Thursday, 17 July 2014

Raak iemand se lewe vandag aan



Lukas 6:31 Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

Een stormagtige nag, baie jare gelede, gaan ‘n bejaarde egpaar ‘n klein hotel in Philadelphia, Amerika, binne.  Dis kort na middernag en hul sien nie kans om verder in die verskriklike stormweer te bestuur nie.  Druipnat nader hulle die ontvangs toonbank en vra of daar ‘n kamer vir die nag beskikbaar is.
Die vriendelike bestuurder wat diens doen as ontvangsklerk, verwelkom hul met ‘n breë glimlag en verduidelik dat daar drie konverensies in die dorp plaasvind en dat daar nêrens plek vir ‘n muis is nie.  “Maar,” sê hy, “ek sal nooit ‘n dierbare paartjie soos julle hierdie tyd van die nag in die reën uitstuur nie.  As julle nie omgee nie, kan julle altyd my kamer gebruik.  Dis nou wel nie luuks nie, maar dit sal darem vir julle ‘n plekkie bied om jul koppe neer te lê.”
Die paartjie sê eers nee, dat hulle hom nie van ‘n slaapplek kan ontneem nie, maar hy verseker hul dat hy in elk geval deurnag aan diens is en daarom kan hulle gerus die kamer gebruik.
Uitgerus die volgende oggend, gaan betaal hul vir die verblyf.  Die ouer man spreek sy dank uit en sê:  “Jy’s die tipe bestuurder wat jou eie hotel behoort te besit.  Miskien sal ek eendag vir jou een bou.”
Natuurlik lag hul lekker saam daaroor en op pad praat hy en sy vrou weer oor die uitsonderlike bestuurder en hoe skaars toegewyde personeel is wat altyd bereid is om ‘n plan te maak vir ‘n kliënt.
Twee jaar gaan verby en die bestuurder het teen daardie tyd al die twee bejaardes vergeeet, toe hy ‘n brief van die man ontvang.  Met die lees van die brief, onthou hy weer die twee wat die nag in sy kamer geslaap het.  In die brief word hy uitgenooi om hulle in New York te kom besoek, en ‘n vlugkaartjie is aan die brief vasgeheg.
In New York aangekom, laai die bejaarde hom op en neem hom na die hoek van “5th Avenue en 34th Street”.  Hy wys na die pragtige gebou, wat duidelik nuutgebou en modern is met ‘n toring wat hoog die lug in strek.
Die jong man staan en kyk die gebou bewonderend op en af en sê hoe beindruk hy daarmee is. 
Die ou man glimlag en sê:  “Dit, jongman, is die hotel wat ek gebou het vir jou om te bestuur.”
Oorbluf, kyk hy na die ou man se gesig, wat dood ernstig lyk:  “U grap seker,” lag hy senuweeagtig.
“Dit is beslis nie ‘n grap nie.  Die hotel is joune, vir so lank as wat jy dit wil bestuur.  Stel jy belang?”
Die ouer man se naam was William Waldorf-Aster, en die indrukwekkende struktuur was die oorspronklike Waldorf-Astoria hotel.  Die jong man wat die eerste bestuurder geword het, was George C Boldt.  Hy het nooit kon dink watter uitwerking een goeie daad op sy lewe sou hê nie.

“Moenie bang wees om uit te reik en iemand se lewe aan te raak nie, jy weet nooit wie se hart jy in die proses aanraak nie.”

Onthou om jou goeie daad vir iemand te doen op die herdenking van Madiba se verjaarsdag- raak iemand se lewe aan.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...