Tuesday, 11 August 2015

Wat God besluit, sal gebeur

Jesaja 14 : 24 & 27  Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur. Die Here die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel?

Hierdie is nie ‘n ‘goeie nuus’ hoofstuk nie.  God is op die oorlogspad omdat die Assiriërs Sy volk tenagekom het.  God spreek harde woorde en Hy draai beslis nie doekies om nie.

In die tekste is daar twee boodskappe.  Die een is dat jy jou nie hoef te wreek op diegene wat jou tenakom nie.  Hulle pak is op pad.  Wanneer God genoeg gehad het, het Hy genoeg gehad en dan wil jy nie aan die ontvangkant van Sy toorn wees nie.  Keer dus die ander wang en verdra die onreg, al is dit ook hoe moeilik.  Reg en geregtigheid seëvier altyd.

Die tweede boodskap is dat niemand God kan keer nie.  Indien Hy Hom voorgeneem het dat jy geseën of gestraf moet word, afhangende van watter kant van die skaal jy jou bevind, dan sal dit gebeur.

Indien jy dus op God vertrou om jou uit ‘n situasie te red, kan jy verseker wees dat Hy jou nie in die steek sal laat nie.  Hy seën diegene wat hul vertroue in Hom plaas. 


Indien jy nie na Sy roepstem luister nie… wel… ‘Brace yourself!”

Monday, 10 August 2015

Nuwe paaie

Josua 3 : 4  want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie.

Die lewe verloop nie altyd soos ons dit beplan nie.  Dit verloop nog minder soos ons graag wil hê dit moet verloop.

Sondag pak ek my tassie en vertrek op ‘n kort sakereis… 2 dae.  Dinsdagmiddag, net toe ek gereed is om huiswaarts te keer, hoor ek dat die 2 dae na die hele week verleng word.  Onmiddellik dink ek dat my hele beplanning rondom 2 dae was en dat ek glad nie voorbereid is vir ‘n hele week nie, but the show must go on.

‘n Klomp mense span saam en die wiele begin rol.  Die volgende oggend is ek gereed vir die res van die week.

Wat ‘n aangename ervaring was dit nie?  Ek het die mees fantastiese mense ontmoet en seker die lekkerste 3 werksdae in ‘n baie lang tyd gehad.

Dis hoekom ek so mal oor ons Hemelse Vader is.  Hy weet altyd wat die beste vir ons is.  En die roete waarop Hy ons neem is gewoonlik baie meer skouspelagtig as die vervelige agterpaadjies waarmee ek en jy vertroud is.


God wil jou op ‘n nuwe pad neem.  Dit is nie wat jy verwag of op voorbereid is nie.  Is jy gereed?  Vertrou jy Hom?  Daar lê ‘n fantastiese tyd vir jou voor.  Sy weë is vir ons soms duister, maar as ons net onthou dat Sy planne vir ons altyd goed is, kan ons ontspan en saam met die stroom gaan.

Thursday, 6 August 2015

Moeg

Klaagliedere 4:17 Ons kyk ons oë moeg om hulp wat nie opdaag nie

Hoeveel van ons is moeg na liggaam en gees?  Dit voel of ons nie nog een tree kan gee nie.  Elke dag voel dit net of daar nog en nog van jou verwag word.  Soms is niks wat jy doen goed genoeg nie.  Jy voel oorweldig en asof jou keel toetrek.   Die kameel se rug is naby aan breek.

Volgens SADAG (South African Depression & Anxiety Group) se woordvoerder, neem 53% van Suid-Afrikaners nie hul volle jaarlikse verlof nie.  Dit word as die hoof oorsaak van depressie en angs gesien. 

Die rede hiervoor is hoofsaaklik dat werknemers vrees dat hul moontlik hul werk kan verloor as hulle nie alles insit nie.   Hulle sal alles doen om hulself relevant te hou en sover moontlik onmisbaar te maak.  Diegene wat wel vakansie neem, rus ook nie voldoende nie omdat jy in vandag se lewe jou werk saamneem op vakansie in die vorm van selfone, tablette, ens. 

Depressie en angsversteuring word selde oor gepraat.  Eerstens voel lyers skaam oor hul toestand en tweedens wil hul dit sover moontlik van hul werkgewers weghou omdat hul bang is dat dit teen hul gehou sal word. 

Die werksomgewing gaan nie verander nie.  Die druk gaan ook nie minder word nie.
 

Jou enigste hoop is in Christus.  En dit mag wees dat Hy van jou verwag om ‘n dokter, sielkundige of Psigiater te besoek sodat jy mediese hulp kan kry om die chemiese wanbalans moontlik met medikasie en rus te herstel.  Met die nodige hulp en geloof in God, sal jy selfs meer produktief wees.

Rus lekker uit die naweek en geniet Vrouedag.

Wednesday, 5 August 2015

Vlêrmuise

Psalm 70:6 Ek is hulpeloos en arm; kom tog gou na my toe, o God. U is my hulp en my redder, Here, moet tog nie talm nie!

‘n Vlêrmuis is baie interessante dier.  Mense hou nie juis van hulle nie a.g.v.allerhande wolhaarstories soos dat hulle jou hare sal afskeer of jou bloed suig, maar hul is eintlik skadeloos.  Om die waarheid te sê die moontlikheid dat ‘n vlêrmuis in jou hare sal beland is baie skraal omdat hul ‘n ingeboude sonar het wat sorg dat hulle nie in iets vasvlieg nie.  As jy so gelukkig is om een te sien, sal jy verstom staan oor die spoed waarmee hul moeiteloos deur die lug swiep.

In Suid-Afrika is daar 7 verskillende spesies wat vrugte eet en 65 spesies wat insekte eet.   Meeste vlêrmuise woon in grotte, maar dit kan ook wees dat hul hulself in jou dak tuismaak, wat dan ‘n probleem is, maar jy mag hul nie vergiftig nie aangesien hulle beskermd is.  Kry liewer iemand om hul te verwyder.  En hulle is regtig oulik… die gesiggie lyk nes ‘n klein hondjie.

Sit nou hierdie selfde vlêrmuis op die grond neer en hy is hulpeloos.  Hy sal rondspartel totdat hy hopelik iewers afval of dood neerslaan van uitputting.  ‘n Vlêrmuis het hoogte nodig om te kan ‘opstyg’. 


Wanneer ek of jy in ‘n situasie beland waar ons buite ons gemaksone is, is ons ook hulpeloos.  En soms spartel ons soveel dat ons ook nie verder kan nie.  Ons hoef egter nie hulpeloos te spartel met die hoop dat ons iewers weer op ons voete sal beland nie.  God is daar om ons deur elke moeilike situasie te help.  Of jy nou hulpeloos, fisies of geestelik arm is, God kan jou te hulp snel.  Roep uit na Hom.  Die teks eindig op so ‘n bemoedigende noot… hy sal nie talm nie!

Tuesday, 4 August 2015

Boksies

Job 6:13 Self is ek tot niks in staat nie.

Sheri Brynard (32) het ‘n indrukwekkende CV.  Sy is die Internasionale Ambassadeur vir mense wat aan Down Sindroom (DS), ook bekend as Trisomie, ly.  Haar storie is een van waagmoed en deursettingsvermoë… van iemand wat weier om teruggehou te word as gevolg van ‘n ekstra geen waarmee sy gebore is.   Buiten ‘n rits toekennings, waaronder ook internasionale toekennings, is sy die eerste gestremde persoon wat ‘n Presidensiële toekenning ontvang het vir haar bydrae tot gestremdes se lewe. 

Sy glo onwrikbaar dat elke persoon die keuse het om die beste van hul omstandighede te maak.  In 2012 word sy uit 1400 kandidate as Shoprite Checkers se “Vrou van die Jaar” gekies in die kategorie “Young Movers”.  Sy het al byna 400 motiveringspraatjies gelewer , regoor die wêreld.  Tans is sy ‘n assistent onderwyseres.  Ja, jy’t reg gelees.  Sy is die eerste persoon, ter wêreld, met Down Sindroom wat ‘n diploma in onderwys verwerf. 

As motivering spreker, sê sy ook:  “Moet nooit opgee op jou drome nie.”  Sy wou altyd onderwys gee en meeste mense sou seker vir haar gelag het.  Sy het almal verkeerd bewys.  Sy vertel hoe sy soms vakke gedruip het, maar dat sy eenvoudig aanhou probeer het totdat sy geslaag het. 

Jy staan verstom oor die volwassenheid en intelligensie van hierdie pragtige jong dame. 

Dit is so maklik om iemand te katagoriseer volgens ons verwysingsraamwerk.  Ons plaas mense in boksies.  So byvoorbeeld is daar ‘n persepsie dat iemand met Down Sindroom as’t ware verstandelik te kort skiet en nooit in staat sal wees om selfversorgend te wees nie.

God plaas jou en my nie in ‘n sekere katagorie nie.  Die geheim lê daarin dat ons besef dat ons self tot niks in staat is nie, maar toegang het tot Die Een wat tot alles in staat is. 

Ek hoop dat Sheri Brynard se verhaal jou sal motiveer om nooit jou drome te laat vaar nie.  Hou aan droom, maar moet dit nooit in eie krag doen nie.

Monday, 3 August 2015

Ek en God en die eksamen

Job 42:2  “Nou weet ek dat U tot alles in staat is
Vir matrieks lê die belangrike rekord eksamen om die draai.  Te midde van matriekafskeidsfunksies en ander bedrywighede, moet hul nou behoorlik fokus.  Nou is nie die tyd om jou oog van die bal af te haal nie.
Ja ons weet matriek beteken nie veel nie, maar daarsonder lyk jou toekoms selfs minder rooskleurig. Die rekordeksamen berei jou voor op die eindeksamen.  Gebruik elke moontlik tydjie om te leer.  Doen hersiening.  Identifiseer die dinge wat jou aandag kan aflei en neem jouself voor om van nou totdat jy jou laaste vak skryf ekstra hard te werk.  Die punte wat jy behaal gaan op jou matrieksertifikaat verskyn en vir die res van jou lewe sal daardie sertifikaat voorgelê word waar jy ookal aansoek doen vir werk.  Jy wil jou nie skaam vir daardie punte nie.
Pligsgetrouheid is dus die geheim.  Niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie.  En as jy getrou is in die klein dingetjies, weet jy dat God jou ook met groter dinge kan vertrou.

Jou verhouding met God en jou vaste vertroue op Hom, is die goue draad wat jou lewensprentjie vervolmaak.  

Sunday, 2 August 2015

Gesondheid

Spreuke 14:30 'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond

Chandra Wisnu, staan bekend as die “Bubble Skin Man”.    Totdat ek hierdie verskynsel onlangs op TV gesien het, het ek nog nooit daarvan gehoor nie.  Tog is hy nie die enigste lyer nie.  Dit is oorerflik en staan bekend as Neurofibromatosis.  ‘n Sekere geen funksioneer nie en dan veroorsaak dit hierdie kankerlose borrels wat oral op die vel verskyn. 

Niemand word gebore met die borrels nie.  Op ‘n dag sal die borrels net begin vorm en daarna oral uitslaan.  Hulle wissel in grootte, maar sit byna opmekaar.  Soms lyk dit soos golfballe wat onder die vel is.  Die hele liggaam word geaffekteer. 

Om jouself so te sien verander, moet skrikwekkend wees.  As jy in ‘n arm land woon, het jy heel waarskynlik nie toegang tot dokters nie en weet jy nie eens wat jou makeer nie.  Jy lyk en voel seker melaats.  Mense vermy iemand wat hierdie siekte onderlede het, want hulle is bang dit is aansteeklik.  Hulle word gespot en geterg.  Een vrou is selfs tot so ‘n mate deur haar familie verstoot dat sy moet bedel om te oorleef.

In die program wat ek gekyk het, het ‘n joernalis die man afgeneem en toe die media daarvan kennis neem, het ‘n weldoener aangebied om hom vir sy eerste vakansie te borg.  Hy wou graag Singapoer toe gaan.  Daar het hulle hom na ‘n oogspesialis geneem, want die borrels het sy oog begin toegroei – dit vorm selfs op die retina.  Na ‘n operasie, kon hy weer sien.

Jy sou dink so iemand rede sou hê om depressief te wees, maar toe hulle ‘n onderhoud met hierdie man voer na die operasie, het hy gesê sy lewe is gevul met vreugde, want nou kan hy weer sien.

Dit het my laat skaam kry omdat ek besef dat dit waaroor ek kla, nie eens amper vergelyk kan word met dit waardeur hierdie man sy hele lewe gaan nie. 


Om gesond te wees, is ‘n absolute seën.  Daar is soveel wat met verskriklike siektes worstel.  Onthou om elke dag vir God te dank vir jou gesondheid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...