Thursday, 8 September 2016

Woorde

Jesaja 50 : 4  Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Enige iemand wat al iemand anders moes troos, sal weet dat daar tye kom dat jy eenvoudig nie die regte woorde het nie.  Miskien is dit omdat ons altyd voel ons moet iets sê.  En meesal eindig ons op deur vir die persoon van ons eie ervaring gedurende ‘n soortgelyke situasie te vertel.  Wanneer iemand rou en seer is, wil hul nie jou storie hoor nie.  Soms moet jy net daar wees.

Woorde is belangrik, wanneer jou woorde Sy woorde is.  Daar is mense wat God oor jou pad bring juis omdat Hy wil hê dat jy hul deur jou woorde nuwe moed gee.  Ek is geseënd met so ‘n vriendin. Soms sal ek vir haar vertel waar ek gefaal het en dan bring sy my terug na God se woord en sy laat my insien hoe die situasie vir God tot eer kan strek.

Ons kan ook woorde gebruik om ons eggenoot of kinders te verseker van ons liefde.  Soms praat ons aanhoudend, maar ons sê eintlik niks nie.  Praat eerder minder, maar maak seker jou woorde bou, eerder as wat hul merke laat of afbreek.

Wednesday, 7 September 2016

God gebruik enige situasie

Genesis 44 : 1  “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer,

As ouers is dit belangrik dat ons kinders besef en sien dat ons vir elkeen ewe lief is. ‘n Kind kan so maklik glo dat hy of sy minder geliefd is en klein dingetjies opblaas wat hul laat glo dat een kind voorgetrek word.

Josef is gebore toe Jakob al op ‘n hoë ouderdom was.  Hy was baie lief vir hierdie seun en het vir hom mooi klere met lang moue gemaak, lees ons in Genesis 37 : 3.  Dit het egter veroorsaak dat sy broers nie juis mal oor hom was nie.  Hul het ‘n afkeer in hom ontwikkel.

Ons weet dat boeties en sussies soms soos katte en honed kan baklei, maar Josef se broers het dit een stappie verder geneem.  Op ‘n dag het hul besluit om vir goed van hom ontslae te raak deur hom in ‘n put te gooi.  Hulle het seker nooit besef dat hul eintlik maar net deel van ‘n groter plan was nie.  God het beter dinge in gedagte gehad vir Josef.  Josef sou in die koning se paleis opeindig en hy sou die een word wat sou sorg dat hierdie einste broers nie in ‘n land wat deur hongersnood geteister word, omkom nie.

Te midde van jou donkerste tye is God steeds teenwoordig en aktief in jou lewe.  Hy laat jou nooit in die steek nie en Hy kan enige situasie tot jou voordeel gebruik.

Tuesday, 6 September 2016

Wees 'n Daniël

Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Daniël was baie jonk toe hy na ‘n vreemde land weggevoer is.  Daar het hul hom van sy identiteit ontneem deur hom Beltsasar te noem.  Hoe sal jy voel as iemand eenvoudig besluit jy is nie meer wie jy gedoop is nie?  Daniël het hom nie laat afsit nie. Hy het geweet wie hy is en dat niks verander het net omdat iemand hom op ‘n ander naam roep nie.  Dit was nie maklik nie en hy was onder geweldige druk.

Wat egter baie interessant is, is dat Daniël nie gekonformeer het nie.  Hy het getrou gebly aan wie hy was.  Die fondasie wat in sy lewe gelê is, was so stewig dat Hy nooit geswig het onder enige druk nie. 

Hoe stewig is jou fondasie?  Vind jy dat jy maklik onder groepsdruk swig en meedoen aan dinge wat nie strook met jou opvoeding nie?  Jy vind dalk dat jy sodanig verander het dat jy nie meer weet wie jy eintlik is nie. 

Vind jou krag in God.  Jy kan versoeking weerstaan. Jy kan nee sê.  Jy kan al hierdie dinge doen en steeds deel wees van ‘n groep, want mense gaan jou begin respekteer vir die waardes waarvoor jy staan eerder as dit waarvoor jy val.

Monday, 5 September 2016

Sonsverduistering

Prediker 12:2  voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,

Volgens Wikipedia vind sonsverduistering plaas wanneer die maan voor die son inbeweeg en die maan die skyf van die son ten volle, of gedeeltelik bedek.  Die verduistering of eklips kan gedeeltelik of volkome wees.  Ons het onlangs weer so ‘n gedeeltelike sonsverduistering aanskou.

Wanneer jy dit terugbring na ons geloof, kan jy dit sien as iets wat tussen jou en God inbeweeg en veroorsaak dat jy nie meer daardie nabyheid met God beleef nie.  Daar is verskeie dinge wat tussen ons en God kan inbeweeg… ons werk, vriende, sonde, verslawing… ‘n honderd en een goed.  Wanneer dit gebeur voel dit asof ons verbinding met God verbreek is of soos ‘n slegte lyn.  Daar is net ‘n blokkasie.  Die son is nie weg tydens sonsverduistering nie.  Net so is God ook nie weg nie.  Ons kan Hom net nie sien, of dan so goed sien nie.

Ek hoop en vertrou dat dit net tydelik is soos enige verduistering en nie permanent nie… dat jy God weer ten volle sal sien en ervaar.  ’n Sonsverduistering kan nie gekeer word nie.  Dit wat tussen jou en God staan, kan wel gekeer word.  Vind uit wat dit is en raak daarvan ontslae.

Sunday, 4 September 2016

Gooi af

Hebreërs 12 : 1  Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Dit verbaas my altyd as mense sê dat hul alles presies dieselfde sal doen as hul, hul lewe moes oor leef.  Daar is tye in my lewe wat ek nooit, ooit weer wil beleef nie.   Ek wil beslis nie weer 8 herstrukturerings- of personeelverminderings herleef nie. Ek wil ook nooit weer die slagveld van ‘n egskeiding deurleef nie.  Ek wil nooit weer die verkeerde besluite wat ek gemaak en die gevolge daarvan herhaal nie.

Al was hierdie dinge hoe aaklik, bly ons terugdink daaraan en in sommige gevalle herleef.  Soms gebruik ons dit as die basis waarop ons, ons toekoms baseer.  Dis nog ‘n fout. Ons behoort dit agter te laat en nie saam te sleep nie.  Indien ons dit nie afskud nie, kan dit ons vreugde en entoesiasme vir die toekoms demp.

Party van ons het ‘n bitterbeksakkie wat ons saamsleep.  Elke keer as iemand ons te na kom of as dinge nie heeltemal uitwerk soos ons gehoop het dit sou, voeg ons dit by ons bitterbeksakkie.  Elke teleurstelling, elke fout word noukeurig in die sakkie geplaas.  Elke nou en dan gaan sit ons op die ashoop van die lewe en pak ons bitterbeksakkie uit en herleef elkeen van hulle. 

Die lewe is so kort.  Mors jy nie te veel tyd met jou bitterbeksakkie nie? Dink jy nie dit is tyd om daardie sakkie agter te laat en voort te beweeg nie? Môreoggend as jy opstaan, begin die dag met vergifnis.  Vergewe almal wat jou al te nagekom het… of hul daarvan weet of nie.  Vergeet die teleurstellings en terugslae van die verlede.  Noudat alles afgegooi is wat jou kan terughou, kan jy aanbeweeg.

Saturday, 3 September 2016

Vergifnis

Psalm 32 : 1  Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

Hoe geseënd is ons nie om vergifnis van God te ontvang nie.  As jy kyk hoe ons leef, wat ons sê, wat ons doen, wat ons ander aandoen, raak dit al meer van ‘n wonderwerk. 

Dink maar net hoe moeilik dit is om iemand te vergeef wat jou te na gekom het.  Soms vra ek myself af: As ek God was, sou ek my vergeef het?  Die antwoord is nie altyd ja nie en tog vergeef God ons keer op keer.

Is daar iemand in jou lewe wat jy moet vergewe?  Wat hou jou terug?  Die feit dat jy vashou aan die seer hou die ander persoon geensins terug nie.  Dit maak hom of haar ook nie sleg voel nie.  Die enigste persoon wat hier benadeel word, is jy.  Die ander vraag is of jy dink dit wat iemand jou aangedoen het, is erger as wat Jesus moes verduur op aarde?  Tog het Hy ter wille van ons sondes gesterf en sodoende is ons absoluut vry.

Daardie daad het Jesus vrygelaat. Niemand op aarde hou Jesus gevange met haat of onvergifnis nie.  Jy kan dieselfde Vryheid geniet.

Thursday, 1 September 2016

Gee oor

1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

God gee soveel om vir jou.  Nie net gee Hy vir jou om nie, maar hy gee ook om hoe jy voel en oor dit wat vir jou belangrik is.  As jy enige sorge, bekommernis of angstigheid binne jou voel, maak nie saak hoe groot of klein, gee dit vir hom.  Jou finansies, jou verhoudings, jou werk… weet net dat God reeds weet wat jy nodig het en dat Hy graag hierdie dinge in jou lewe wil oorneem en makliker maak vir jou.

Soms maak ons onsself so moeg omtrent hierdie dinge.  Ons het slapelose nagte oor ons finansies… waar gaan die geld vandaan kom?  Jy weet hoeveel jy verdien en jy weet wat jou uitgawes is en nou nog hierdie ekstra uitgawes… jy weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Jou verhouding wat so goed begin het, het ewe skielik stormwaters bereik. Julle stem oor niks saam nie en baklei oor die simpelste goed. Alles omtrent die ander persoon irriteer jou.

By die werk voel jy of jy niks kan reg doen nie.  Voorheen was jy ‘n presteerder, maar deesdae bereik jy nie meer jou teikens nie.  Dit voel of jy jou slag verloor het.  Jy is jaloers op die persone wat nou suksesvol is.

In Matteus en Lukas word ons herinner hoe God vir die lelies van die veld, die gras en die wilde voëls sorg.  Hoeveel te meer sal Hy nie vir jou en my sorg nie? 

Werp vandag al jou bekommernisse op Hom.  Kies om Hom te vertrou en toe te laat om jou te versorg.  Weier eenvoudig om oor probleme te tob en toe te laat dat dit jou vreugde steel.  Fokus op jou Bybelstudie en gebed.  God SAL sorg.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...