Wednesday, 7 May 2014

U weet alles



Psalm 139 : 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

My seun het ‘n vistenk en ek verkyk myself gereeld aan die vissies.  Elke beweging van hul is duidelik sigbaar, selfs as hul in hul skeepswrakkie verdwyn, weet ek presies waar hul is. Net so kan God ook elke beweging van ons dophou.

So sit en kyk ek een middag deur die vliegtuig se klein venstertjie terwyl ons opstyg van OR Thambo Internasionaal en met so ‘n spoggerige Kaapse draai links koers kies in die rigting van Kaapstad. Juis toe kom hierdie vergelyking met die vistenk by my op en besef ek dat ek net ‘n magdom huise, winkels en motors kan sien, maar God kan elke mens daarbinne sien, en Hy ken elkeen se gedagtes en dade.  Hy weet wie pyn ervaar… Hy weet wie vreugde ervaar… Hy weet wie Hom dien…  wie oneerlik is… wie Hom nodig het… wie op Hom vertrou…  En ek kan nie help om te wonder, wie gereed is om Hom te verwelkom as Hy nou op een van die wolke rondom my sou verskyn om Sy kinders te kom haal nie.

Met  die landing in Kaapstad is daar dik mis en ek besef dat net die vliënier se opleiding, ervaring, sy instrumente en die beheertoring, ons veilig op die grond kan kry.  Net so moet ons ook sorg dat ons “opleiding” (Bybelkennis) geskied, en die beheertoring (God) vertrou om ons veilig in die hemel te laat ‘land’.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...