Psalm 119: 103 Hoe aangenaam is U woord, soeter as heuning
in die mond.
John Deist het jare gelede
die Evangelical Christian Publishers Association by ‘n boekuitstalling in Moskou
verteenwoordig. Die owerhede het
teësinnig ingestem dat hulle ‘n beperkte aantal Rusies vertaalde Nuwe
Testamente mag uitdeel. Mense het
tougestaan om Bybels te ontvang en kort voor lank was al die Bybels uitgedeel.
‘n Man wat nie ‘n Bybel ontvang het nie, het gevra
of hy asseblief die kartondoos waarin die Bybels was mag kry? John was baie verbaas en wou weet wat hy met
‘n leë kartondoos wou maak. “Dis nie net
‘n kartondoos nie, dit is heilig omdat dit die Heilige Woord van God vervoer
het. Mag ek dit asseblief kry?” het hy
gevra terwyl trane oor sy wange gestroom het.
Lê jou Bybel dalk en stof vergader? Dalk het jy lanklaas daaruit gelees. Dalk voel jy dis ou nuus; nie meer relevant nie. Dalk voel jy, jy kry nie ‘n boodskap daarin
nie. Daar is steeds mense wat nie ‘n
Bybel besit nie… mense wat ‘n begeerte het om die waarheid van die Woord in te
drink.
Ons het onlangs ‘n naweek
op die platteland deurgebring waar winkels nog 13h00 op ‘n Saterdag
toemaak. Skielik het ek besef hoe
bevoorreg ons is om ter enigertyd by ‘n winkel kan instap. Wanneer jy gewoond raak aan iets, sien jy nie
meer die waarde daarvan raak nie. Laat ons altyd besef hoe bevoorreg ons is om
ter eniger tyd ‘n Bybel te mag oopslaan en lees... dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.
No comments:
Post a Comment