Tuesday, 19 August 2014

Vertroue



Jesaja 25 : 1  Here, U is my God!  Ek wil U prys en U Naam loof! U het wonders gedoen;  dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer.
Het jy al die gevoel ervaar dat God jou so verras het, dat jy nie kan ophou om Hom te loof en prys nie?  Dat jy voel asof jy op die hoogste gebou kan gaan staan en uitskree Here, U is my God!
Vertrou jy op God, of vertrou jy op ander?  Daar is mos ‘n gesegde wat sê:  “Dis nie wie jy is nie, maar wie jy ken.”  Wel, ek weet nie hoeveel invloedryke mense jy ken nie… ek weet ook nie hoeveel van hulle al vir jou deure oopgemaak het nie.  Ek ken egter die Koning van die heelal.  Mense het my al male sonder tal in die steek gelaat, beloftes verbreek, my ontnugter…  In kontras met hierdie ervaring, het God my nog nooit ooit in die steek gelaat nie.  Ja, daar was kere dat ek vir iets gebid het en Hy volgens my onkundigheid, nie my gebede verhoor het nie, maar elke keer was dit eintlik ‘n bedekte seen.
Jy kan God vertrou, daarvan kan ek getuig.  Weet jy wat ‘n verligting dit is wanneer jy dit die dag besef!  My toekoms is in God se hande en Hy het ‘n perfekte plan vir my lewe.  Ek kan rustig slaap, want die Koning van die heelal is in beheer!

Monday, 18 August 2014

Eensaamheid



Psalm 142 : 5 & 7 Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie.  Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk.
Ons dominee het Sondag oor hierdie onderwerp gepreek.  Dit het my regtig diep geraak omdat daar soveel mense is wat presies hierdie gevoel ervaar.  Hulle voel niemand sien hulle raak nie;  niemand gee vir hul om nie;  niemand kontak hulle nie.  Mariëtta Kruger het onlangs gesê ouderdom maak jou grys en deurskynend.  En dit is beslis nie net ‘ou’ mense wat eensaamheid ervaar nie.   Ten spyte daarvan dat ons selfone, Face book, Twitter, Linkedin, Instagram, ens het… ervaar meer mense eensaamheid wat hul tot depressie en mismoedigheid dryf.
Die boodskap het ook na 1 Samuel 22 gelei, waar ons dominee ons daarop gewys het dat Dawid daar, te midde van sy eensaamheid, mense het wat na hom kom met hul probleme.  In plaas van Dawid se eensaamheid op te los, gee God hom mense wat hom nodig het.  En dis net hier waar die boodskap ‘n interessante wending neem. 
So dikwels gaan sit ons op ‘n hopie in selfbejammering en glo dat niemand omgee nie en so vereensaam ons net al meer en meer. Ons moet begin om uit te reik,te midde van ons eensaamheid, want dan sal ons agterkom dat ons iets vir hulle kan beteken en kort voor lank is eensaamheid iets van die verlede.
Dit is nou maar net so dat mense nie met swaarmoediges wil meng nie, so jy sal die eerste stap moet neem en ander ‘n rede gee om na jou uit te reik.

Thursday, 14 August 2014

Volharding



Lukas 11:33 En niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.
Christy Brown is ‘n Ierse skrywer, skilder en digter wat gebore is as ernstig  serebraal gestremde.  Sy ouers het in Crumlin, Dublin, gewoon en hy was een van 22 kinders, waarvan net 13 oorleef het.
Vir jare was hy a.g.v. sy gestremdheid nie in staat om te beweeg of te praat nie.  Dokters het hom beskou as intellektueel gestremd, maar sy ma het aangehou om met hom te praat, sy bene en arms te oefen en probeer om hom die bietjie wat sy geweet het, te leer.  Op ‘n dag neem hy ewe skielik ‘n stuk bordkryt waarmee sy suster besig was af deur sy voet te gebruik en terselfdertyd maak hy daarmee ‘n merk op ‘n leiklipbord.
Teen die ouderdom van vyf jaar, was dit slegs sy linkervoet wat hy in staat was om te beweeg.  Deur sy voet te gebruik, was hy vir die eerste keer in staat om te kommunikeer.  Hy is alom bekend vir sy outobiografie “My Left Foot”, waarvan later ‘n “Acadamy Award-winning” rolprent gemaak is, met dieselfde naam.  Bernard Share, ‘n Ierse resensent het die boek beskryf as “the most important Irish novel since Ulysses”.  Hy het die vermoë gehad om die Ierse kultuur en humorsin met taal en sy unieke karakter beskrywing vas te vang.
Niks in die lewe kan jou terughou as jy die ondersteuning, liefde en wil om sukses te behaal het nie, nie eens ernstige serebrale gestremdheid nie.
Sommige van ons het nie eens die ‘verskoning’ van gestremdheid nie, ons het bloot nie genoeg vertroue in die talente waarmee God ons geseën het nie en so bly dit onder die spreekwoordelike maatemmer.
Where there is a will, there is a way (anonymous)

Wednesday, 13 August 2014

Oorwinnaars



Romeine 8 : 37  Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
Volgens die Skrif het Paulus dit nie maklik gehad nie.Tog het hy nooit gekla of homself bejammer of moed opgegee nie.  Nee, hy het ‘n visie van oorwinning gehad en eenvoudig geweet daar is werk om te doen. 
Ook jy moet onthou dat jy nie ‘n swakkeling is nie,dat jy niks kortkom nie.  Elke oggend dat jy jou oë oopmaak, moet jy onthou dat die Koning van die Heelal se asem van genade oor jou spoel.  Dis dan dat jy jouself herinner dat enige iets maar jou kant toe kan kom, want as oorwinnaar is jy reg vir die dag.
Siekte gaan jou nie onderkry nie.. die mislukte  verhouding gaan jou nie breek nie… die geliefde wat jy aan die dood afgestaan het, gaan die lewe wat God vir jou in gedagte het, nie ontspoor nie.  Moenie toelaat dat dit jou oorweldig nie.   Daar is nog soveel goeie dinge wat op jou wag.  
 Jy is gewapen met krag.  Kweek die mentaliteit van ‘n oorwinnaar, want die mentaliteit van ‘n oorwinnaar word ‘n oorwinnaar. 

Tuesday, 12 August 2014

By God is alles moontlik



Matteus 19 : 26  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
Wanneer laas was jy braaf genoeg om te sê: “Ek kan!”   Meeste van ons vind redes hoekom ons nie kan nie.  Ons is vinnig met verskonings en kan aan oorgenoeg redes dink wat ons poging in die wiele sal ry.  Dus beperk ons onsself.
Dis nou waar die Bybel daadwerklik van die werklikheid van ons sogenaamde onmoontlikhede verskil.  Volgens Die Skrif is ALLES moontlik by God.  Dus, ons moet net glo en Hom vertrou en… wa-la!  Dis reg, jou probleme kan oorkom word, jou drome kan vervul word, jy kan nuwe hoogtes bereik…  Jy mag dalk nie weet hoe dit gaan gebeur nie, jy’t dalk nie eens ‘n plan hê nie, wat nog te sê ‘n sakeplan of die finansiële vermoë,  jy mag dalk twyfel dat dit moontlik is, maar dit is binne jou bereik.   jy kan!
Van hierdie oomblik af, begin glo dat jy in staat is tot alles omdat jy die Lewende God aan jou kant het.  Maak dit jou mantra:  “Ek kan!”  Wanneer jy opstaan, wanneer jy in die verkeer is, wanneer jy in ‘n ry staan en wag, wanneer jy mismoedig is, wanneer jy twyfel… Jy kan, want God sê dat dit vir mense onmoontlik is, maar nie vir Hom nie.  Stadig maar seker gaan jou geloof groei en jy gaan glo en besef jy kan.  Mettertyd gaan jou geloof sodanig groei dat jy dit sal omarm en die seëninge begin ervaar wat Hy vir jou in stoor het.
Van vandag af is daar net twee woorde wat belangrik is in jou lewe:  “Ek kan!”

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...