Tuesday, 26 August 2014

Moenie bang wees nie



Spreuke 4 : 25-26  Jy sal nie hoef bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie.  Die rampe vir slegte mense bedoel sal nie oor jou kom nie. Die Here is jou beskermer.  Hy sal sorg dat jy nie in ‘n strik trap nie.
Hoeveel van ons gaan elke dag met vrees tegemoet?  Ons is bang dat ons in ‘n ongeluk sal wees op pad werk toe.  By die werk hoor ons kort-kort via die riemtelegram dat daar personeelvermindering gaan wees, en ons is bang dat ons een van die statistieke sal wees.  Terwyl ons by die werk is, is ons bang vir ons baas, wat fout vind met alles wat ons doen.  Ons voel verontreg en dat ons soos kinders behandel word.  Gedurende die dag is ons bang dat iets met ons kinders sal gebeur of dat daar by ons huise ingebreek sal word.  Op pad huis toe dink ons aan dit wat op ons by die huis wag… dalk is ons selfs bang om huis toe te gaan omdat omstandighede daar ook nie wenslik is nie.  Vanaand lê ons en rondrol, bang vir al die spoke wat ons rondjaag, vrese oor finansies, verhoudings, die ekonomie, ons land… en so hou dit aan.
Wanneer jy ‘n teksvers soos die een in Spreuke 4 lees, is dit asof jy die sweet van jou voorkop wil afvee en sê: “Dankie, Vader. Uiteindelik het ek rus vir my gemoed.  U verseker my dat U my beskermer is en daarom hoef ek niks te vrees nie.”
Wat jou vrees ook al is, neem hierdie woorde ter harte.  Hy sal sorg.  Jy hoef nie verder bang te wees nie, niks kan verkeerd gaan nie, niks sal jou oorkom nie.  Maak nie saak hoe onwaarskynlik dit lyk nie, jy is veilig.

Monday, 25 August 2014

Sy geweldige ontsteltenis



Markus 14 : 33  Toe pak ‘n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle:  “Ek is benoud tot sterwens toe!”
As daar een teks is wat my hartsnare roer, dan is dit hierdie teks.  Jesus het geweet wat op Hom wag.  Hy is gebore as baba en het as jongman grootgeword en as mens die aarde bewandel en daarom het Hy ook die vrese van ‘n gewone mens ervaar, maar Hy het iets meer geweet… daar is geen omdraai nie… hierdie taak moes deurgevoer word.
Tog vra Hy vir God:  “vers 35 …as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan… vers 36 … vir U is alles moontlik.  Neem tog hierdie beker van lyding van My weg.  Maar Hy weet ook dat die versoek eintlik futiel is… Hy moet sterf om ons te verlos… en daarom die volgende woorde in vers 36:  “Maar doen nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. 
Wanneer ek hierdie gedeelte lees, besef ek die volle omvang van Sy opoffering en lyding.  Dis wanneer jy besef dat Hy waardig is om te aanbid, dat Hy die Seun van God is en dat Hy aan die regterhand sit van waar Hy vir ons intree omdat Hy weet hoe dit hier op aarde is… Hy was immers hier.
Dankie Jesus dat U, ten spyte van U eie vrees, vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Sunday, 24 August 2014

Die Waarheid



Lukas 1 : 3  Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ‘n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf.
Daar is mense wat dit wat in Die Bybel opgeteken is in twyfel trek.  Hulle redeneer logies en sekere dinge maak nie sin nie.  Hul kan nie glo dat Jona bv lewend uit ‘n vis se maag gespoeg kan word nie.  Dis vir hul ondenkbaar dat ‘n maagd kan swanger raak of dat Jesus uit die dood kon opstaan.  As dit nie sin maak, of wetenskaplik bewys kan word nie, glo hul dit nie.
Lukas het besluit om ‘n bietjie meer navorsing te doen en eers daarna het hy sy weergawe neergepen.
Dis maklik om te oordeel en te vra hoe iemand nie in Die Bybel kan glo nie, maar dit hang af wat jou verwysingsraamwerk is of in watter konteks jy na dinge kyk.  Ons is almal verskillend.  Jy hoef net te kyk hoeveel verskillende gelowe daar is, om te besef dat nie almal in Die Bybel glo nie.
Ek glo egter soos ‘n kind.  Ek hoop dat jy jouself die luukse gun om ook so te glo en te weet dat daar net een waarheid is en dit is die Waarheid van die Woord van God.

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar kan vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek wat mooi herinneringe terugbring.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

Thursday, 21 August 2014

Ek is die Here se dienares



Lukas 1 : 38  Maria sê toe:  “Ek is tot beskikking van die Here.  Laat met my gebeur wat U gesê het.”
Kan jy jou in Maria se skoene indink?  Dis nie vandag waar buite-egtelike kinders nie meer ‘n kwessie is nie.  Die engel Gabriël het vir Maria die boodskap gebring dat sy, as maagd, die Seun van die Allerhoogste in die wêreld gaan bring.  Maria was verloof aan Josef, en ek dink sy’t sekerlik gewonder of hy haar nie sal los as sy swanger raak nie, want die eerste gedagte sou tog wees dat sy by ‘n ander man was.  Maria was bietjie verward en ontnugter, want sy’t die engel daarop gewys dat sy nie getroud is nie en nog  nooit by ‘n man was nie, so hoe sal sy swanger raak, maar die engel se verduideliking oor die Heilige Gees wat oor haar sou kom, het haar gerusgestel. 
As jy eerlik moet wees en jy was Maria, sou jy ingewillig het, sonder die kennis waaroor ons vandag beskik?  Ek weet nie so mooi nie, maar Maria stem in ten spyte van die gevolge… ten spyte van die skande en skinderpraatjies wat sy geweet het voorlê…  In die Blye Boodskap staan daar:  “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê.”
Hoe gewillig is jy as Hy jou nodig het?

Wednesday, 20 August 2014

Die perfekte skuilplek



Deuteronomium 33 : 27 God is ‘n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou.
Onthou jy nog hoe lekker dit was om wegkruipertjie te speel… veral wanneer jy daardie perfekte wegkruipplek gekry het en hulle aanhou en aanhou om jou te soek, maar jou net nie kry nie… totdat jy  kan uithardloop en skree:   “Een, twee, drie… blok myself.”
God bied jou Sy arms as skuilplek.. die perfekte skuilplek.  Soos wat Hy vir Sy volk oor die jare gesorg het, so sal Hy ook vir jou sorg.  Ja, soms voel dit asof God nêrens is nie… asof Hy nie hoor nie en nie weet waardeur jy gaan nie, maar dalk moet jy jouself afvra wie het wegbeweeg.  God se arms is steeds daar, dis jy wat weggedryf het.
Dis die tye dat jy moet terugdink oor hoeveel kere Hy vir jou deurgekom het… hoeveel kere Hy jou uitgered het… hoeveel kere jy gedink het, dis als verby, maar Hy die onmoontlike vermag het.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...