Tuesday, 31 October 2017

Ingestel op Sy leiding

Jesaja 55 : 12  Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word

As jy na jou lewe op die oomblik kyk, is jy gelukkig?  Is jy op die plek waar jy wil wees?  Het jy bereik wat jy wil bereik? 

Indien jy ja op hierdie vrae kon antwoord, is jy ‘n baie gelukkige persoon en rus God se guns oor jou lewe en dit is fantasties.  Dit is presies wat God vir jou ingedagte het.  Ongelukkig glo ons dit nie almal nie. 

Party van ons bly glo dat ons nie verdien om gelukkig te wees nie.  Ons glo dat ons deurbraak eendag sal kom, maar dit bly ‘n vae hoop, nie ‘n vaste vertroue nie.  Ander word so teruggehou deur hul verlede dat hul nooit hul volle potensiaal bereik nie.  Ons bly vashaak in Babel, ons kom nie daar weg nie.

God weet wat die beste vir jou is.  Hy weet presies wat jy nodig het en selfs wanneer jy dit nodig het.  Op die regte tyd stuur hy die regte mense oor jou pad en alles val in plek.  Hy weet waar die gevare lê en waar die goeie geleenthede wag.  Jy moet leer om jou innerlike vrede te vertrou wat jou gaan aanpor om te beweeg.  Selfs al lyk dit asof alles teen jou is, as jy in jou binneste voel die tyd is ryp, neem die eerste tree. 

As jy egter nie algehele gemoedsrus het nie, is dit nie die regte skuf nie.  As daardie stemmetjie vir jou sê dis nog te gou… dis nie die regte vennoot nie… die prys is nie reg nie… wag… dan moet jy liewer wag… wag, want dit is God wat met jou praat.

Onthou egter altyd dat God jou wil help, met die groot sowel as klein dingetjies.  Hy wil sy guns oor jou uitstort en al die lewe se frustrasies en kommer wegneem.  Wanneer jy ingestel is op Sy leiding, as jy volg in Sy vrede, sal Hy jou lei na seëninge en oorwinnings wat Hy vir jou gereed gemaak het.

Monday, 30 October 2017

Halloween

Deuteronomium 18 : 9 – 12  “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.  Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar  of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.  Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.

Op die 31ste Oktober word Halloween gevier, meesal in Amerika.  Stadig maar seker is die saadjies besig om na Suid-Afrika oor te waai.  Daar word alreeds van die items verkoop en al meer publisiteit word daaraan verleen.  Daarom is Halloween partytjies glad nie meer vreemd nie.  Kostuums, verligte pampoengesiggies, speletjies soos 'trick or treat'... dis tog onskuldige pret, nie waar nie? Die ‘World Book Encyclopedia’ verklaar: "Die oënskynlik skadelose, verligte pampoen gesig van die Jack -O-Lantern is 'n antieke simbool van 'n verdoemde siel".

Dit is hoe uitheemse plantegroei hier in ons land wortel geskiet het en nou ons natuurlike bronne bedreig.  Een saadjie ontkiem en voor jy jou kom kry sit jy met plantegroei wat ons skaars waterbronne uitput en die inheemse plantegroei laat swaarkry.

Halloween is wel ‘n godsdienstige dag, maar nie Christelike dag nie.  Tom Sanguinet, ‘n
voormalige hoë priester in Wicca het gesê:  “Die moderne vakansie wat ons Halloween noem, het sy oorsprong in die volmaan naaste aan 1 November, die hekse se ‘nuwe jaar’. Dit is ‘n tyd wanneer die geeste (demone) veronderstel is om ‘n hoogtepunt van hulle krag en bedrywigheid te bereik en dan weer die aarde besoek… Halloween is geheel en al, absoluut boos. Daar is niks wat ons ooit kan doen, of gedoen het, wat dit enigsins aanvaarbaar vir die Here Jesus sal maak nie.”

Ons kan nie toelaat dat uitheemse plantegroei (heidense gebruike) ons inheemse plante (Christelike geloof, gelowiges, veral kinders) oorheers en uitroei nie.  Net soos die uitheemse plantegroei ons natuurlike bronne uitbuit en oorneem, sal hierdie gebruike ook ons geloof afwater tot ons nie meer die verskil tussen reg en verkeerd ken nie.

Dit is tyd dat Christene opstaan vir wat reg is en nie net weier om deel te neem aan die rituele nie, maar hul opinie daarteen heftig uitspreek en kapsie maak daarteen dat ons en ons kinders mislei word.  Jy is of vir God of teen Hom.  

Sunday, 29 October 2017

God van die buitengewone

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

Die Engelse vertaling lees:  “Is anything too hard for God?”

In die Kaap heers die grootste droogte in menseheugenis.  Jy begin heel anders dink oor water.  Elke druppel word gespaar en sover moontlik meer as een keer gebruik.  Persoonlik erken ek dat ek besig is om manies te raak oor waterbesparing.

Twee keer ‘n dag bad of stort is so uit soos die spreekwoordelike koekies in ‘n weeshuis.  Daar word nie eens meer elke dag gebad of gestort nie.  Selfs Premier Helen Zille erken sy stort net elke 3de dag.  Toegegee dit is nog nie Somer nie, so ons kan nog wegkom met ‘n lappie, seep en ‘n kommetjie water vir die strategiese plekkies. Die dreineringspype is besig om uit te droog, want ons tap nie meer water direk in ‘n wasbak nie.  Solank dit in ‘n kommetjie is, kan ons dit buite op ‘n plantjie gaan gooi.  Glo my ‘n plantjie wat smag na water, gee nie om dat daar ‘n bietjie seep of versagmiddel in is nie.  Skielik gril jy vir wat altyd in jou afvoerpype afgegooi is, maar weereens, die plante kla nie oor ‘n bietjie vetterige skottelgoedwater nie.  Die wasmasjien se water loop in ‘n houer en word ook tuin toe gedra.  Oral staan emmers, komme en houers met water.

Ons bad het sowat ‘n maand gelede ook bevordering gekry.  Hy is nou amptelik ‘n opgaartenk.  Daarmee spoel ons die toilette en as die kommetjies nie voldoende is nie, kan die plantjies ook hieruit voordeel trek.

Ek begin al meer van die hart van ‘n boer verstaan, want skielik raak ek ook opgewonde as ek ‘n paar wolkies sien.  En ek is net so mismoedig as die weervoorspelling reën voorspel en die wolkies trek verby.  My keel trek toe.  Mense kan nog gaan water koop, maar wat van die diere?  Jy hoor al meer en meer van boere wat hul eie lewe neem omdat hul nie meer hul diere se lyding kan aanskou nie. 

En dan is daar nog steeds minder as 50% van die inwoners van die Stad Kaapstad wat die herhaalde versoeke op waterbesparing ernstig op te neem.  So hoor ek van iemand wat nie omgee hoeveel water hul gebruik nie, want hul woon in ‘n kompleks en die heffing word verhaal of hul bespaar of nie!  Regtig! 

Logika sê vir jou dat die afmetings van hierdie probleem net gaan eskaleer, want daar is nie meer ‘n moontlikheid van reën nie. Die Winter is amptelik verby.  Ons gaan die warm droë Somer tegemoet met damvlakke van onder 40% en mense wat steeds reken daar is geen rede tot kommer nie.

As Christen hou jy egter aan bid. “Here, U het geluister na Abraham se gesmeek om die stede te spaar waar Lot gebly het, as daar net 10 regverdiges sou wees.  Ek wil glo daar is darem so 10 regverdiges wat aanhoudend bid vir uitkoms, Here. Here, net U kan ons red.  Die reënseisoen is verby, maar U is ‘n God van die onmoontlike.  Dalk is dit wat U wil wys Here, dat as dit buite seisoen reën dit net van U kan kom… ‘n wonderwerk, asb Here.  Ons smeek U om uitkoms.”   

En dan bewys Hy Homself as ‘n God van die buitengewone… ‘n God vir wie niks te moeilik is nie.  Ons kry twee keer in een week goeie reën. Prys die Here!  Dankie, dankie, dankie.

Is dit genoeg om ons deur te dra?  Nee, maar dit plaas ons in ‘n beter posisie as daarsonder en as ons aanhou bid, glo ek dat God Homself weer aan ons sal openbaar.  Bid asseblief saam met ons… nie net vir die Weskaap nie, maar vir elke gebied in ons land waar daar waternood is of sal wees as God nie voorsien nie.  Die mens het so magtig geword... ons kan enige iets doen... soos 'n voël deur die lug vlieg, mense maan toe stuur, harte oorplant, krag opwek, hemelhoë geboue bou, maar ons kan nie water maak nie.  Ons is steeds van God afhanklik al wil nie almal van ons dit erken nie.

Thursday, 26 October 2017

Geduld

Romeine 9:22  En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.

Waar sou ons wees as God Sy geduld met ons sou verloor?  Dit het alreeds eenkeer gebeur met die sondvloed en dit gaan weer gebeur.

God se verdraagsaamheid en Sy liefde vir die mens is al wat ons het. Hy wil nie dat een siel verlore gaan nie en daarom gee Hy ons kans op kans op kans. 

As ons maar net so verdraagsaam teenoor mekaar wil wees.  En ons raak al ongeduldiger en meer onverdraagsaam teenoor mekaar by die dag.  Sommer van kleins af gooi ons ‘n ‘tantrum’ as dinge nie verloop soos ons dit wil hê nie.  Ek, ek, ek… Wat is dit met ons?  Ons ontvang genade, maar ons betoon geen genade nie.  Ons maak foute, maar ons het geen tyd vir ander se foute nie.

Hoeveel keer is ons ongeduld nie die oorsaak vir ander se pyn nie? Veral in die kitswêreld waarin ons leef, wil ons nie aan verhoudings werk nie. As jy nie soos ek dink nie, het ek eenvoudig nie tyd vir jou nie.  Swem saam met die stroom of kry jou eie stroom.

Here, wat ongeduld aanbetref staan ons almal in skaamte voor U, maar ook hier weet ons dat ons moet verander.  Laat die eie ek asseblief sterf sodat ek ander met dieselfde verdraagsaamheid behandel as wat ek verwag hul my mee sal behandel. 

Wednesday, 25 October 2017

Vrede

Filippense 4:7  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Hoe begeer ons nie vrede nie.  Van altyd af is daar onmin en onvrede tussen mense.  Ons gun mekaar eenvoudig nie ‘n plekkie in die son nie.

Die vers wat hierdie een voorafgaan lees:  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Uiteindelik kom alles terug na God.  Op ons eie is ons tot niks in staat nie, maar op ons knieë en wanneer ons hom erken, ook as die groot Vredemaker, dan ontvang ons ware vrede… vrede ver bo ons begrip.

Ons teken vredesverdrae, probeer mense saamsnoer met organisasies, maak seker ons wapens is beter as die opponent s’n, praat en praat en praat… en eintlik jaag ons, ons eie sterte.  Daar kan nie vrede wees alvorens God nie die middelpunt van ons bestaan is nie.

Here, ons erken vandag dat ons U nodig het om ware vrede te bring.

Tuesday, 24 October 2017

Vreugde

Psalm 37:4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Baie van ons vereenselwig vreugde met geluk.  As ons gelukkig is sal ons vol vreugde wees.  As ons eers bates, sukses, ‘n maat het… dan sal ons van vreugde straal en gelukkig wees.  Tog bly geluk ons ontwyk.

Dit is omdat God nie op dieselfde manier as ons opereer nie.  Hy werk eintlik agterstevoor.  Wees eers bly, dan kry jy sommer alles wat jy wil hê.

Hoe vind ek my vreugde in God?  Hy is nommer Een in jou lewe, die alfa en omega.  Jy streef daarna om soos Hy te wees.  Alles wat jy doen, doen jy tot eer van Sy naam.  Jy vra nie net na Sy wil, maar bly binne Sy wil.

Wanneer ander na jou kyk, moet hul begeer om ook soos jy te wees.  Hulle moet wonder hoekom jy so straal.  Dit beteken nie dat dinge nie in jou lewe gaan verkeerdloop of dat jy nie versoek sal word nie, maar dit is om ten spyte van alles, soos Job, God steeds te dien met alles binne jou omdat jy weet waar jou krag vandaan kom.

Here, U is my alles.  Help my om elke oomblik van elke dag my vreugde in U te vind.

Monday, 23 October 2017

Liefde

1 Korintiers 13 : 4-7  Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die eerste vrug van die Gees is liefde. Korintiërs 13 leer ons wat liefde is en nie is nie.  Om hierdie vrug van die gees te dra sodat daar ‘n verskil in die wêreld rondom ons kan plaasvind, gaan nie maklik wees nie. 

Liefde… God het so sterk hieroor gevoel dat Hy dit alreeds in die Tien Gebooie verewig het.  Jy MOET jou naaste liefhê… dis nie onderhandelbaar of afhangende van omstandighede of die ander persoon se optrede teenoor jou nie.  Verder het ons die beste voorbeeld van ware liefde… ‘n Vader wat Sy Enigste Seun offer ter wille van ‘n sondige mensdom. 

Menige ouer sal erken dat hul soms nie baie van hul kinders hou nie, maar dit beteken nie dat hul daardie kind nie meer liefhet nie.  Ons moet leer om te onderskei tussen dade en individue.  Ek kan steeds liefde teenoor jou betoon al hou ek nie van dit wat jy doen nie.  Dit is juis hoe jy iemand reghelp, met liefde.

Met soveel verskille onder ons, is dit vanselfsprekend dat ons nie oor alles gaan saamstem nie, maar ons kan nog steeds in liefde verskil.  Daar is meer geleenthede opgesluit in diversiteit as wat daar verskille is.  Respekteer mekaar se verskille en gebruik dit tot voordeel van almal.

In plaas van na die verskille kyk na die ooreenkomste deur ‘n bril van naasteliefde.  Liefde kan alles oorwin.  Liefde kan eerlik genoeg wees om te erken ons is self nie perfek nie, maar bereid om onsself oop te stel en te leer.

Here, help my om my naaste deur U oë te sien, om eers die balk in my eie oog te verwyder alvorens ek reik na die balk in my naaste se oog.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...