Psalm 103:17 Maar onverganklik is die liefde van die Here
vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte,
My dierbare kind, vandag wil Ek vir jou dankie sê vir die glimlag
wat jy op jou gesig het. Ek weet dat jou
hart stukkend is. Ek weet dat jy die
trane moet terugsluk, maar ten spyte daarvan druk jy moedig deur.
Daar is soveel keer dat My Vaderhart wil breek as Ek jou sien
swaarkry. Male sonder tal wil Ek jou net
vasdruk en verseker Ek weet waardeur jy gaan; soveel keer dat Ek wens Ek kon in
jou oor fluister dat Ek by jou is sodat jy kan moedskep.
Die manier waarop jy jou werk doen is vir my ‘n riem onder die
hart, My kind. Jy gee altyd jou bes, en
Ek sien dit raak. Jy word nie altyd
regverdig behandel nie, maar jy daal nie tot op hul vlak nie. Mooi so, My kind.
Ek is so trots op jou omdat jy versoekings weerstaan. Die ou wêreld het ‘n bietjie verander vandat
Ek laas die aarde bewandel het, maar as Drie-Enige-God, het Ek dit geweet. Drank, dwelms, pornografie, buite egtelike
verhoudings, oneerlikheid… dis alles daar, maar jy onderhou My Gebooie. Ek wil hê jy moet weet dat Ek jou vertrou en
sien hoe jy daarna streef om My te behaag, ten spyte van die stryd wat soms
binne jou woed.
Ja, Ek sien ook jou opstandigheid; hoor hoe jy vra: “Hoekom ek,God? Kan dit nie net vir ‘n verandering ‘n bietjie
beter met my gaan nie?” Vandag wil Ek
vir jou vra om My te vertrou. Soos wat
Ek vir Jeremia beloof het, kan Ek vandag ook vir jou beloof dat My
toekomsplanne vir jou rooskleurig is. Weet
vandag dat seëninge oor jou uitgestort gaan word wat jou sprakeloos gaan laat.
Daar is nog soveel wat Ek jou wil leer en aan jou wil
openbaar. Daar is nog soveel potensiaal
binne jou opgesluit. My kind, Ek is vir
jou SO oneindig lief. My liefde is
onverganklik en eendag wanneer jy hier by My aansluit, gaan Ek alles waaroor jy
nou wonder mooi aan jou verduidelik. Vertrou
My net.
Dankie dat jy My dien en ook die Woord aan ander verkondig. Daar is nog so baie siele wat gered moet
word. Moet asseblief nie ophou nie.
Baie dankie, my dierbare kind.
Jesusliefde
No comments:
Post a Comment