Rom 12 : 11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly
altyd geesdriftig, dien die Here.
‘n Besigheid wat motiveringsmateriaal verkoop, het telefonies
met Tim Dumler 'n onderhoud gevoer. Hy het aan hulle vertel dat dit sy doelwit
was om hulle nommer een werknemer te word.
Toe hulle hom in lewende lywe ontmoet,
was hulle geskok om uit te vind dat hy byna heeltemal blind was. Hy het hulle
egter belowe dat hy 'n masjien sou koop wat letters vergroot. Dus, ten spyte
van al hulle twyfel, het hulle hom aangestel.
En dit was een van hulle beste besluite
ooit! Hy het vroeg werk toe gegaan, laat
gewerk en binne ses jaar was hy hulle top verkoopspersoon. Sy kliënte was mal
oor hom, want wanneer jy blind is, word jy 'n uitstekende luisteraar. Sy
kollegas was ook mal oor hom, want hy het 'n positiewe, sorgsame geaardheid
gehad. Hy het gesê: "Dit is jammer dat ek visueel gestremd is, maar juis
hierdie struikelblok het van my 'n beter mens gemaak. Ek besit veel meer as wat
ek nie besit nie."
Tim se gesindheid was die werklike rede
vir sy sukses. Wat ‘n voorbeeld is hy nie vir ons nie. Hoe geesdriftig is jy nog oor jou werk? Hoe voel jou kollegas oor jou? Leef Romeine 12 vandag en word ‘n Tim Dumler.