Monday, 7 April 2014

Bou 'n groter dam

Efesiërs 1 : 19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag As ‘n boer ‘n dam op sy plaas het wat net ‘n sekere hoeveelheid water kan opvang en dit reën meer as wat die dam kan hanteer, sal die res wegspoel en elders ‘n plek vind om op te dam. Die probleem is nie die hoeveelheid water nie, maar die grootte van die dam, met ander woorde die vermoë van daardie dam om meer as dit wat God voorsien te behou vir die maande wat voorlê. As die boer die dam vergroot of nog ‘n dam bou, sal hy meer water kan opvang en dit sal dan langer in sy behoeftes voorsien. Dis dieselfde met God se voorsiening. Hy is gereed om te voorsien, in oorvloed, maar ons is nie altyd gereed om soveel te ontvang as wat Hy vir ons in gedagte het nie, want ons reken onsself nie waardig genoeg nie of ons staar ons blind teen menslike beperkings. Die feit dat werkloosheid ‘n wêreldwye probleem is beteken nie dat God nie vir jou kan deurkom nie… Die rentekoerse, eskom en die petrolprys mag meer styg as jou verhoging, maar dit beteken nie dat God nie vir jou ‘n toekoms met meer as genoeg gereed het nie. Ons moet onslae raak van ons klein-dammetjie sindroom en groter damme begin bou sodat ons gereed is om God se oorvloed te ontvang. Ons dien ‘n Almagtige God wat nie aan bande gelê word deur alledaagse probleempies nie. Suinigheid of net genoeg is nie deel van God se woordeskat nie. Hy hou van bederf en gee in oorvloed omdat Hy jou ontsettend liefhet. Dit wat ons glo sal ons werklikheid word. Kies om in God se uitermatige voorsiening te glo. God staan gereed om die sluise oop te trek. Van vandag af, vergroot jou kapasiteit om te ontvang. Dink groot en herinner jouself aan God se almag deur Sy Woord in te drink. Elke onmoontlike daad wat in die Woord opgeteken is, is bevestiging van waartoe Hy in staat is. Niks het verander nie, behalwe dat jy dalk voel God sal tog nie dit of dat kan doen nie… of dat jy dit nie waardig is nie… of dat jy dit nie van Hom kan verwag nie omdat jy ‘n sondaar is… Kry daardie gedagtes uit jou kop en fokus op die beloftes in Sy Woord, maar… sorg dat jou dam groot genoeg is.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...