Tuesday, 13 May 2014

Hardwerkende mense



Spreuke 13 : 4  Die luiaard se honger word nie gestil nie;  hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.

My hardwerkende haarkapper en ek ken mekaar nou al baie jare.  Oor die jare het ons in mekaar se lief en leed gedeel.  Saam met hom was ek bly toe hy sy tweede vrou ontmoet het nadat hy soveel hartseer met sy egskeiding beleef het. 

Met albei hul dogtertjies se geboorte was ek saam met hom verheug oor die seën op hul huwelik.  Ongelukkig moes ek oor die afgelope paar maande aanskou hoe ook hierdie huwelik deel van die egskeiding-statistiek word.  Niks wat hy doen, kon sy vrou keer op haar pad van self-vernietiging nie. 

Oplaas moes hy die huis verkoop en ‘n plekkie huur waar hy en die twee kleintjies ‘n nuwe lewe kon begin.  As ek vra of ek kan help, glimlag hy net en sê:  “Nee dankie, ek het meer as genoeg.” 

Elke storie het verseker twee kante, maar wat ‘n vrou dryf om haar jeug te herwin ten koste van twee onskuldige kinders sal ek nooit verstaan nie.  Hoe ‘n hardwerkende man soveel hartseer kan oorleef en hanteer, weet ek wel, want my haarkapper het in hierdie hartseer tyd God van vooraf leer ken en sy hele lewe draai nou om Hom.  

Toe die huis onlangs vinnig verkoop sê ek vir hom dat hy darem gelukkig is om so gou ‘n koper te kry.  “Nee, “ herinner hy my,” dis God wat so vinnig ‘n koper gestuur het.”  Die kopers het net verby die huis gery en die agent geskakel om te sê hulle voel die huis praat met hulle.  

 Dankie Here, dat u in hardwerkende mense se behoeftes voorsien.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...