Wednesday, 30 November 2016

Die geveg in jou kop

2 Korintiërs 10 : 4  Dus het ons nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het immers vroeër al tot by julle gekom met die evangelie van Christus.

Die Skrif leer ons dat daar voortdurend ‘n geveg in ons binneste plaasvind.  Ons denke dikteer ons aksies.  Dis hoekom die vyand alles sal doen on jou gedagtes in ‘n verkeerde rigting te stuur. Partykeer is dit nie ons eie denke wat ons terughou nie, maar die negateiwe dinge wat ander oor ons kwyt geraak het.  Daardie woorde is soos onkruidsaadjies.  Hulle skiet saad en jy kry hul eenvoudig nie uitgeroei nie.  Hoor nou mooi, as jy hierdie gedagtes ‘n halwe kans gee, gaan hul jou realiteit word.

Daar is mense wat die vermoë het om jou onder te kry.  Hul woorde of optrede verwond jou.  Hierdie mense se gedrag behoort nie ‘n invloed op ons te hê nie, want ons weet dis nie die waarheid nie, maar weereens kry dit vatplek wanneer ons dit nie uit ons kop kan kry nie. 

Op die ou end glo ons hierdie leuens en nie wat God van ons sê of dink nie.  Die enigste manier om die siklus te breek, is om te lees wat God oor jou sê.  Sy Woord is vol van liefdesbetuigings teenoor jou, so jy is spesiaal.  Hy het vir jou aan die kruis gesterf… jy is kosbaar.  Jou naam is in Sy handpalms gegrafeer!  

Tuesday, 29 November 2016

God is daar elke tree van die pad

Psalm 32 : 8  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou

Met die dat die matrieks klaarmaak met hul eindeksamen, is dit vir hul ‘n onseker tyd in hul lewe.  Besluite, besluite, besluit!  Ons is maar almal versigtig wanneer daar groot besluite geneem moet word.  Of dit nou besluite is oor jou beroep, verhoudings, of toekoms… dit bly belangrik om die regte besluit te neem. Die probleem is net dat ons nooit weet wanneer ons daardie besluit neem of dit die regte een is nie.  Ek het al besluite berou, maar die lewe is nie soos ‘n videoband wat jy kan terugspeel en van voor af begin nie.

Genadiglik weet God wat die regte pad is.  Jy mag Hom vra om jou duidelikheid of wysheid te gee om die regte besluite te neem.  Hy hou wag oor nou… elke tree van jou lewenspad.

Een ding moet jy weet, God is nie net op die eindbestemming ingestel nie, maar op elke fase van die pad.  Hy aanskou in verwondering hoe jy ontwikkel en groei.  Hy kyk afwagtend of jy groei in geloof.  Geloofsgroei vind gewoonlik plaas gedurende daardie tye dat die lewe met ons gebeur, wanneer omstandighede onseker is en jy tot die uiterste beproef word.  Dis wanneer ons meer op God vertrou.  Dit maak egter nie saak hoe onseker jy is nie, God hou deurentyd Sy oog op jou.  Onthou altyd dat God jou nooit, ooit in die steek sal laat nie, selfs wanneer jy geen idee het wat die toekoms inhou nie.

Monday, 28 November 2016

Talente en geskenke

Spreuke 18 : 16  'n Geskenk maak vir 'n mens die pad oop en gee hom toegang tot mense met mag.

Wanneer mense die verhaal van Dawid en Goliat hoor, dink hul gewoonlik dit is alles te danke aan God en ja, in ‘n sekere sin was die hand van God betrokke, maar God het nie die slingervel geswaai nie.  Dawid het ‘n rol gehad om te vertolk.  God het vir Dawid die talent gegee wat hy ontwikkel het sonder dat hy ooit geweet het hy sou daardie talent eendag nodig kry op ‘n baie belangrike oomblik.

Net soos met Dawid, het God ook talente binne jou geplaas sodat jy jou reuse kan omklits.  Jy het alles binne jou om deure oop te maak.  Jou talente is genoeg om vir jou ‘n lewe van oorvloed te verseker, maar die sleutel tot sukses is dat jy jou talente moet ontwikkel.  Elke dag wat jy groei, leer en verbeter, is voorbereiding vir groter dinge.

Die geskenke / talente binne jou gaan vir jou die pad oopmaak en toegang gee tot die mense met mag.  Alles sal op die regte tyd gebeur.

Sunday, 27 November 2016

Ek kan nie wag nie!

Psalm 118 : 24  Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees

Toe jy vanoggend jou oë oopgemaak het, wat was jou eerste gedagte?  Aag nee, die Maandag… hoekom is dit nie naweek nie?  O, hoe gaan ek deur hierdie week kom!  Urgh… 5 dae van werk… 5 dae saam met idiote… 5 dae onder daardie baas van my… En toe trek jy die kombers oor jou kop en besluit jy gaan nog so 5 minute lê om moed bymekaar te skraap om die dag aan te pak.

Ek gee toe, soms is dit bloot plig wat ons dwing om uit die bed te klim en te doen wat van ons verwag word.  Of soos ek altyd sing:  “I owe, I owe… and off to work I go.”  Wanneer jy aan jou verpligtinge dink, besef jy baie gou dat jy maar moet twee keer dink voor jy eenvoudig weier om te gaan werk.

Dalk sal dit help as jy jou uitkyk op die nuwe dag verander.  Dis ‘n dag wat God gemaak het.  Maak hy foute?  Nee, Hy het hierdie dag haarfyn beplan en Hy het jou nodig om jou deeltjie te gaan doen.  Staan met ‘n lied in jou hart op en weet dat jy vandag ‘n rol het om te speel.  Iewers kan God jou gebruik om iemand se dag op te helder.  Begin met afwagting uitsien na die geluk wat jy in iemand se oë gaan sien.  

Thursday, 24 November 2016

Dankbaarheid

Tessalonisense 5:18  Wees in alle omstandighede dankbaar

Iemand sê die week iets wat my nogal aan die dink gesit het.  Wat sou ek vanoggend gehad het as ek net sou hê dit waarvoor ek God gister(aand) bedank het?

Ons neem soveel as vanselfsprekend dat ons vergeet of dink dit is nie nodig om dankie te sê nie.  Al is jy die rykste en vernaamste mens in die wêreld, is niks gewaarborg nie.  Jy mag reken jy het hard gewerk vir dit wat jy het, maar sonder die deure wat vir jou oopgegaan het, of die geleenthede wat oor jou pad gekom het, sou jy nie gewees het waar jy vandag is nie.  Wat ons het, is net genade. 

Daarom is dit nodig dat ons ‘n lewe van dankbaarheid leef.  Ek praat nie van ‘n jammer-dat-ek-leef houding nie, ek praat van erkenning gee vir die Een wat my met soveel seëninge bederf.

En as jy iemand is wat min het, dank God ook vir die min wat jy het.  Daar is altyd rede tot dankbaarheid.

Wednesday, 23 November 2016

Homoseksualiteit

1 Korintiërs 6 : 9 – 10  Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie

Die relevansie van Die Bybel in vandag se tyd, word al jare lank bevraagteken.  Die mees onlangse debat rondom die toelaatbaarheid van gay huwelike in die NG Kerk is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Net omdat die samelewing iets aanvaar, beteken dit nie dat dit vir God aanneemlik is nie. 

Dit breek my hart om hierdie teks vandag te deel, want ek het dierbare gay vriende en kollegas en ek het hul nog nooit die rug gekeer, en sal ook nooit, want ek staan nie in hul skoene nie.  Juis daarom is dit nie vir my om te besluit wat is aanvaarbaar en wat is nie aanvaarbaar nie.  Net so is dit nie my besluit of iets sonde is, al dan nie.  Ek hoor ook Jesus se woorde:  “As een van julle sonder sonde is, tel dan die eerste klip op…” Ek sou ook moes omdraai en wegstap, want ek is nie sonder sonde nie en daar is nie groot en klein sondetjies nie. 

Elkeen van ons sal egter eendag rekenskap moet gee.  Die Bybel is egter ons kompas… dit wys ons duidelik watter rigting om in te slaan sodat ons eendag deel kan hê aan God se koninkryk.

Bid oor hierdie aangeleentheid en vra God om jou te lei.  Dit is seker een van die moeilikste paadjies om te stap.  God se liefde vir die mens kan nooit bevraagteken word nie.  Dit is net ons optrede / gedrag wat vir hom aanneemlik is of nie.

Tuesday, 22 November 2016

God se planne

Genesis 50 : 20  Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen

Wanneer ongeluk ons tref, wonder ons dikwels hoekom God dit toelaat. 

Toe Josef se broers hom in die put gegooi het en hy as slaaf na ‘n vreemde land weggevoer is, het hy verseker ook gewonder hoekom dit met hom gebeur. 

Ons ken die geskiedenis.  Uiteindelik was Josef die persoon wat ‘n hele volk van hongersnood gered het.  Jare later kon hy die woorde in die teks hierbo teenoor sy broers uiter omdat hy toe eers God se plan verstaan het.

Of jy nou vandag deur ‘n egskeiding gaan, jou besigheid verloor het of werkloos is… waarmee jy ookal worstel, weet vandag dat God ‘n groter plan het.  Ek weet dit is moeilik om dit te glo, maar eendag gaan jy op hierdie tyd in jou lewe terugkyk en erken dat dit eintlik vir jou eie beswil was.

Ons wil so graag hê dat God dinge nou moet verander of ten minste weer maak soos wat dit was, maar dis nie altyd moontlik of nodig nie.  Partykeer is ons vir groter dinge bestem, soos Josef, en moet ons deur dit wat ons nou deurmaak groei om toegerus te wees vir ‘n groter taak.  Josef was die jongste en het ‘n beskermde lewe in sy ouerhuis gehad, maar God moes hom toerus vir iets baie groter.

Vertrou dat God in beheer is en laat Hom toe om jou te gebruik in Sy groter plan.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...