Psalm 42 : 2 Soos ‘n wildsbok
smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.
Hierdie is ‘n teks wat ek nooit mooi verstaan het nie,
maar ek begin dit al so ‘n bietjie verstaan.
Binne my is ‘n drang om meer van God te leer, om
Hom te verstaan… om Sy hart te verstaan.
Hoe kon Hy dit oor Sy hart kry om Sy Enigste Seun te stuur om vir
sondaars soos ek te sterf? Wat maak dat
God se liefde vir ons so grensloos is?
Wees nou maar eerlik, meeste mense voel vere vir
ander, of vir God. Ons was gedurende die
vakansie by ‘n oord saam met ander mense in ‘n swembad en dit het my verstom
hoe selfgesentreerd mense is. Hul, of
hul kinders sal sien jy staan rustig die lafenis en geniet, maar dan kom spring
hul bo-oor jou kop om reg voor jou te ‘bom’.
Kinders sou sommer met nat voete oor ander se handdoeke op die gras
loop. My ouers het my geleer dat jy
ander in ag neem. Ek sou ‘n loesing kry
as ek dit sou waag om ‘n grootmens nat te spat of op iemand se handdoek te
trap.
Oujaarsaand het ons sommer so in die skuur
geskoffel op maat van pragtige Suid-Afrikaanse musiek. Weereens was ek verstom om te sien hoe party
ander as’t ware uit die pad stamp. Die
baan is tog groot genoeg vir ons almal en dit is nie ‘n resies om te sien
hoeveel rondtes jy kan voltooi nie.
Maar te midde van hierdie klein jakkalsies, het ek
besef dat dit my naaste is vir wie Jesus aan die kruis gesterf het en dat ek
die ander wang moet draai, want dit is wat Hy sou doen.
No comments:
Post a Comment