Tuesday, 9 June 2015

Onregverdigheid

Spreuke 17 : 15  Die Here verafsku twee dinge:  iemand wat die skuldige onskuldig verklaar; en iemand wat onskuldige mense skuldig verklaar.

Ons kan onsself nie eintlik keer nie… voor ons twee keer dink, veroordeel ons ander.  Meeste van tyd het ons nie eens al die feite nie, maar ons speel regter. 

Meeste van tyd weet die ander gelukkig nie van die oordeel wat ons fel nie, want min van ons sal na die persoon stap wat ons veroordeel en hul vertel wat ons van hulle dink.

Dit raak egter ‘n perd van ‘n ander kleur wanneer prokureurs kliënte verdedig om hul ego te streel; om naam te maak.  Dan gaan dit lankal nie meer oor die feite nie, maar oor wie die debat wen.  As jou prokureur ‘n persoon is wat ‘n gaping kan identifiseer en dit met ‘n waterdigte teenargument kan staaf, kan hy jou dalk net skotvry daarvan laat afkom.  Ek wonder hoeveel onskuldige mense sit in die tronk en hoeveel oortreders loop smalend tussen ons rond.

Jy kan hier op aarde nog, hetsy letterlik of figuurlik, met moord wegkom, maar glo my jy gaan nie jou pak vryspring nie.  En jy wat die skuldige so vernuftig verdedig het… hoe leef jy met jou gewete saam?


As jy vandag hier lees, en jy is onskuldig of tenagekom, weet net dat God nie slaap nie.  Die wiel draai een of ander tyd en God sal reg laat geskied.  Mense mag dink hul is verhewe bo die reg, maar niemand is verhewe bo God nie.

Monday, 8 June 2015

Wees net bereid

Jeremia 1 : 7 - 8  Moenie sê jy is te jonk nie.  Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle.  Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie.  Ek sal by jou wees en jou beskerm.

God roep jou vandag om vir Hom te werk.  Jy mag reken jy is te jonk, te oud, te besig, te onkundig… Niks kan in jou pad staan as God jou roep nie.  Sy dissipels was gewone, sondige mense… ander het ook dalk gedink hulle is die laaste mense wat hul sou inspan as hulle Hy was, maar Jesus het meer in hulle gesien.  Hy het geweet dat ‘n gewillige gees meer werd is as ‘n formele kwalifikasie.  Jy kan al die boekekennis in die wêreld hê, ten volle gekwalifiseerd wees, maar as jou hart nie reg is nie, kan God jou nie gebruik nie.

Ongelukkig skram baie mense daarvan weg as Hy hul roep.  Die kerk het jou dalk genader om ‘n amp te vul… diaken, ouderling, koster, wyksuster, jeugleier, orrelis…  Jy het elke keer ‘n verskoning.  Miskien is dit omdat jy dink dat jy nie dit kan doen nie, omdat jy agter geslote deure ‘n ander lewe lei.  Onthou God weet ook van daardie deel van jou lewe en ten spyte daarvan roep Hy jou steeds. 

Ek weet nie wat jou weerhou daarvan om na vore te tree en gehoorsaam te wees nie.  Wat ek wel weet, is dat Hy jou volkome sal toerus.  Of jy nou ‘n spraakgebrek het of bang is om met mense te praat, of dalk nie vervoer het nie… God sal elke struikelblok uit jou pad rol die oomblik dat jy instem.   

Sunday, 7 June 2015

Heiligheid

Levitikus 20:7 Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.

Chirstopher Yuan is die seun van Chinese immigrante in Amerika.  Hy was anders… korter, het ‘n bril gedra en eerder klavier gespeel as om aan sport deel te neem.

Op negejarige ouderdom, is hy aan pornografie blootgestel.  Die reaksie wat dit in hom teweeg gebring het, het die jong seun ontsenu.  Op 20 het hy gay kroeë besoek en teen die tyd dat hy tandheelkunde begin studeer het, het hy besluit om openlik ‘n homoseksuele leefstyl te leef.

Met tyd besluit hy om sy ouers oor sy seksuele oriëntasie in te lig.  Sy ouers het die bekentenis moeilik verwerk.  Saam het hul besluit om vir hom te begin bid.

So het Christoper ‘n dubbele lewe gelei.  Bedags was hy student en saans het hy nie net in gay klubs rondgehang nie, maar ook begin dwelms gebruik en selfs begin handeldryf daarin.  Die dwelmhandel het hom regoor die land geneem en min tyd vir sy klasse gelaat.  Uiteindelik is hy vier maande voor hy sou gradueer, geskors.

Vas oortuig dat hy in beheer van sy eie lewe is en min of meer onaantasbaar, het hy voortgegaan met hierdie roekelose lewensstyl.  Intussen het sy ouers sonder ophou vir hom gebid.  Die antwoord op hul gebede het op ‘n ongewone manier gekom die dag toe nege federale agente aan Christopher  se deur klop terwyl hy besig is om dwelms te verpak.  Daar was geen wegkomkans nie.  Hy is in hegtenis geneem en skuldig bevind aan die besit van dwelms, strafbaar met 6 jaar tronkstraf.

In die tronk kom hy op ‘n Gideon Bybel af en begin dit lees.  Terwyl hy dit lees, besef hy hoe rebels hy was, nie net teen sy ouers en die lewe nie, maar ook teen God. 

Eendag word hy na die klinieksuster geroep.  Sy skryf iets op ‘n stukkie papier en skuif dit oor die lessenaar na hom:  HIV+. 

Christopher vertel hoe dit soos ‘n doodsvonnis geklink het en hoe hy in ‘n waas terug is na sy sel waar hy op sy bed gaan lê en net gestaar het.  Toe vang sy oog ‘n plek op die muur waar iemand geskryf het:  As jy verveeld is, lees Jeremia 29:11.  Volgens hom was hierdie teks al wat hom deur daardie verskriklike donker nag gedra het. 

Oor ‘n tydperk van min of meer ‘n jaar, het Christopher God intens leer ken en hom uiteindelik bekeer.  Hy het geweet dat hy nie meer kon leef volgens sy wil of die wêreld nie, maar dat hy sy hele lewe, hoop en drome aan God moes oorgee.   Soos sy verhouding met God gegroei het, het Christopher gesukkel om sy homoseksuele leefstyl teenoor God te regverdig.  Hy het die Bybel van hoek tot kant deurgelees op soek na regverdiging, maar kon niks vind nie.  Hy het besef dat hy ‘n kruispad bereik het.  Of hy gaan voort om aan sy eie gevoelens en drange toe te gee en versaak God, of hy moes besluit om homoseksualiteit af te sweer en ‘n volgeling van Jesus Christus te word.  Hy sê sy besluit was duidelik en voor die hand liggend.  Hy het God gekies.

Nadat Christopher sy tronkstraf uitgedien het, het hy sy verhouding met sy ouers herstel.  Hy is ‘n instrukteur by Moody Bybelkollege in Chicago en leef elke dag met ‘n doel, want sê hy, dit het HIV geneem om hom te laat besef dat ‘n mens moet leef met dringendheid.

Hy definieer homself nie meer volgens sy seksualiteit nie.  Sy identiteit is dat hy ‘n kind van God is.  Hy het altyd gedink dat die teenoorgestelde van homoseksualiteit heteroseksualiteit is, maar in die Bybel het hy gelees van heiligheid en toe besef die teenoorgestelde is inderwaarheid heiligheid.   God het hom geleer om nie op sy seksualiteit te fokus nie, maar om eerder daarop te fokus om ‘n skoon en heilige lewe te leef.

Hy erken dat dit nie maklik is om ‘n Christen te wees nie, maar glo dat God hom begenadig het.  En hy verkies om te glo dat hy nie HIV positief is nie, maar positief is vir God.


Thursday, 4 June 2015

Met elke gryntjie binne my

Deuteronomium 6 : 5  Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.

Egskeidings is aan die orde van die dag.  Twee mense ontmoet, is smoorverlief, trou en ongelukkig leef hul nie altyd vir ewig en altyd gelukkig saam nie.  Wat die paar na mekaar aangetrek het, raak dikwels die klein krakies in die huweliksbootjie.  Indien daar nie aan daardie krakies aandag gegee word nie, is die kanse goed dat die huweliksbootjie gaan sink.  Daar is egter niks om oor bekommerd te wees nie, want kort voor lank ontmoet elkeen weer iemand, raak smoorverlief en beloof ewige trou. 

Was dit ware liefde?  Die liefde wat God verwag kan nie vandag daar wees en môre verander nie.  Hy verwag dat jy Hom met jou hele wese sal liefhê, deur dik en dun, te midde van storms en versoekings… dat jy vir Hom sal opstaan en nooit ooit sal skaam nie… dat jy bereid is om uit te gaan en jou liefde vir Hom verklaar aan almal wat dit gehoor het of nog nie gehoor het nie.  Hy weet dit gaan nie altyd maklik wees nie, daarom verwag Hy dat jy Hom met al jou krag ook sal liefhê… met daardie laaste druppeltjie energie sal jy Hom dien. 

As jy mooi nadink is dit hoe Jesus Sy liefde teenoor God die Vader betoon het.  Hy het God eerste geplaas en nie omgegee om die minste te wees en ander te dien nie.  Hy het aanhoudend die boodskap van verlossing verkondig, selfs al het dit Hom in die tronk laat beland.  Sy hele hart en siel het aan God behoort en met al Sy krag het Hy daardie kruis gedra en uiteindelik aan Hom gehang totdat sy laaste bietjie krag uit Hom gevloei het met ‘n finale sug:  “Dit is volbring.” Getrou tot Hy Sy laaste asem uitblaas.


Stof tot nadenke.  Het jy God so lief?  Kan jy werklik sê dat jy Hom liefhet met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag?  Indien nog nie, vra Hom om jou te help en deur die Gees te bemoedig en onderskraag as jy moeg word.

Wednesday, 3 June 2015

Logika

Genesis 18 : 11 Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring,

Teen alle logika in, moet Sara by die Here hoor dat sy swanger sal word en ‘n kind, waarna sy soveel jare uitgesien het, in die lewe sal bring.  Anders as ‘n man, het ‘n vrou net ‘n sekere tyd wat sy kinders kan baar.  Sodra sy haar menopouse bereik, is haar rakleeftyd, wat kinders baar aanbetref, verby.

Om dus te hoor dat jy teen die volgende jaar met ‘n baba in jou arms sal staan, sou baie van ons, soos Sara, seker laat uitbars het van die lag.

In jou lewe is daar ook ‘n struikelblok wat volgens alle logika onoorkombaar lyk.  Dis eienaardig hoe ons daardie logika as die enigste waarheid aanvaar.  As dit onmoontlik klink, dan is dit onmoontlik.  Al wat ons buite rekening laat is God.  Vir jou is jou huwelik op die rotse… jou kind vasgevang in ‘n dwelmstrik… jou finansiële toestand ‘n ramp… jy doen nie eens meer aansoek vir werk nie… jou liggaam afgetakel deur die siekte…  die politieke en ekonomiese situasie buite beheer… Die uitsiglose realiteit van jou situasie is al wat jy raaksien, want logies gesproke kan niks jou situasie verander nie.

God kom egter en Hy gee vir Abraham en Sara ‘n kindjie op ‘n ouderdom waar dit logika by die venster uitgooi.  Sulke dinge gebeur net in die Bybelse tyd?  Nee, dit kan nou ook gebeur.  God is nie ‘n God wat Hom deur logika laat terughou nie.  God breek alle reëls en bewerkstellig die onmoontlike.  Vers 14  Is iets te buitengewoon vir die Here?

Buitengewoon is God se manier van doen.  Ook in jou lewe wil Hy iets buitengewoon doen.  Glo dit vas en wag vir die wonderwerk.


Tuesday, 2 June 2015

Seisoene

Psalm 138 : 3  Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee

My boodskap aan jou vandag is een van oorwinning.  Jou seisoen het aangebreek.  Die seisoen van swaarkry en trane is verby. 

Omdat jy getrou was deur die vaal mistroostigheid van die Winterseisoen in jou lewe, het die Here jou hulpgeroep gehoor en Hy beantwoord nie net jou gebed vandag nie, maar Hy vul jou met krag en ‘n nuwe ywer vir die lewe.  Gister was jy  nog platgeslaan en uitsigloos, maar vandag wink die toekoms rooskleurigvir jou.  Jy kan met vertroue glimlag en God baldadig bedank, want Hy het jou deurgedra.

Genadiglik bly dit nooit net Winter nie.  Seisoene kom en gaan en al is jy nie ‘n Wintermens nie, het die Winter in jou lewe tog ook sy eie bekoring.  Al is dit ‘n tyd van worstel en trane, is dit ook ‘n tyd van samesyn met God.  Terwyl jy oorwinter, bou jy nuwe kragte op en uitendelik begin die toekoms bot in jou lewe.


Blymoedigheid is jou vooruitsig.  Vreugde en oorvloed lê vir jou voor.  Staan gereed, want God gaan die sluise ooptrek en jy gaan meegevoer word.

Monday, 1 June 2015

Rykdom

Spreuke 11 : 28  Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val;  wie regdoen, floreer soos groen blare aan ‘n boom

Rykdom, welvarendheid, sukses… dis tog hoekom ons hier op aarde is.  Ons moet immers die muntstukke wat ons ontvang het vermeerder.  Ja, ons is rentmeesters en ons moet woeker met ons talente, maar dit beteken nie dat ons mammon moet aanbid nie.

Geld gaan vir niemand ‘n plek in die Hiernamaals verseker nie – dit weet jy self.  Om die waarheid te sê, Jesus het self daarna verwys hoe moeilik dit vir ‘n ryk mens sal wees om die koninkryk van God te betree.


Ons mag sukses behaal en dit waarmee ons toevertrou is, vermeerder, maar ons moet ook dit wat ons het gebruik om reg te doen.  Rykdom ten opsigte van goeie dade is veel beter as rykdom aan geld.  God verwag van ons om goed te doen… om ons naaste lief te hê en dit is seker nie maklik as jy ryk is nie.  Jy voel dalk dat ander net sit en wag vir gawes in plaas van self uit te spring of jy voel dat mense jou net ken as gevolg van wat jy vir hul kan doen of beteken.  Laat die oordeel maar aan God oor.  Doen jy net goed met dit waarmee Hy jou geseën het.  God gee met ‘n milde hand, maar Hy kan dit ook oornag wegneem.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...