Lukas 18:1 Jesus
het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet
aanhou bid sonder om moedeloos te word
Het jy ook
eendag lank gelede daarvan gedroom om verder te studeer, maar nooit die
geleentheid gekry nie. Wat ookal die
rede, ek hoop dat vandag se verhaal van Elizabeth Blackwell jou vandag nuwe
moed sal gee om jou drome van voor af na te jaag.
Elizabeth
Blackwell is gebore op 3 Februarie 1821, die derde van 9 kinders. Nadat haar pa sy suiker raffinadery in ‘n brand
verloor, besluit hy om met sy familie na Amerika te verhuis. Sy was redelik liberal in haar denke. Na
skool besluit sy dat sy nie van ‘n man afhanklik sal wees om vir haar te sorg
nie, sy gaan vir haarself sorg. Dit was
heeltemal ongehoord in daardie dae waar ‘n dame so gou moontlik getrou het en
na haar man en kinders omgesien het.
Sy aanvaar ‘n
pos as onderwyseres. ‘n Vriendin vertel
haar van ‘n mediese situasie wat sy het en noem dat sy dokter toe moet gaan,
maar dat dit darem beter sou gewees het as daar vrouedokters was. Dit laat Elizabeth wonder hoekom daar nie
vrouedokters is nie. Sy doen bietjie
navorsing en vind uit dat sy 3000 dollar nodig het om medies te studeer. Aangesien sy altyd in siektes en die menslike
anatomie belanggestel het, begin sy dadelik fondse bymekaar maak.
Min het sy
geweet dat geld die minste van haar probleme sou wees. Vroue is nie gesien as waardig genoeg vir die
mediese profesie nie. Elizabeth laat
haar egter nie onderkry nie. Sy doen aansoek by die een na die ander mediese skool,
sonder sukses. Twaalf aansoeke word afgekeur. Oplaas is daar een dekaan
wat voel hy moet haar ‘n kans gee met haar dertiende aansoek. Hy vra die mediese studente om te stem. Op
daardie stadium is almal mans en hul dink dit sal vir afwisseling sorg om ‘n
dame in hul midde te hê. So gebeur dit
dat een en elkeen van hul ‘ja’ stem en Elizabeth aanvaar word in 1847. Dit was so ongehoord dat geen verdere vroue
as mediese studente aanvaar is tot die 1860’s nie.
Op die
ouderdom van 26 jaar begin Elizabeth haar studies by Geneva Medical College in
Geneva, New York. Haar dertiende aansoek
was suksesvol! Hoeveel van ons sou tou opgegooi het na die derde of vierde afkeuring?
In 1849 gradueer sy as topstudent van haar klas. Sy
besluit dat sy nog nie genoeg weet om te prakteseer nie en Junie dieselfde jaar
begin sy verloskunde studeer in Parys.
In 1851 keer sy terug na New York.
Die gety het nog nie gedraai nie.
Niemand wil haar aanstel as dokter nie.
Weereens laat sy haar nie afsit nie, maar begin haar eie praktyk. Tussendeur het sy lesings gegee en gedoen
waarvan sy gehou het… om dokter te wees.
Sy het egter nog ‘n droom gehad… om ‘n hospitaal te begin. Sy begin fondse insamel. In 1856 open die
deure van “The New York Infirmary for Indigent Women and Children”. Sy het nog vele mylpale bereik en op die rype
ouderdom van 89 afgesterf.
Elizabeth se
lewe leer ons vele lewenslesse o.a. moet nooit tou opgooi nie, nooit ophou droom nie… volg jou drome,
al is alles teen jou… ook jy kan ‘n baanbreker wees.
No comments:
Post a Comment