Prediker 10 : 10 Dit betaal
om jou verstand te gebruik.
Sukses is die spil waarom
alles draai. Van kleins af word kinders
aangemoedig om sukses te behaal. Sodra hul
begin skoolgaan, word hul punte die maatstaf van hul sukses, al dan nie. Op die sportveld word diegene wat uitblink
geprys en op die hande gedra.
Teen die tyd dat die kind
skool verlaat, word daar alreeds onderskei tussen diegene wat suksesvol is en
diegene wat gemiddeld tot onder-presteerders is. Presteerders studeer verder. Gemiddeldes begin werk, as hul gelukkig is,
op die heel onderste sport van die suksesleer.
Boekwinkels is stampvol
boeke wat jou kitsraad bied vir sukses.
As daar werklik ‘n resep vir sukses was, sou daar net een boek gewees
het, of hoe? Daar is egter ‘n groot
verskil tussen sukses en wysheid. Nie
almal wat suksesvol is, beskik oor wysheid nie.
Bekende skrywer, Deon
Opperman, het onlangs ‘n groot waarheid kwytgeraak toe hy gesê het dat hy die
meeste uit sy mislukkings geleer het, maar niks uit sy suksesse nie.
Wysheid, of om jou verstand
te gebruik, is die maat wat God vir jou afgemeet het - die perfekte maat om jou tot die hoogtes te
neem wat Hy vir jou ingedagte het. Dit mag jou dalk nie ryk en suksesvol maak
nie, maar dis volmaak volgens Sy plan.
No comments:
Post a Comment