Handelinge 20 : 32 Maar nou
vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is
magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al
die gelowiges as erfdeel belowe het.
Nadat Jesus opgevaar het na die Hemel, het Hy ons nie net aan ons
eie genade, of nog erger, aan die genade van ander oorgelaat nie. Ons is aan God se genade toevertrou.
Wanneer jy na die geweldadigheid tydens stakings kyk, of jy
luister na politieke debatte, kan jou keel toetrek. Baie mense glo dat daar geen toekoms in
Suid-Afrika is nie. Ons het egter ‘n toekoms
hier. Dit is ons geboorteland; die
enigste land wat meeste van ons ken.
Daarom kan ons, ons op die Woord beroep wat magtig is en wat ons
verseker dat God ons sal opbou en in seëninge laat deel.
Dis wel nodig om ons knieë te begin buig, om as volk onsself voor
God te ootmoedig, en God Almagtig te vra om in te tree vir ons land en sy
mense.
Suid-Afrikaners het afgedwaal.
Soveel mense dien God net daardie uur in die kerk, daarna gaan die lewe
voort en is daar nie plek vir God en wat reg is nie. Dis ‘n kwessie van oorlewing. Ons plaas ons vertroue in besittings, mag en
al wat ‘n ding is, behalwe in God. God
kan mense se harte verander. God het
Farao ‘n les of twee geleer en vele ander wat Hom probeer teegaan het, het sleg
tweede gekom.
Laat elkeen van ons van
vandag af vir vrede, verootmoediging en naasteliefde in ons land bid.
No comments:
Post a Comment