Prediker 11:8 As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles
dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook
baie is. Alles kom tot niks.
Verlede week word ons ontvangsdame (63 jr) skielik
gehospitaliseer met erge maagpyn. Vele
toetse, skanderings en biopsies later
kry ons vanoggend die nuus… kanker van die pankreas. Die prognose… 2 maande. Die twee dogters vlieg oor die naweek huis
toe en dan gaan hul ‘n familievergadering hou om te besluit of sy vir
behandeling moet gaan of liewer die laaste twee maande soveel as moontlik saam
met haar gesin deurbring. Wat 'n keuse!
Behalwe vir die ontsettende hartseer en empatie, is
daar soveel vrae wat onmiddellik deur jou kop maal. Hoe moet dit voel om te weet jy het net twee
maande oor? Hoe gaan jy voort, wel
wetend dat elke dag ‘n dag nader aan die einde is? Maar dan… is dit nie maar elkeen van ons se
lot nie? Elke dag wat verby gaan, is ook
vir ons ‘n dag nader aan ons dood… al verskil is dat ons net nie weet wanneer
nie. Vir al wat ons weet, sterf een van
ons nog voor haar.
Sal jy ooit lank genoeg leef? Hoe lank is lank genoeg? Oor
die naweek luister ek na ‘n oom van 91 en hy sê hy is nog so gesond en het nog
soveel om te doen, hy kan nog maklik vyftien jaar leef. Hoe
moeilik die lewe ook al is, min van ons wil uit eie vrye wil sterf.
Die enigste stukkie positiwiteit hieruit, is dit dat dit
ons net weer herinner hoe kort die lewe is en dat niemand van ons weet wanneer
ons uurglas gaan leegloop nie. Ons kan
en moet eenvoudig elke dag gryp en die beste daarvan maak en... ons moet seker maak ons saak met God is reg.
No comments:
Post a Comment