Thursday, 10 April 2014

Hou op terugkyk

Filippense 3 :13 … Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. In Delhi, Indië, is ‘n bestuurder net verantwoordelik vir dit wat voor hom of haar aangaan. Jy kan enige tyd van baan verander of stop en dit is jou plig om te sorg dat jy op motoriste voor jou fokus sodat jy uit hul agterkante bly. Dit beteken dat jy nooit in ‘n truspieëltjie kyk nie en dat sy-spieëls doelbewus teruggevou of verwyder word. Buitendien is die spasie so min dat spiels nie lank aan ‘n motor bly as hulle oopgevou is nie. ‘n Bestuurder fokus dus net vorentoe. Hierin lê egter ‘n groot les opgesluit. Ons sleep vir jare dit wat ons lankal agter moes laat saam… ons kyk voortdurend terug en dit verhoed ons om op die toekoms te fokus. Nog ‘n les wat ons hieruit kan leer is dat ons soms te veel energie vermors deur ons te steur aan dit wat rondom ons aangaan… ons is bekommerd wat ander sê… ons is bekommerd hoe ons lyk… ons is bekommerd oor wat ander van ons dink… ons is bekommerd omdat ons bekommerd is… As jou lewe ‘n motor in Indië was, sou jy jou eerder oor jou eie welstand bekommer het. Dit klink dalk selfsugtig, maar te veel mense sorg vir almal rondom hul, wat hul dikwels misbruik, eerder as om ‘n bietjie na hulself om te sien. Die paaie in Delhi is vol interessante mede-padgebruikers soos byvoorbeeld kamele, olifante, motorfietse, 3-wiele, voetgangers met karretjies waarop hul hul ware stoot en dan die sogenaamde heilige koeie. Blykbaar sal jy nie veel oorkom as jy ‘n voetganger doodry nie, maar behoede jou as jy ‘n koei raakry. Dus is dit amper soos ‘n hindernis-wedren. Net so ervaar ons ook hindernisse langs ons lewenspad, maar weerens is dit ‘n geval van waarop jou oë gefokus is. Hndernisse sal daar altyd wees. Moenie dat hulle jou terughou of van koers af dwing nie. Bly gefokus. Terloops as jy gedink het korrupsie in ons land vier hoogty, dan moet jy in Indië gaan bestuur. Dit is heeltemal in orde om ‘n verkeerskonstabel om te koop, maar selfs onder korruptes is daar ‘n erekode, want die verkeerskonstabel moet jou kleingeld gee. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...