Thursday, 18 February 2016

Laat gaan!

1 Korintiërs 6 : 6 - 7  Maar nee, as Christene daag julle mekaar voor die hof en dit voor ongelowige regters!  Bloot die feit dat julle hofsake onder mekaar het, is al klaar vir julle ‘n neerlaag.  Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit daarby laat nie?

Dit is vir my al asof ons deesdae net soos die Amerikaners word.  As iemand jou net skeef kyk, daag jy hom voor die hof. 

Jy weet hoeveel korrupsie in ons land plaasvind.  Dit lei tot vele hofsake. Diegene wat tenagekom is (van wie daar gesteel is), moet die skuldige partye voor die hof daag om te bewys wat hul reeds weet. Die prokureurs, advokate en regters lag al die pad bank toe.

Regters, wie heel moontlik nie Christene is nie, besluit tussen reg en verkeerd.  Die prokureur met die beste redenasies en skerpste brein kan jou heelwaarskynlik los kry, al is jy skuldig.   En as ons nie ons sin by die eerste hof kry nie, gaan ons na die hooggeregshof of die konstitusionele hof, maar ‘n punt bewys sal ons.


Die Bybel het ‘n ander siening oor die saak.  Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit laat gaan nie!  Antwoord jy hierop:  “Oor my dooie liggaam!” of laat jy gaan?  Daar is uiteindelik net een Regter en Hy sal op die oordeelsdag reg laat geskied.

Wednesday, 17 February 2016

Dit kan tog nie

1 Korintiërs 6 :15 Sal ‘n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ‘n prostituut verenig?  Dit kan tog nie!  Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ‘n prostituut bind, liggaamlik met haar een word nie?

Hoevel keer hoor jy nie dat iemand ‘n verhouding regverdig deur te sê: “die persoon het niks vir my beteken… dit was net seks.” 

Dit is die storie wat die eggenoot dikwels moet aanhoor.  Die persoon met wie die ontugtige sy/haar lewensmaat mee verkul, word weer oortuig dat die eggenoot hul nie verstaan of dat die huwelik in elk geval net op papier bestaan.  Dikwels bou die persoon met wie hul ‘n buite-egtelike verhouding het hul toekomsdrome op hierdie beloftes.  Eendag gaan hy/sy die eggenoot verlaat en dan gaan daar ‘n wonderlike nuwe verhouding ontstaan.

Realiteit is dat vele ontugtiges hul brood aan albei kante gebotter wil hê. Hul wil nie hul eggenoot verlaat nie, maar hul wil ook nie hul minaar/minares opgee nie.

So word die lewe ‘n leuen met geen wenners, net ‘n slagveld van vernietiging.  Wanneer jy seks met iemand het, word jou liggaam een met daardie persoon.  Dit is nie net ‘n biologiese feit nie, maar die Bybel berrig ook so. 

Of dit nou ‘n prostituut, ‘n one-night-stand of ‘n buite-egtelike verhouding is, dit is verkeerd omdat jy jou liggaam wat aan Godbehoort, verontheilig.  Dit kan tog nie!


As jy jouself vandag in so ‘n situasie bevind, breek met die sonde.  God sal jou vergeef en jou huwelik weer nuut maak.

Tuesday, 16 February 2016

Trek aan

Kolossense 3 : 12 Julle is die mense wat God uitverkies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek:  deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

Soms werk verhoudings nie uit soos wat ons gehoop het dit sal uitwerk nie.  Die ander persoon tree nie op soos wat ons wil hê hy/sy moet optree nie of hulle is eenvoudig nie soos wat ons gedink het hul is nie.   Die fout lê gewoonlik by die ander party, nooit by onsself nie.  Dus verwag ons dat hy/sy verander sodat dinge beter kan gaan. 

Dit werk ongelukkig nie so nie.  Of die ander persoon nou jou moeilike baas is, jou wederhelf, jou opstandige tiener, jou ouers… Verandering begin by jou. Jy moet verander!  Doen jou deel en God sal die res doen. 

Ja, ek weet dit klink nie regverdig nie, want jy glo steeds die fout lê nie by jou nie.  Laat egter toe dat God jou verander, want Hy gaan nie die ander persoon verander nie. Trek die regte ‘klere’ aan.


Staan soggens op met die gedagte:  “God, ek weet vandag gaan nie maklik wees nie.  Vorm my en maak my die persoon wat U weet ek kan wees.  Ek kan alles hanteer, want U is met my.”  Neem ‘n wilsbesluit om die res van die dag in hierdie staat van kalmte te bly.  Kies God se manier eerder as jou eie, want heel moontlik het jou eie planne tot nou toe nie gewerk nie.

Monday, 15 February 2016

Seën

Psalm 68 : 19      U het krygsgevangenes weggevoer, mense het vir U geskenke gebring, selfs dié wat teen U in opstand was. Toe het U opgegaan na die hoogte om daar te woon, Here God!

Wanneer jy jou lewe leef tot eer van God, Sy Woord gehoorsaam, en ‘n lewe van integriteit en uitnemendheid leef, sal jy vind dat seëninge jou as’tware inhaal.  Jy sal nie kan wegkom van God se hand van oorvloed nie.  Hy sal jou so bederf dat jy later sal begin skaam voel.  Moenie, dit is Sy manier van dankie sê vir jou getrouheid.

Mense is knaend op soek na geluk.  Hulle sal geluk soek in verhoudings, geld, besittings…  Hulle soek op die verkeerde plek.  God is geluk.  Sodra jy God gevind het, het jy geluk ook gevind.  Die skrif sê dit ook.  As God die middelpunt van jou lewe is, val alle ander dinge in plek.

Begin om alles wat jou aandag van God aflei eenkant toe te stoot.  God sal hierdie dinge aan jou openbaar. Dit kan dalk moeilik wees, maar moenie aan versoeking toegee nie.  Jy kan nie vashou aan hierdie goed nie, want dan is daar nie plek vir God in jou lewe nie.  Daar moet niks in jou lewe wees wat belangriker is as God nie.


Sodra jy hierdie minimalistiese leefstyl bereik het, sal jy God se hande sien oopgaan.

Sunday, 14 February 2016

Twee is beter as een



Prediker 4 : 9 - 10  Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer.  As een mens val, kan sy vriend hom ophelp.  Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.

Valentynsdag is wonderlik as jy iemand in jou lewe het… iemand wat jy kan bederf en wie jou ook kan bederf.  Die media en winkels het Valentynsdag verhef tot so ‘n mate dat jy skuldig voel as jy nie iets spesiaal vir jou geliefde sou doen nie.  

Met al die fokus op Valentynsdag en die publisiteit wat dit kry, kan diegene wat nie in ‘n verhouding is nie, voel dat hul uitmis op iets baie spesiaal.  Ons kan egter elke dag Valentysdag geniet deur liefde te betoon waar ons ookal gaan.

Dit gaan oor veel meer as rooi rose en sjokolade.  Dit gaan oor iemand wat jou mede-reisiger is op jou lewenspad.  Dit is daardie persoon wat jou sien op jou slegste tye en jou steeds onvoorwaardelik liefhet.  

Soos die man wat ‘n boek geskryf het wat sy vrou altyd wou skryf terwyl sy nog geleef het.  Ongelukkig het ‘n terminale siekte haar droom gekelder, maar hy het haar droom deurgevoer.  Dit is vir my die ultimate liefdesdaad.  Toe sy struikel, het hy namens hul albei die wedloop enduit voltooi.

Ouers wat gestremde kinders versorg… ‘n vriend of vriendin wat daar is as jou lewe ontspoor… iemand wat daar is as jy ‘n geliefde aan die dood afstaan… iemand wat ‘n hand uitreik na diegene wat ander vermy of verstoot… hulle is die ware Valentyne!

Of ons dit nou wil erken of nie… ons het almal een of ander tyd iemand nodig wat ons kan ophelp as ons struikel.

Thursday, 11 February 2016

Vrees

Eksodus 15:16  Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek

Vrees is die vyand se beste wapen.  Elke keer wat ons erken dat ons bang is, glimlag die vyand breed, want dan weet hy dat hy in beheer is. 

Jy droom daarvan om jou eie besigheid te begin.  Elke dag groei die droom.  Jy doen navorsing, maak sekere berekeninge, praat met ander… Iemand maak ‘n opmerking en jy begin twyfel… Ewe skielik lyk die idee ‘n bietjie lendelam en het jy nie meer vertroue daarin nie.  Jy raak bang en sien van jou idee af.  Die vyand het gewen.

Jy wil ‘n meisie vir die matriekafskeid ‘skiet’. Dae lank loop en beplan jy jou benadering.  Die dag breek aan dat jy tot aksie oorgaan, maar jou moed begewe jou, want jy is te bang sy sal nee sê.
Jou nuwejaarsvoorneme is om jou bestuurderslisensie te kry.  Jy maak ‘n afspraak met iemand om jou lesse te gee.  Die eerste les verloop nie goed nie. Jy is te bang om met die lesse voort te gaan, want dit lyk nie asof jy in staat is om te bestuur nie.

Ek is seker daarvan jy kan aan nog voorbeelde dink waar jou moed jou onlangs begeef het.  Keer op keer is dit omdat jy bang is jy misluk, of jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, of selfs dat jy dit nie verdien nie. 

Vrees is ‘n gevoel wat jou emosies aantas.  Dit is waar ons die kwesbaarste is.  Wanneer jy egter kies om op God te vertrou, eerder as op jou eie kragte, sal vrees verdwyn.


Vandag wil ek jou moed inpraat.  Moenie toelaat dat vrees jou verswak of terughou nie.  Neem daardie stap in geloof, want jy is nie alleen nie.  God is vir jou en by jou en Hy sal nie toelaat dat jy misluk nie.

Wednesday, 10 February 2016

Bybelstudie

1 Timoteus 4:13  Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.

Wat ek nou gaan sê, is seker nie bevorderlik vir my blog nie, maar ek wil dit tog sê.  Bybelstudie is nie die lees van hierdie dagstukkie nie.  Dit is ook nie ‘n Bybelvers wat jy op jou selfoon kry nie.  Dit help, maar dit gaan oor veel meer.

Jou Bybel behoort die een boek te wees wat jy vodde lees.  Lees hom van voor na agter en terug en tussen-in.  Glo my, elke keer gaan jy iets anders raaklees.  Soms lees jy ‘n gedeelte wat jy al meer as een keer gelees het, maar vir die eerste keer maak dit sin.

Gelukkig help God ons daarmee, want wanneer jy werklik wedergebore is, sal jy jou Bybel WIL lees.  Jy wil meer weet, verstaan en God beter leer ken.


“The Bible is meant to be bread for daily use, not cake for special occasions…” ~ Unknown

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...