Tuesday, 9 February 2016

God maak nie onderskeid nie

Handelinge 10 : 34 – 35  Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.

As jy iemand is wat vandag voel dat niemand vir jou lief is nie, moet jy weer die teks lees.  Of dalk voel jy dat jy so ver afgedwaal het dat God jou nooit weer naby Hom sal toelaat nie.  Nog erger, dalk is jy heimlik jaloers op iemand anders se verhouding met God.  Jy wens dat jou verhouding met God soos hulle verhouding kon wees.  Jy glo dat jou geluk ook sal draai as jou verhouding op dieselfde vlak as hul s’n kan kom.

Jy kan dus nou ontspan in die seker wete dat God geen witbroodjies het nie.  Die speelveld is gelyk.  As jy Hom aanneem, vereer en doen wat reg is, is daar geen onderskeid nie.


Soms wil ons alles vir almal wees.  Ons probeer om almal te ‘please’.  Eintlik maak niks en niemand behalwe God saak nie.  

Monday, 8 February 2016

Maak die beste van elke sekonde

Psalm 90:4  Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Dit is asof elke jaar vinniger verbygaan.  Vandag gee jy jou graad eentjie in trane by die skool af en binne ‘n oogwink maak jul gereed vir die matriekafskeid.  Net gister vertel iemand my van ‘n drie-jarige seuntjie wat in ‘n swembad verdrink het.  Daar is verskillende emosies wat deur jou bruis by die aanhoor van sulke nuus.  Een daarvan is dat ‘n jong lewe kortgeknip is nog voor dit begin het. 
‘n Ander gedagte is dat die jong mamma sekerlik drome vir haar en haar seuntjie gehad het en dat daardie drome nou net drome sal bly.

Ons stel so maklik uit om iets te doen sonder om daaraan te dink dat ons dalk nooit die geleentheid gaan kry om dit te doen nie.  Hoekom moet ons wag vir die regte oomblik, of totdat ons gereed is of totdat ons die nodige fondse het?  Ek is iemand wat altyd aan die toekoms dink en daarvoor beplan, maar wat as ek nie hier gaan wees om daardie toekoms te geniet nie? 

Ek dink dit is nodig om meer ‘in the moment’ te leef… bietjie meer geniet en minder roetine… bietjie meer speel en minder werk.  God het vir ons elkeen ‘n afgemete tyd beskikbaar gestel en aangesien ons nie weet hoe lank daardie tyd sal wees nie, mag ons net sowel die beste van elke sekonde maak.


“One day, you will wake up and there won’t be any more time to do the things you’ve always wanted…  DO IT NOW…” ~ Paulo Coelho

Sunday, 7 February 2016

Na watter skildery kyk jy?

Psalm 42 : 6  Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!

Ons lewe is soos ‘n kunsgalery.  Wanneer jy daardeur stap, verwonder jy jou aan die verskillende tonele wat in die skilderye uitgebeeld word.  Daar is jou kinderdae… jou ouers… daardie onvergeetlike rugbywedstryd waar jy die drie gedruk het… jou eerste motor… jou geliefde(s)… maar dan is daar ook die Tretchikoffs… die iris met die traan… verspeelde geleenthede… mislukte verhoudings… misbruik… onregverdigheid…  Hier wil jy nie tyd verwyl nie…

Of is dit juis waar jy meeste van jou tyd deurbring?  Geniet jy dit om daar te sit en staar na die ongelukkige prentjies terwyl die trane teen jou wange afloop?  Miskien besef jy dit nie, maar ons het ‘n keuse.  Ons kan kies om meer na die gelukkige skilderye te kyk as na die wat ons ongelukkig maak.


Dit is nie nodig dat die sprinkaanswerms verder jou landerye verniel nie.  (Joël 2 : 25-26).   Hang vandag al daardie skilderye in een vertrek, kyk een laaste keer daarna en trek dan daardie deur agter jou toe.  Skryf daarop, verbode, geen toegang.  En beweeg aan met jou hand stewig in die van God.

Thursday, 4 February 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11  ‘n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees

Ons bou so maklik ‘n muur tussen ons en diegene wat nie soos ons wil dink en optree nie.  Ek sal hom/haar nooit vergewe nie… Ek wil hom/haar nooit weer sien nie…

As die dood vandag aan jou deur kom klop, sou jy nog so oor die ander persoon voel?  Om kwaad vir ander deur die lewe te gaan, hou jou ook terug.  Alhoewel jy nie meer met daardie persoon wil praat of hul vergewe nie, beteken dit nie dat jy nie meer aan hulle dink nie.  Om die waarheid te sê, ek dink jy dink meer aan hulle.  Wraakgedagtes bou op.  Veral snags maak die spoke amok met sê-nou-maar speletjies.

Voor jy dus jou humeur verloor of daar woorde geuiter word wat letsels veroorsaak, haal diep asem.  Jy hoef nie altyd die laaste woord in te kry nie.  Jy hoef ook nie altyd reg te wees nie.  Dit vat baie meer van jou om weg te stap of niks te sê nie, ek weet, maar jy sal soveel beter oor jouself voel. 


Vergewe en vergeet.  Reik uit na diegene vir wie jy kwaad is en as dit nodig is, vra om vergifnis, maar moet dit nie laat tot die dag dat die doodsengel een van julle besoek nie.

Wednesday, 3 February 2016

Maak God deel van jou prentjie

Hebreërs 12 : 2  Die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof

Wat hou die toekoms vir jou in?  Waarop hoop jy?  Waaroor droom jy? 

Ek lees dat Roeleen Strauss en haar verloofde hul toekoms altyd haarfyn beplan.  O.a. het hul beplan:  sy gaan deelneem aan Mej Suid-Afrika en wen, verloof raak, dan die Mej Wêreld titel verower...  Hul kan op die jaar terugkyk en tevrede wees, want alles het uitgewerk soos hul beplan het.  In die nuwe jaar gaan sy haar studies voltooi en trou… 

Daar is niks met beplanning, ambisie of visie verkeerd nie, maar waar pas God in die prentjie in? 


Maak God deel van jou prentjie.  Hy is heeltemal ten gunste daarvan dat ons droom en hoop op groot dinge.  Sy planne vir ons hou net goeie dinge in.  As ons dus ons planne met Syne sinchroniseer kan ons soveel meer bereik.

Tuesday, 2 February 2016

Aanvaar die goeie en slegte tye

Prediker 7 : 14  En as daar ‘n dag van teëspoed kom, sien dit so:  soos die een het God ook die ander gegee.

Met die aanbreek van die nuwejaar, is dit asof ons reken dat alle teëspoed in die oujaar agter gelaat word.  Die nuwe jaar gaan net voorspoedig wees.  Daarom wens ons immers mekaar ‘n voorspoedige nuwejaar toe.

Realiteit is dat goeie en slegte tye mekaar soos seisoene afwissel, wel miskien nie heeltemal nie, want jy ervaar dalk herfs, winter, winter, winter, herfs, winter en wonder wanneer die lente of somer in jou lewe gaan aanbreek.

Omdat ons voortdurend op voorspoed bly hoop, soos ‘n dobbelaar hoop op die groot slag wat hy gaan slaan, bly ons teleurgesteld.  Wanneer ons besef dat dit nie altyd goed kan gaan nie… dat jy nie altyd kan wen nie… dan is ons meer realisties en nie so teleurgesteld nie.


En wanneer jou lente of somer dan aanbreek, waardeer jy dit soveel te meer.  En onthou, God is met jou elke dag, of dit nou ‘n goeie of ‘n slegte een is.

Monday, 1 February 2016

Wysheid

Jakobus 1 : 5  As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt

Miskien is dit die antwoord.  Ons kort wysheid. 

As ons bid en vir God iets vra, word dit nie in ‘n pakkie by ons afgelewer nie.  Dus is dit nogal moeilik om te weet wanneer en hoeveel wysheid, selfs of, jy nou al wysheid ontvang het. 

Dit is een van daardie onverklaarbare dinge.  Jy vra daarvoor en geleidelik kom jy agter dat jy dinge in ‘n ander lig sien.  Dis soos wiskunde… jy verstaan dit nie, maar dan verduidelik iemand vir jou dit op ‘n manier waar jy dit ewe skielik snap.  ‘n Liggie het aangegaan.

Kennis is mag, en so ook wysheid.  Wysheid sorg dat jy nie soos ‘n dwaas optree nie, want jy’t ‘n vlak van intelligensie wat jou insig gee.  Tekste in die Bybel wat nooit sin gemaak het nie, kry betekenis.

Jou kollega wat jou altyd geirriteer het, is nie meer so irriterend nie, want jy verstaan nou hoekom hy/sy is soos hul is. 


Laat ons bid vir wysheid en dan optree teenoor ander soos iemand wat in die Lig leef.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...