Filippense 3 : 14 Ek span my in
om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my
geroep het in Christus Jesus.
Partykeer bereik ons ‘n plek in ons professionele
lewe waar ons vashaak. Ons slaan tent op
en kap die penne lekker diep in. Dan bly
ons daar. Later is dit nie meer so
gerieflik nie en ons begin mor en kla, maar ons bly waar ons is.
Is dit tyd dat jy jou tentpenne uittrek en kamp
afslaan sodat jy kan aanbeweeg? Vra
jouself af wat veroorsaak dat jy nie wil aanbeweeg nie. En wees sommer lekker eerlik met
jouself. Soms is dit omdat ons nie
harder wil werk nie… soms is dit omdat ons en die baas of kollegas ‘n goeie
verhouding het… of dalk is jy gerieflik naby die werk en nie lus vir
vroeër opstaan of verkeer nie.
Jy weet seker teen die tyd dat niks gaan verander
as jy dieselfde dinge doen wat jy in die verlede gedoen het nie. Verandering is nodig… om die waarheid te sê,
dis noodsaaklik.
God het fantastiese planne vir jou, maar jy sal uit
jou gemaksone moet tree sodat jy die geleentheid kan kry om te groei en die
mens te word wat Hy jou bestem het om te wees.
In die proses sal jy God ook beter leer ken en verbaas staan wanneer Hy
voor jou uitstap.
No comments:
Post a Comment