Jesaja 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk
nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook
ondersteun Ek jou met my reddende regterhand
Ons
almal kry tye dat ons bekommerd of bang raak en angstig rondkyk.
Dit
is onseker tye waartydens ons leef. Daar
is onrus en oproerigheid… wetteloosheid en eiesinnigheid. By dit alles is jy
dalk bekommerd oor jou toekoms by die werk waar dit nie goed gaan as gevolg van
die ekonomie nie. Jy raak benoud as jy
dink wat die toekoms vir jou kinders inhou.
Dalk is jy bekommerd oor jou huwelik, jou finansies, jou gesondheid. Jy moet dalk vir ‘n onderhoud gaan of jy het ‘n
afspraak met iemand, maar jy het jou bedenkinge. Miskien moet jy binnekort eksamen skryf en jy
kry eenvoudig nie die inligting in jou kop nie.
Dis
sulke tye dat jy as kind van God kan rus in die wete dat Hy jou gerusstel: “Moenie bang wees nie my kind. Moenie benoud rondkyk en wonder waar jou hulp
vandaan gaan kom. Ek is hier… nie net
gaan ek jou help nie, maar jy het my volle ondersteuning en as dit moet, gryp
ek self in… met my reddende regterhand sal ek jou uit die kloue van gevaar red.”
Vind
berusting in die wete dat God vir jou is en dat niemand daarom teen jou kan
wees nie.
No comments:
Post a Comment