Jesaja 48 : 3 Ek het wat vroeër gebeur het, lank tevore
reeds aangekondig, uit my mond is dit gehoor, Ek het dit bekend gemaak. Toe het
Ek dit skielik laat gebeur.
Dit mag dalk
wees dat jy dieselfde probleem in die gesig staar vir maande, selfs jare. By die dag versleg jou omstandighede. Dalk het jy net jou werk verloor, toe jou
motor, nou jou huis… wat nog? Daar is
geen hoop, geen uitkoms, maak nie saak hoe hard jy bid nie.
Weet vandag, jou
situasie mag dalk hopeloos lyk, asof daar geen uitkoms is nie. God kan egter alles binne ‘n oogwink verander. En die goeie nuus is dat Hy dit jare der jare
gelede alreeds beplan het.
Die Skrif
verwys na ‘skielik’. Skielik gebeur net,
jy het geen idee wat op pad is nie. Dit
is buitengewoon en onverwags, maar boweal, nie klein nie. Maak nie saal hoe lank jou stryd al duur nie…
maak nie saak hoe groot en onmoontlik die probleem lyk nie… jy moet bly glo dat
God vol verrassings is en in staat is om met een beweging die verkeerde mense uit jou lewe te skuif en
terselfdertyd die regte mense oor jou pad te bring. Een aanraking van God se guns en jou lewe van
die hand na die mond verander in ‘n lewe van meer as genoeg.
God se
boodskap aan die volk was om gereed te maak en dis dieselfde boodskap vir
jou. Hy weet wat op pad is en dit gaan
al jou verwagtinge oortref. Jy gaan
totaal en al stomgeslaan wees. Moet dus
nie verder mismoedig wees nie. Begin om
God te prys vir die wat op pad is. Trek
jou skouers terug, lig jou kop op en kyk die wêreld vierkantig in die oë soos
dit ‘n oorwinnaar betaam, want God is besig om hierdie stryd namens jou te stry
en Hy gaan nie as verloorder anderkant uitkom nie.
Kyk met blink
oë na die toekoms, sien met verwagting uit na die volgende oomblik, want ’skielik’
gaan alles in plek val.
No comments:
Post a Comment