Spreuke
17:14 Om rusie te begin is om ‘n damwal te breek; staak liewer die getwis voor
die vloed jou tref
Ons het aangetroude familie gehad met ‘n oom en tannie
wat voortdurend rusie gemaak het, maak nie saak wie teenwoordig is of waar hul
was nie. Hulle het oor alles verskil en
die een het nooit na die ander se mening geluister nie. Hierdie leefstyl is ook na die volgende geslag
oorgedra, want die kinders het ook nooit beleefd teenoor die ouers of hul
lewensmaats opgetree nie, want die enigste verwysingsraamwerk was die van hul
ouers wat voortdurend op die oorlogspad was.
Soveel as wat hul baklei het, kon hul ook nie sonder mekaar leef
nie. Die oom is eerste oorlede en ses
maande later die tannie. Die damwal in
die geval, het jare gelede al gebreek en ‘n vloed het oor die gesin gespoel wat
almal vernietig het.
Dit is altyd vir my so interessant dat verliefdes so
saggies met mekaar kan praat en mekaar steeds kan hoor, want hulle is ingestel
op mekaar se behoeftes en gevoelens. Wanneer die liefde vervaag, dryf twee mense
van mekaar weg, wat ‘n gaping veroorsaak, en dan word daar nooit gefluister
nie, maar word dit ‘n gil kompetisie. Terwyl
jy op jou hardste jou mening probeer oorbring, sal jy nooit na die ander
persoon luister nie, want terwyl die ander persoon teruggil is jy alreeds besig
om jou teenargument to formuleer. So
daar is geen wenners, net ‘n damwal wat besig is om mee te gee, want elke rusie
veroorsaak nog ‘n krakie.
As jy in ‘n verhouding is waar julle sukkel om mekaar
uit te hoor, gebruik die pen beginsel.
Die persoon wat die pen vashou praat en die ander persoon mag nie die
spreker in die rede val nie. As die
persoon wat die pen vashou klaar sy/haar standpunt gestel het, word die pen
oorgegee en nou is die rolle omgeruil.
Sodoende kry elkeen voldoende ‘lugtyd’ en voel dat hy/sy gehoor
word.
Die lewe is te kort om in onvrede met mekaar te
leef. Alle verskille kan oorbrug word as
daar liefde is en ‘n wil om mekaar te verstaan.
Vra God, wat jul saamgebind het, om jul te help om jul verskille te
oorkom.
No comments:
Post a Comment