Matteus 6 : 26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en
hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg
vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
Ons kan baie
leer by voëls. Onlangs het dit deurnag
in die Kaap gereën. Daar is gemiddeld 70
mm reën gemeet. Niks en niemand was droog
nie.
As ons buite
in die nat en koue was, sou ons soos die voëls die volgende oggend vrolik
gekwetter het? Hulle sit nie kop
onderstebo en betreur hul omstandighede nie.
Nee, hul is vrolik terwyl hul douvoordag op en aan die gang is om
daardie krummeltjie of wurmpie te gaan vind.
Voëls het
eintlik nie ‘n keuse as om elke dag uit te gaan om te gaan kos soek nie. Of jy nou ‘n visvanger, ‘n arend, ‘n mossie of
‘n tortelduif is daar is nie koskaste of yskaste beskikbaar nie. Probeer jy ‘n happie oorhou vir môre is die
kanse in elk geval groot dat ‘n mede-voëltjie jou daarvan gaan beroof nie.
Wat my veral
beindruk is die vaste vertroue dat daar kos sal wees. Hulle ken dalk nie hul Maker nie, maar hulle
twyfel nooit. Hulle bekommer hul nie oor
gevare soos die familie se kat wat self heelnag geslaap het en nou lus is vir ‘n
bietjie aksie en dalk ‘n gepaardgaande happie nie.
Instinktief
weet voëltjies dat daar ‘n Voorsiener is.
Hul het nie ‘n saak met môre nie… dis net vandag wat saakmaak.
Dink net
hoeveel keer stress ons onnodig omdat ons twyfel of omdat ons oor môre
bekommerd is.
God vra ons
nie net om Hom te vertrou nie. Hy sê
pertinent: “Kyk na die voëls.” Hy maak dit so prakties.
Volgende keer
as jy bekommerd is oor jou toekoms, om welke rede ookal, kyk na die voëls.
No comments:
Post a Comment