Sunday, 20 July 2014
Skoonheid vergaan
Spreuke 31:30 Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie…
Mooi en beroemde mense se gesigte op die voorblad van ‘n tydskrif, is ‘n seker manier om sirkulasiesyfers op te stoot. Sonder uitsondering is hierdie voorbladfoto’s die van individue wat perfek is in elke opsig. Ons begeer om soos hulle te lyk of ‘n leefstyl soos hul te handhaaf en meeste is nogal sag op die oog. Jan Alleman kan maar net leepoog na hul staar en stilweg hul perfekte vel, hare, spierwit tande of liggaamsbou begeer. Toegegee, almal se idee van ‘mooi’ is nie dieselfde nie. Ons het elkeen ons eie beeld van die perfekte liggaam ingedagte en dit is gewoonlik dit wat ons as ons eie swakpunte beskou. Kort mense begeer om so lank soos die modelle te wees, brunette begeer om ‘n blondine te wees, ens, ens, ens.
Women’s Weekly het vandeesweek behoorlik amok in die media gemaak met Turia Pitt op hul voorblad. As slagoffer van ‘n veldbrand waartydens sy 65% brandwonde opgedoen het en selfs na meer as 100 operasies oor meer as twee jaar, is haar littekens steeds duidelik sigbaar. Vir sommige mense mag dit ontstellend wees om so iemand op ‘n voorblad te sien. Vir ander mag dit voorkom asof sy uitgebuit word, maar ek bewonder Women’s Weekly se redaksiespan dat hul die waagmoed gehad het om iemand wat vanuit ‘n menslike perspektief nie volmaak is, op hul voorblad te laat pryk.
Sy mag dalk nie meer die beeldskone vrou wees wat sy was voor die tragedie haar lewe tot stilstand geruk het nie, maar daar is ‘n innerlike skoonheid wat uit haar straal, ‘n waagmoed wat jou wil laat uitreik na haar en ‘n trots wat daarop dui dat sy ten spyte van alles, as wenner uit die stryd getree het.
Statistiek bewys dat mooi mense ‘n veel makliker lewe as hul minder mooi eweknieë het. Dit is hoogtyd dat ons ophou om mense op grond van hul voorkoms te beoordeel. Elke mooi gesiggie word deesdae ‘n TV aanbieder, of haal die voorblad, of speel in ‘n sepie, of ryk ‘n CD uit... Beeldskone tennissterre kry veel meer publisiteit as hul mededingers, en so ook ander sportsterre. Oorgewig mense, gestremdes, doodgewone mense, word selde, indien ooit ‘n kans gegun. Turia Pitt se waagmoed om haarself op ‘n voorblad bloot te stel, bring hoop vir ander wat minder perfek is. (Die Burger 1 Julie 2014)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Inligting
Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf. Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer. Daar is egter 'n tyd waa...
-
Deuteronomium 8:10 “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. ...
-
Hemelse Vader, vandag is my huweliksdag en my hart jubel van vreugde en geluk. Gee dat die vreugde van hierdie dag nooit sal verdof of oms...
-
Psalm 23 : 6 Net goedheid en guns sal my volg, al die dae van my lewe Daar is soveel mense wat geluk najaag, wat wonder wanneer hul ski...
No comments:
Post a Comment