Spreuke 21 :
25 'n Lui mens soek sy dood, want hy wil
nie sy hande uit sy moue steek nie;
‘n
Huis is iets wat in stand gehou moet word.
Daar is maar altyd iets wat versien of reggemaak moet word. So besluit ons onlangs om ons geute en
fasciaborde te vervang. Ek begin
afsprake vir kwotasies te reël. Dis
makliker gesê as gedaan. Eerstens kom
mense nie afsprake na nie. Ek bel iemand
‘n dag nadat hul ‘n afspraak nie nagekom het nie. Hul verskoning… die motor het gebreek. “Skakel jul nie kliënte om verskoning te maak
en die afsprake te verskuif nie?” Doodse
stilte. Hoed in die hand, besluit ek om
die minste te wees. Ons herskeduleer… en
weer daag niemand op nie.
Twee
maatskappye sê vir my dat hul geen verdere afsprake maak nie, want hulle het
genoeg werk. Dis ‘n lekker probleem om
te hê, maar wat as jul werk opdroog?
‘n
Ander persoon skakel my op die dag van sy afspraak en sê dat hul die vorige
aand ‘n vergadering gehad het waartydens hul besluit het om nie gedurende die
Winter meer aan geute te werk nie!
En ek
dog werk is skaars! Na ‘n lang droogte is dit seker so dat meeste van ons nou
wakkerskrik en besef ons sit met probleme, maar helaas… Is ‘n mens nie juis veronderstel om te skep
wanneer dit reën nie.
Daar
word gesê dat besighede swaarkry en sukkel om te oorleef. Beteken dit nie juis dat jy enige moontlikheid
sal aangryp om werk te bekom nie? Selfs
die regering plaas hul hoop op klein besighede om die werkloosheid in ons land
te verminder.
Dit
het my net laat wonder oor hoe ons leef.
Moet ons nie soos in 1 Samuel 10 : 7 doen wat ons hand vind om te
doen nie? Ons bid en smeek God
om vir ons deure oop te maak. Ons bid
dat daar besigheid sal inkom en dat die besigheid sal oorleef. Ons bid vir ons besigheid en ons werksmense…
Ons bid en vra, maar wat doen ons van ons kant?
Vergewe
my as ek verkeerd is, maar na twee weke, met net een kwotasie, wonder ek of
mense te veel werk het, nie belangstel in ‘klein’ werkies nie, of net eenvoudig
nie omgee nie.
“Ek het nog
nooit ‘n man teegekom wat goed is met enige iets anders, as hy goed is met
verskonings maak nie” Benjamin Franklin
Op
die ou end kan ons al die verskonings in die wêreld aanvoer, maar as ons nie
ons kant bring nie, kan ons nie van God verwag om te voorsien nie.
No comments:
Post a Comment