Monday, 30 September 2013

Elke einde is 'n nuwe begin


“There’s a trick to the 'graceful exit.' It begins with the vision to recognize when a job, a life stage, or a relationship is over — and let it go. It means leaving what’s over without denying its validity or its past importance to our lives.
It involves a sense of future, a belief that every exit line is an entry that we are moving up, rather than out.”

‘n Kollega is in die mark vir ‘n ander motor.  Elke keer as hy iets vind waarvan hy hou, bedink hy homself:  “Sê nou maar ek hou nie van die nuwe motor nie… of die motor is swaarder op brandstof… of my vrou kom nie met dit reg nie…” 

Dit het my laat dink hoe moeilik dit vir ons is om afstand te doen van dit wat vir ons bekend is.  Soms het ons die pos ontgroei waarin ons al jare sit, maar ons is te bang om vir ‘n ander pos aansoek te doen.  Of ons is in ‘n verhouding wat al maande/jare lank nie werk nie, maar ons bly glo dat dit sal regkom.

As jy jou motor vervang, beteken dit nie dat die een wat jy tans het nie sy doel gedien het nie.  Wanneer jy gefrustreerd raak met jou huidige pos, beteken dit nie jy’t nooit daarvan gehou nie.  Net so beteken dit nie dat die verhouding nie iewers in die verlede gewerk het as dit nie nou meer werk nie. 

Elke einde is ‘n nuwe begin.  Mense groei, maar nie almal groei teen dieselfde tempo nie.  Verandering beteken vernuwing.  Soms is mense bang om te laat gaan, want hul glo hul sal nooit weer kry wat hul nou het nie, maar jy kry gewoonlik meer as wat jy gehad het.  Jou hande moet egter oop wees om te ontvang en nie toegeklem aan die verlede nie.


As jy bid en God vertrou en Hom ken in alles wat jy doen, sal Hy jou die regte pad laat loop. (Spr 3 : 6)

Sunday, 29 September 2013

Deure

Eksodus 14 : 21  Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is

Dr John Tibane vertel hoe hy eendag met sy sekretaresse reël om vroëer by die besigheid te ontmoet omdat hulle ‘n belangrike kontrak moet gereed kry vir ‘n kliënt.  Daar gekom besef hy dat sy sleutels by die huis lê.  Hy wag ongeduldig en 08h00 stap hy na die deur om ‘n nota vir haar te los dat hy daar was, maar nou sy sleutels by die huis gaan haal.  Tot sy verbasing hoor hy die telefoon lui en hoe sybinne antwoord. 

Die voorval was vir hom ‘n openbaring, want skielik het hy besef hoeveel keer hy al by toe deure in sy lewe omgedraai het, terwyl daardie deure bloot toe was, maar nie gesluit nie.  Dis ons besluit of ons die deur gaan oopmaak, al dan nie.

Nou die dag kom ek by die dokter, maar ek kan nie self die deur oopmaak nie, die ontvangsdame moet dit met ‘n knoppie van binne oopmaak.  Soms het ons iemand nodig om vir ons ‘n deur oop te maak, maar ons moet ten minste arriveer.

Ek was ook al onder die indruk dat ‘n winkel toe is, net om ‘n nota op die deur te lees ‘Closed on account of the weather’.  So die deur is eintlik oop, dis my besluit of ek hom gaan oopdruk.

Jy ken daardie deure by winkelsentrums wat begin draai as jy instap.  Die deur draai egter net as jy naderkom.  Ook hier is dit my besluit of ek gaan naderstaan of bly glo die deur ‘werk’ nie, net omdat hy nie draai as ek nie naby is nie.

Oor die jare ervaar ons hoe deure vir ons oop- en toegaan.  Ons doen aansoek vir ‘n pos, maar is nie suksesvol nie…  Ons het ons oog op ‘n huis / motor, maar die transaksie val deur die mat… ‘n Verhouding wat so goed begin het, loop dood…  Vriendskappe wat al jare lank bestaan, verwater nadat een party weggetrek het.  Die dood beroof ons van ‘n geliefde… 


Die vraag is net:  “Is daardie deure regtig toe?”  God het vir die Israeliete ‘n pad deur die see gemaak, so Hy sal verseker vir jou deure kan oopmaak.

Thursday, 26 September 2013

Onsekerheid

Johannes 10 : 24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou?

Om kalm te bly terwyl jy omring word met negatiewe nuus en statistiek, is nie altyd maklik nie.  Die Jode het Jesus by hulle gehad en ook hulle wou sekerheid van Hom kry.

Ongelukkig kan niemand vir ons met sekerheid sê wat die toekoms inhou nie.  Ons kan ook nie iewers heen vlug en met sekerheid weet dat dit Eutopia is nie. Om jou siek te maak met die ‘wat asse’ van die lewe is eenvoudig soos om om ‘n atletiekveld te hardloop.  Jy lê honderde meters af, maar jy kom nêrens.

Ons kan egter terugkyk op ons lewenspad en onthou hoe God ons gedra en beskerm het en omdat ons weet dat Hy nooit verander nie, kan ons met sekerheid weet dat Hy ons ook in die toekoms sal dra en beskerm.


Geloof is immers om te vertrou op daardie dinge wat jy nie noodwendig kan sien nie.

Wednesday, 25 September 2013

Aftrede

1 Timoteus 6 : 17 … Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.
Volgens finansiele kundiges sal net 6% van die bevolking eendag onafhanlik kan aftree.  Dis genoeg om jou te laat hiperventileer.  Hoe gemaak as ek een van die 94% is wat dan of van die staat of van my kinders afhanklik sal wees?

Meeste mense probeer baie hard om voorsiening te maak vir hul aftrede, en is oortuig dat hul voorbereid is, maar dan is daar al die ander faktore soos inflasie en die wereldekonomie wat pandemonium saai onder ons planne.   En soms neem ons ingeligte besluite wat steeds skeefloop… iets waaroor ons nie altyd beheer het nie. 

Steven Covey skryf in sy boek The Seven Habits of Effective People oor die Circle of Control, Influence en Concern.  Basies kom dit daarop neer dat ons soveel tyd in die sirkel van kommer  vermors, waar ons eintlik geen beheer het nie, terwyl ons eerder ons energie moet fokus op die sirkel waar ons kontrole het of die sirkel waar ons ten minste ‘n mate van invloed het. 

Die Bybel is jare voor Steven Covey se topverkoper geskryf en tog is daar duidelike ooreenkomste.  Ons moenie fokus op dit wat ons nie kan beheer nie, maar eerder op God, want Hy is in beheer en Hy is die een wat ons toekoms kan beinvloed omdat Hy beloof om te voorsien.

Tuesday, 24 September 2013

Die stryd teen vet

Filippense 3 : 13 …ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Ek geniet werklikheidsreekse soos Biggest Loser.  Elke deelnemer is ‘n inspirasie, want hulle het besef dat hul iets moet doen om hul situasie te verander.  As jy kyk hoeveel hul insit en die determinasie op hul gesigte sien, kan jy nie anders as om hul te bewonder nie.  Wanneer die individu uiteindelik hul doelgewig behaal het, is hul byna onherkenbaar en is dit ‘n ware transformasie,nie net van die uiterlike nie, maar ook die innerlike. 

Daar is redes hoekom hul gewig so handuit geruk het, maar daar is ook hartseer daarin om te sien hoe mense hul liggame verwaarloos het.  Hoe dit ookal sy, hulle het ‘n keerpunt bereik en werp alles in die stryd teen die vetmonster.  Met ‘n onlangse reeks was dit ook fantasties om te sien hoe hulle dit terugneem na hul gemeenskappe en ander daar help om gewig te verloor  - paying it forward. 

Wat my ook opval, is hoe gewig mense se selfbeeld affekteer.  Dis asof die ekstra gewig hul menswees gesteel het.  Wanneer hulle die stryd gewen het, is dit asof hul weer tot die samelewing toegelaat word en ‘aanvaarbaar’ is. 

Dalk voer jy ook ‘n stryd teen die skaal.  Dis ‘n lang en uitputtende, meesal eensame stryd, maar onthou net dat jy tot alles in staat is omdat God jou die krag vir die stryd sal gee.  Maak jou eenvoudig los van die ou jy en visualiseer die nuwe jy.


Sunday, 22 September 2013

Om mekaar lief te hê

Maleagi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.
Beloof jy om haar lief te hê, haar te beskerm en by te staan? 
Wanneer ons met drome in ons oe voor die kansel staan en glo dat ons liefdesverhaal uniek is en beslis nie deel sal word van die egskeiding statistiek, is dit maklik om daardie woordjie te uiter.  Die toets kom wanneer die werklikheid inskop en ons oor kleinigheidjies verskil… dat dieselfde eienskappe wat ons na mekaar aangetrek het, ons begin irriteer… wanneer ons gewoond word aan mekaar en nie meer mekaar bewonder nie… wanneer finansies druk… of wanneer ons verskil oor die kinders se opvoeding… wanneer een persoon voel hy of sy doen alles in of om die huis…  Dan lyk egskeiding ewe skielik na ‘n uitkoms, want daardie persoon se blote teenwoordigheid wek ‘n weersin in ons. 
Die naweek het ‘n familielid getrou en ek het by myself gewonder hoe dit moontlik is dat ons land so ‘n hoe egskeidingsyfer het as ons soveel geluk en drome voor ‘n kansel sien staan?  Dalk is dit my eie worsteling met tweede huwelike.  Hoe kan jy ‘n tweede keer belowe ‘tot die dood ons skei’ as jy die eerste belofte verbreek het?  En tog… niemand beplan om te skei nie, so waar gaan dit verkeerd?  Is ons oor realisties of is ons bloot dromers wat ‘n illusie najaag?  Of gee ons te maklik op? 





Thursday, 19 September 2013

Dieselfde God


Markus 4 : 37  Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.


Dis maklik om God te dien as dit goed gaan.  Die uitdaging kom wanneer jy stormwaters binnevaar.  Dan wankel ons geloof en twyfel ons of God regtig in staat is om ons veilig deur, en anderkant uit, by te staan.  

Daar is ‘n ondeurgrondelike waarheid waarvan jy moet kennis neem.  God het nog niks verander nie.  Hy tree nie anders teenoor jou op as jy deur moeilike tye gaan nie.  God is gister, vandag en ook môre presies dieselfde.  

Hy het nog nooit op Sy Woord teruggegaan nie.  Sy beloftes is op skrif in die Boek van die Waarheid opgeteken soos die storm wat Hy gestil het.  As jy Die Man ken, sal jy weet dat jy nie een tree hoef te hardloop nie.  Jy hoef net te gaan stilstaan, jou hande uit te steek, en Hy sal jou optel deurdra.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...