1 Petrus 5 : 7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy
sorg vir julle.
Is jy
liggeraak? Trek jy jou byvoorbeeld alles
aan wat ander oor jou sê, of selfs net wat jy dink hulle oor jou sê? Dalk broei jy ook nog oor die geringste
negatiewe opmerking. Is dit iets wat jou
terughou, tot so ‘n mate, dat jy nie veel gedoen kry daarna nie? Is jy iemand wat byvoorbeeld emosionele
energie vermors op dinge soos mense wat staak, die televisienuus, wat jy in
koerante lees?
Party mense
sal hulself onmiddellik hierin herken en erken dat hul skuldig is. Ander sal dit weer bevraagteken of probeer
regverdig. Hoe dit ookal sy, as jy ja
geantwoord het op van hierdie vrae, is dit tyd om jou lyf eend te hou.
‘n Eend skud
waterdruppels met gemak van hul af en binne oomblikke is hul weer hul ou
self. Hul is droog en verknies hulself
nie oor die nat en/of koue nie.
Ons vermors
dikwels onnodige tyd en energie op dinge waaroor ons absoluut geen beheer het
nie. Dit is eenvoudig nie moontlik om
alles en almal te beheer nie. Behalwe as
dit so ernstig is soos om geboelie te word, waar die aanslae op jou neerreën,
regverdig geen skinderbek of suurgesig ‘n tweede kyk van jou nie. Jy weet wie jy is. Jy ken die waarheid en jy weet Wie in beheer
is.
Almal hanteer
situasies verskillend. Dit is nie vir
almal ewe maklik om ‘n eendmentaliteit te hê nie, so as jy steeds sukkel, gee
dit vir God. Moenie toelaat dat hierdie
bekommernisse jou aftrek en afbreek nie.
No comments:
Post a Comment