Jeremia
18:6 Kan Ek nie met julle doen wat
hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here
Die pottebakker maak items wat gebruik kan word. Elke item begin as ‘n bondel onooglike klei
wat in die rondte tol. Soms is die
pottebakker nie tevrede met die produk nie en dan word daar van vooraf
begin.
Vandag haal God jou van die pottebakker se wiel af. Hy het jou geknie en gevorm tot op hierdie
punt waar jy ‘n pragtige produk is waarop Hy met trots Sy oë lê. Jy is presies
wat Hy in gedagte gehad het… jy is presies wat Hy nodig het… ‘n perfekte
instrument.
Die pottebakker mag dalk soms oorbegin, selfs die klei
eenkant toe gooi en vars klei probeer, selfs ‘n ander item begin maak, maar God
hou aan vorm en weet presies wat Hy in gedagte het reg van die eerste oomblik
af. God het nooit ‘n Plan B nie.
Die vyand, wat gesê het dat jy nie ‘bruikbaar’ is nie, het
gelieg… hy dink jy is beskadigde goedere, ‘n reject, maar nie God nie. Jy sien mense spreek nie deur middel van die
Heilige Gees nie, net God. Mense mag jou
dalk terughou en eenkant toe stoot, maar God het ander standaarde. Sy dissipels was meesal gewone mense, maar magtige
instrumente in Sy hand eerstens omdat hul saam met Jesus gewandel het en
tweedens omdat Hy Sy Gees vir hul nagelaat het.
Sê vandag: “Mense
se onverdraagsaamheid sal my nie beperk nie, want ek is geskep deur die Meester
Pottebakker. Ek is uniek, spesiaal en
kosbaar. Net God oordeel oor my.”
Stof jouself af, tel jou kop op en stap voort in
vreugdevolle afwagting, want God se genade is elke dag nuut.
No comments:
Post a Comment