1 Samuel 17:50 Met
die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan
en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!
Dawid het ‘n
reus verslaan met ‘n slingervel en 5 klippies om een rede… God was aan sy kant.
Het jy al ooit
daaraan gedink dat God nie net aan jou kant is nie, maar ook jou Verdediger
is? Moenie ‘n geveg veg wat nie aan jou
behoort nie. Ons word tenagekom en
onmiddellik bal ons die vuiste… gereed vir die geveg. En nege uit tien kere kom ons die slegste
daarvan af en wonder hoekom die lewe so onregverdig is.
Die stryd wat
jy stry is nie joune nie. Dit is God se
stryd. Hy is ‘n God van
geregtigheid. Hy sien wat aangaan. Hy sien die onregverdigheid, mense wat jou
eenkant toe skuif, of wat jou verraai. Dit
wat die sprinkane verniel het, sal twee keer soveel aan jou teruggegee word, sê
die Skrif.
God gaan jou
reputasie, jou eer herstel. Hy sal die
saak verder vat… dit uitsorteer. Wanneer
jy ‘n dubbel dosis moeilikheid kry, sal jy ook ‘n dubbel dosis guns
ontvang. So vergeet die leuens… vergeet
wat mense van jou sê of aan jou doen. Jy
is nie ‘n mislukking nie… jy is nie in ‘n groef nie… jy is nie finansieel
geruineer nie, jou siekte is nie ongeneeslik nie… Dit is nie hoe jou lewensverhaal
eindig nie.
Die probleem
is dat ons partykeer te gemaklik raak waar ons onsself bevind. God wil nie hê dat jy op een plek bly
nie. Hy weet wat jou potensiaal is en
dit kan nie tot volle wasdom kom as jy nie beweeg nie. Beweging kan gesien word as oefening en ons
almal weet hoe styf en seer jy kan wees na ‘n behoorlike oefensessie Maar, soos hulle sê: “No pain, no gain.”
No comments:
Post a Comment