Matteus 6 : 27 Trouens, wie van julle kan deur
hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?
Wys my ‘n mens wat hom nie bekommer nie. Ek weet daar is mense wat regtig die vermoë
het om hul oor byna niks te bekommer nie. Hulle is so positief oor alles; vir hulle is die glas altyd half vol, maar
ook hulle sal erken dat daar nagte is dat die bekommernis-spoke hul laat
wakkerlê.
Dan kry jy die ander uiterste; diegene wat
die bobbejaan agter die berg gaan haal en hul bekommer oor dinge wat hulle ‘dink’
gaan of kan gebeur. Vir hulle is die
glas altyd half leeg. Hulle sien die ergste in alles en die tragiese nagevolge
is dat dit wat hul dan oor praat, ander ook bang maak en laat begin bekommer.
Nou ja, ek sê nie ons moet alle realisme
verloor nie. Daar is genoeg onsekerhede
en veranderinge wat daagliks plaasvind om jou te ontsenu, maar kom ons kyk na
die teks hierbo. Bekommernis gaan ons nêrens
bring nie. Daardie stories wat jy via
die riemtelegraaf hoor, het dikwels stertjies by. Die veranderinge waarvan jy hoor kan gebeur
of dit kan dalk nooit gebeur nie. Feit is, ons maak onsself siek deur
bekommernis oor dinge waaraan ons eintlik niks kan doen nie.
Neem vandag ‘n besluit om elke bekommernis
aan God oor te gee. Hy is immers in
beheer, nie jou baas, die skuldeisers of die regering nie – net God.
No comments:
Post a Comment