Wednesday, 31 August 2016

'n Nuwe begin

Markus 2 : 22 “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.”

Is jy gereed vir die volgende vlak… geestelik, fisies en emosioneel? Soms hoor ons dat God meer vir ons in stoor het en ‘n flammetjie van hoop begin flikker.  So kom die Gees in lyn met God se wil, maar ander kere word ons met twyfel gevul.  Dan dink ons:  “Dit sal nooit gebeur nie…  Alles is teen my… Ek het die dokter se verslag gesien en sy woorde gehoor… dis finaal…”

Hoor vandag God se hart.  Dis die ou wynsakke… dis die ou manier van dink en dit moet afgeskud word.  Hierdie is ‘n nuwe seisoen.  Wat gebeur het, behoort tot die verlede.  Al die teleurstellings… al die kere wat ek dit nie gemaak het of dinge nie uitgewerk het nie… dis verby.  God is steeds in beheer.  Ek gaan my denke vernuwe en ‘n nuwe visie vir my lewe kry.  Hierdie hoofstuk is afgesluit.  My denke is vernuwe en ek is gereed vir die nuwe avontuur.

Tuesday, 30 August 2016

Geloof

Romeine 10 : 17  Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

Volgens die Skrif het elke persoon ‘n mate van geloof ontvang.  Kom ons vergelyk dit met ‘n saadjie.  As elkeen van ons ‘n saadjie ontvang, gaan party dit plant.  Ander gaan nie eens moeite doen nie.  Van die wat geplant word, gaan party die plantjie vertroetel totdat en versorg en uiteindelik iets oes.  Ander sal dalk flink wegspring, maar later vind dis te uitputtend en opgee.

Net so kan geloof slegs groei en meer word as jy daaraan werk.  En net so sal party vasbyt terwyl ander met die eerste teestand gaan opgee.  Hoe gaan ons, ons geloof laat groei? Deur God se woord te lees en te lees en te lees… en deur deurentyd te bid.  Sodoende leer ons God se hart ken en so ‘n klein bietjie van Hom verstaan.  Hoe meer jy die Bybel lees, hoe meer breek die woord oop en vind jy klein brokkies wat jou bemoedig en inspirer.  Jy sien hoe getrou God is.  Jy sien waartoe Hy in staat was en hoe Hy deur al die eeue presies dieselfde gebly het.  Jy leer dat God nie kan jok nie, dat Hy getrou aan Sy beloftes is. En as jy jou weer kom kry, vertrou jy Hom en glo jy volkome in Hom.

Net soos daardie saadjie water en versorging nodig gehad het, net so het ons geestelike voedsel nodig.  Jou geloof moet gelawe word deur geestelike water. Skryf dit neer, lees dit oor en oor.  Laat toe dat Sy waarheid jou vul en vrymaak sodat jy absolute geloofsvryheid kan beleef.

Monday, 29 August 2016

Moenie eens probeer verstaan nie

Jesaja 55 : 9  soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes

So baie kere het ons ons eie idees omtrent hoe dinge in ons lewe behoort te verloop.  God se manier van doen en dink, is nie noodwendig hoe ons oor dinge dink of verwag dit moet gebeur nie.  Petrus het geld nodig gehad om belasting te betaal.  Ek en jy sou dink dat Jesus in staat sou wees om sy hand te swaai en woeps daar lê die geld.  Jesus stuur egter vir Petrus viswaters toe.  “Gaan vang ‘n vis, maak die vis se bek oop en daar sal jy die geld vind!”  God kon Sy Seun aarde toe gestuur het soos hy vertrek het… op ‘n wolk, maar nee, hy laat Jesus baar deur ‘n maagd! 

God kan dus dinge op die mees onkonvensionele maniere laat uitwerk.  Jy doen dalk al maande aansoek vir werk en gee uiteindelik moed op.  Uit die bloute bel iemand jou met ‘n werksaanbod!  Julle hoop al so lank op ‘n eie kindjie, maar niks gebeur nie.  Net sodra jul hoop opgee, raak jy swanger.

Met God moet jy nie eens probeer om dinge te verstaan nie.  Jy moet eenvoudig glo. In die Engelse Bybel… in Spreuke, lees ons:  “Lean not to your own understanding.”  Soms is daar eenvoudig nie ‘n logiese verklaring nie.  Skakel eenvoudig jou verstand af.  Net omdat jy geen uitkoms sien nie, beteken nie dat daar geen uitkoms is nie.  

Sunday, 28 August 2016

Reën

Deuteronomium 33:13  Oor Josef het Moses gesê: “Mag sy land deur die Here geseën word: met die beste uit die hemel, met dou en met die beste uit die water diep onder die grond,

Terwyl ek hier sit ek skryf, val die reën saggies buite.  Dit is daardie gerusstellende reën wat reëlmatig neersak.  Vir my was reën en seen nog altyd sinoniem.

Ek kan al die bemestig inwerk in my tuintjie en ek kan dit water gee, maar wanneer dit reën is dit asof die plantjies ekstra voeding gekry het.  Of dalk is dit wat nie in reënwater is, wat die verskil maak.  Daar is geen chemekalië in nie, net suiwer Godgegewe seen.

Ons drink kraanwater of gebottelde water, maar geen water kan doen wat God se seen wat op ons neerreën kan doen nie.  Dit suiwer ons. Dit les ‘n dors in ons wat nooit geles kan word nie.  God is die Een wat ons Ewige Lewe gee.

Here, laat U seen op ons neerreën.

Thursday, 25 August 2016

Geloofstuine

Josua 15:19  en sy antwoord: “Gee my 'n stuk vrugbare grond
Ons het gister saailinge geplant.  Natuurlik kon ek nie sommer net tuin toe stap en die plantjies begin indruk nie.  Ek moes kyk na die tuin en besluit wat die beste plekkie vir hul sou wees.  Skadu of son, of ‘n mengsel daarvan?  Eers moes ons die grond goed voorberei en ontslae raak van alle onkruid.  Daarna kon ons eersdie plantjies plant.
Hierin is tog ‘n ooreenkoms met ons geloofspad.  Jy moet ook goed na jou lewe kyk en raaksien waarvan jy ontslae moet raak.  Is daar dalk ‘onkruid’ wat uitgeroei moet word?  Is daar ‘n goeie balans van ‘sonskyn’ en ‘skadu’ in jou lewe of is dit net heeltyd speeltyd?  Dan begin die voorbereiding… Bybel lees, bid, glo, vertrou… en dan word daardie geloofsaadjie geplant sodat dit kan wortelskiet, groei en begin vrugte dra.
Niemand sal ‘n tuin versorg sonder dat daar enige voordeel in is nie.  Jy wil blomme, vrugte of groente sien wanneer die plant wasdom bereik. 
Geen plant sal egter floreer of vrugte dra as dit nie versorg word nie.  Jy moet voortdurend water gee, plae bestry en dalk selfs bietjie uitdun of terugsnoei. 

Hoe lyk jou geloofstuin?

Wednesday, 24 August 2016

Die reis

Genesis 28:20  Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,
Op ‘n prentjiemooi laat Wintersmiddag ry ek huis toe in die bus. Die lug is assuurblou en daar is nie ‘n briesie nie.  Regs van ons lê Tafelberg in al sy glorie.  Ons is so naby dat jy elke boom en paadjie kan sien.  Die perfek gelyk boonste deel skakeer in teen die blou lug. 
Die ironie is dat bitter min van my mede-passasiers hierdie oomblik indrink.  ‘n Groot groep sit met geslote oë.  Dalk haal hul verlore slaap in. Dalk wil hul net rus of reflekteer op die dag.  ‘n Ander groep is besig op hul selfone… Facebook, WhatsApp, Twitter, Media 24…  Ek voel of ek kan opspring en skree:  “Ons ry verby een van die sewe wonders van die wêreld, kyk!”  Ok, ek weet ons ry elke dag daar verby en die berg sal more steeds daar wees, maar kyk net hoe mooi is hy vandag!
Die twee kabelkarretjies skuur verby mekaar, elkeen in sy eie rigting.  Vir sommige is die ervaring amper verby, maar vir ander lê dit nog voor.
Dit is soos die lewe ook is.  Vir sommige van ons is die lewe so te sê verby terwyl dit vir ander nog skaars begin het.  Die vraag is of jy elke oomblik van die reis geniet het?  Het jy die klein wonderwerkies raakgesien of was jy vasgevang in jou eie probleme of gedagtes?

Ons mis so maklik uit op asemrowende oomblikke omdat ons op die verkeerde dinge fokus.  Maak tyd om hierdie oomblikke in te drink.  Ons het die mees ‘amazing’ mede-reisiger:  God.

Tuesday, 23 August 2016

Wees genadig

Efesiërs 6:9  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid.
Met al die tuinwerk gister, voel ek vandag beslis my ouderdom.  Ek het pyne waar ek nie eens geweet het ek spiere het nie.  As ek opstaan of gaan sit, doen ek dit soos ‘n hoogswanger vrou.  Trappe is ‘n uitdaging.  Gelukkig het ek vandag om te rus en my moeë spiere te laat rus.
Dit het my laat wonder oor mense wat elke dag sulke fisiese arbeid moet verrig. As eienaar, besef jy wat dit van hul neem om hul dagtaak te verrig?  Dink jy ooit daaraan dat hulle moeg raak of seer is?  Op ‘n stadium gister toe ek die graaf weer met mening in die grond instamp en my voet moet oplig om dit dieper in te trap, voel ek ‘n duiseligheid my omgewe.  Ek is moeg… ek is seer en ek besef ek het die einde van my kragte bereik, maar ek moet klaarmaak, want in die week is daar nie tyd nie.  Gelukkig kon ek self besluit of ek voortgaan al dan nie.  Hoe gemaak as jy vir ‘n baas werk en ook so voel?

Vandag wil ek by jou pleit om na jou werksmense te kyk… werklik te kyk. Hul is mense, nie masjiene nie.  Hulle raak moeg… hul liggame raak ouer… elke dag neem dit dalk meer en meer wilskrag om aan te hou doen wat hul doen.  Meeste van hul het nie ‘n keuse nie.  Hul het verantwoordelikhede en nie die luukse van ‘n pensioen om na uit te sien nie.  Daar is min of meer niks om hul te dryf behalwe oorlewing nie.  Moet hul nie sommer net as lui afmaak nie.  Probeer hul verstaan en betoon medemenslikheid teenoor hul.  Hoeveel van hulle kan ‘n fisioterapeut bekostig?  Pyne word heelwaarskynlik met drank bedwelm.  Dalk kan jy iets doen om die lewe vir hul makliker te maak.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...