie my nou verlaat nie! U alleen is my toevlug as onheil dreig.”
Die afgelope ruk was seker een van my
donkerste tye. Die lewe het my gepootjie
en ek was totaal en al magteloos. Menige dag was die teksvers hierbo my enigste anker. Noudat
ek weer logies op die gebeure kan terugkyk, is dit eintlik ‘n bedekte
seëning.
Dis nie asof ek nou dink dit was sommer
onbenullig nie, nee, dit is net dat ek nou God se hand daarin kan sien. Al die gebeurtenisse wat vir my gevoel het
soos onoorkomlik, was deel van God se plan.
En die beste van alles is dat wanneer jy, figuurlik gesproke, op die
naat van jou rug lê, is daar eintlik net een rigting om te kyk, en dit is op.
Gedurende hierdie tyd van algehele swakheid…
verlatenheid… mismoedigheid… raadop wees… was daar een bron van krag: God.
Ek kon myself nie help nie, maar Sy krag het tot volle werking
gekom.
Wanneer mense ‘n terugslag ervaar, is ons so
gou om raad te gee: “Man, dis soos fietsry.
Klim so gou moontlik op en ry weer.”
Wat ons nie besef nie is dat daar verskillende grade van besering is
wanneer iemand van ‘n fiets afval en verskeie faktore wat tot die besering kan
bydra. Almal kan nie dadelik weer opklim
en ry nie. Party is net nerf-af terwyl
ander se bene in gips is.
Wat ek wel wil doen is om jou te verseker
dat jy God maar kan vertrou. Hy is ‘n
waarmaker van Sy Woord en Hy sal jou nie in die steek laat nie. Daarvan kan ek getuig.
No comments:
Post a Comment