Wednesday, 14 June 2017

God kan!

Efesiërs 3 : 20     Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

Het jy al ‘n teks gelees, wat jy weet jy al vantevore gelees het, maar op daardie oomblik is dit net asof die 3D prentjie uiteindelik sigbaar word?

Dit is hoe ek oor hierdie teks voel.  Ons weet God kan enige iets doen, maar wanneer jy besef dat jy as mens nie eens naastenby in staat is om te verwoord of te dink waartoe God in staat is nie, staan jy verstom.  Met ander woorde God se vermoëns is ver bo my begrip of wildste drome.

Bevind jy jouself op die oomblik op ‘n plek waar die situasie hopeloos lyk?  Dalk is jy een van die mense wat alles in die vlammehel in Knysna en omgewing verloor het… Vra vir God om vir jou deur te kom.  Erken dat jy nie weet hoe nie, maar dat jy weet Hy kan en dat jy glo Hy is jou enigste hoop. 

Hy sal jou nie teleurstel nie.

Tuesday, 13 June 2017

Voor die regterstoel

2 Korintiërs 5 : 10  Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

‘n Pastoor vra eendag in die kerk:  “Wie van julle wil hemel toe gaan?”  Natuurlik was daar baie hande.  Sy volgende vraag is:  “Wie wil nou gaan?”  Dalk is dit vandag vir jou ook stof tot nadenke.

Baie mense weet en glo in die basiese beginsels van die Bybel.  Hulle weet daar is ‘n God… dat sy Seun, Jesus, aan ‘n kruis gesterf het, na drie dae opgestaan het en opgevaar het na die hemel van waar hy eendag sal terugkeer om te oordeel.  Hul weet dus presies wat gaan gebeur en ook wat hul moet doen om te verseker dat die oordeelsdag nie hul grootste nagmerrie word nie, maar hul stel uit.

Dit is ‘n absolute feit… ons gaan voor daardie regterstoel verskyn en daar sal vrae gevra word en miskien sal ons selfs tyd kry om te verduidelik, maar as jy nie op daardie punt reeds gered is nie, gaan jy niks meer kan doen om jou lot te verander nie. 

Daar is twee opsies… hemel of hel, niks tussenin nie.  

Wil jy nie asseblief sekermaak, vandag nog, dat jou saak met God reg is nie?

Monday, 12 June 2017

Lukas 23

My ouma het altyd gepraat van ‘n dag is ‘om en dom’.  Dit beteken dis nie ‘n baie lekker dag nie... min of meer alles loop verkeerd.  Baie soos hier by ons deesdae, ne.  Ons is dan ‘n Christene… ons bid, lees ons Bybel, gaan kerk toe, praat met almal oor Jesus…

Sondag het Ds Tertus Bezuidenhout ‘n treffende boodskap gebring wat my uiteindelik die lig laat sien het.

Weerskante van Jesus aan die kruis hang daar twee mans ook aan ‘n kruis.  In vers 39 lees ons sê die een:  “Is jy dan nie die Messias nie?  Red jouself en ook vir ons.”  Hierdie man betoon geen respek en dit gaan net oor hom.  Daarteenoor lees ons in vers 40:  “Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  “Het jy ook nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!  (41) Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”  (42) Hy het verder gesê:  “Jesus onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”  Op die laaste nippertjie sien laasgenoemde die lig.  Nie net het hy sy sonde bely nie, maar hy respekteer en erken Jesus as die enigste Een wat hom kan red (sy verlosser).  (43)  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Hier is die aah-ha oomblik.  Ons het Christelike Radiostasies, Christelike boeke, Die Bybel op ons slimfone, ons stuur geestelike WhatsApp boodskappe, smsse en eposse, hou biddae en vra gereeld ander om vir ons te bid, maar ons mis die bus totaal en al.  Jy sien, die twee mans weerskante van Jesus aan die kruis het albei met hom gepraat (gebid)… ek en jy praat ook elke dag met Hom deur middel van gebed, maar het ons die regte gesprek met hom?  Net een man het die regte gesprek met Jesus gehad.  Net een is saam met Hom hemel toe.

Ons kan bid en kerk toe gaan… al die regte dinge sê en doen, maar steeds nie gered wees nie.  Vandag pleit ek by jou om jou gebede en hart te ondersoek.  Watter een van die twee mans weerskante van Jesus is jy?

Eers wanneer ons onsself verootmoedig, sal Hy ons land genees.  

Sunday, 11 June 2017

'n Omgee God

Genesis 6 : 19  Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly.

Ek weier om te glo dat God wat die wêreld met soveel sorg en liefde geskape het, nie vir diere omgee nie.  Hy moes in sy alwetendheid geweet het hoeveel vreugde ‘n troeteldier die mens eendag sou besorg.   

Sonder troeteldiere sou meeste van ons meer medikasie moes gebruik om ons deur die lewe, sy teleurstellings (meesal deur mense veroorsaak) en pyn van elke dag te kry.   

Jare gelede het ek ‘n kliënt by hul huis gaan sien.  Die oomblik toe ek die huis binnestap, let ek die pragtige kat op en noem dit vir die kliënt, waarop sy antwoord:  “If you want her, you can have her.” Omdat ek allergies vir katte is, was die antwoord, nee dankie.  ‘n Paar dae later het haar man my egter geskakel en gesê dat hul beplan om die kat die volgende dag te laat uitsit.  As ek haar wou hê, moes ek haar dadelik kom haal. 
Dit was nie ‘n moeilike besluit nie.  Ek het haar gaan haal en vir die volgende min of meer 16 jaar, is ons lewe verryk deur ‘n pragtige kat.  Verlede jaar het sy skielik blind geword en daarvandaan het sy net al maerder geword, al het sy meer gereeld geëet.  Eergister het sy ongelukkig ‘n beroerte gehad.  Kort daarna het sy opgebring.  Omdat sy graag in die sonnetjie gelê het, het ons haar uitgeneem.  Toe sy opstaan het sy egter in sirkels geloop en later die aand het sy weer ‘n beroerte gehad.  Daarna het sy nie meer gereageer nie.  Nadat sy 24 uur glad nie geëet of water gedrink het nie het ons haar veearts toe geneem.  Die diagnose was hartverskeurend… sy’t breinskade opgedoen en sou nooit weer herstel nie.  Hulle kon haar op ‘n drip hou, maar haar organe is reeds besig om in te gee, vandaar die beroerte.  Ek was by haar tot die einde… een van die moeilikste besluite ooit!

Al troos wat ons het is dat sy ‘n lang en gelukkige lewe gehad het.  Sy het ons soveel vreugde gebring, maar nou het haar rustyd aangebreek.

Dankie Hemelse Vader vir Fluffy.

Thursday, 8 June 2017

Troeteldiere

Job 39 : 1  “Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om te eet

Ons het 3 honde en ‘n kat, budgies en vissies.  Elke oggend en aand kry hulle kos.  Ek weet presies waarvan elkeen hou en maak seker dat hul bordjies so gevul word.  Snags maak ons seker dat elkeen ‘n veilige, droeë en warm slaapplekkie het.  Indien ons by uitsondering sou weggaan vir ‘n naweek, kry ons ‘n ‘petsitter’ om hul te versorg sodat hul nie ontwrig word deur byvoorbeeld in ‘n kennel te gaan bly nie. 

Dit klink seker na ‘n dierehemel, maar ek glo dat jy ‘n verantwoordelike diere eienaar moet wees.  As jy ‘n troeteldier wil hê, moet jy na hom of haar omsien, selfs al is hul nie meer die oulike babahondjie of katjie wat jou aanvanklik genoop het om hom/haar aan te skaf nie.  Ons een hond is al so oud, sy is op hartmedikasie. Die ander enetjie is blind in haar een ogie en doof.  Ook ons kat is doof en blind sedert sowat 6 maande gelede.  Dit beteken egter nie dat ek hul moet laat uitsit nie.  Hul het nou eers liefde en aandag nodig.  Al die jare het hul my oorlaai met liefde en toewyding, nou is dit my beurt om hul te bederf en 'n gerieflike 'oudag' te verseker.

Mense wat nie na hul troeteldiere omsien nie, moet myns insiens die voorreg ontsê word om een aan te hou.  Hoekom?  God het die mens aangestel oor die dier.  As jy ‘n ‘baas’ wil wees, moet jy ook optree soos ‘n baas.  God is ‘baas’ oor die diere en as jy deur Job lees, kry jy eintlik ‘n les in diereversorging.  As God die mens na Sy beeld geskape het, behoort ons ook Sy voorbeeld te volg op hierdie gebied.

Die maat waarmee ons meet, is ook die maat waarmee ons gemeet sal word.  Wees goed vir jou diere en versorg hul met liefde en toewyding… dit is immers hoe jy versorg word deur God.

Wednesday, 7 June 2017

Dankbaarheid

Psalm 16 : 5 & 6  Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.  'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

Het jy al ooit voorraadopname oor jou lewe gedoen?  Omdat ons so met slegte nuus gebombardeer word, is ons geneig om net die slegte raak te sien of te onthou.  Selfs wanneer ons bid fokus ons op die negatiewe deur vir God ‘n lysie te gee van dit waarmee ons hulp nodig het.

Dalk moet ons fokus op die positiewe.  Sien God se versorging en beskerming raak.  Let op hoeveel daar reeds ontvang is en waardeer dit eerder as om te verlang na nog.  Begin met nuwe oë na jou omgewing kyk.  Wanneer jy besef dat jou werk ‘n gawe van God is, kyk jy met ander oë na jou salaris, voordele en baas.  Wanneer jy opstaan na ‘n goeie nagrus, het jy meer waardering vir jou bed, die dak oor jou kop en ‘n koppie warm koffie of tee.  Moenie opsien na die sleurtakies soos toebroodjies inpak en skoonmaak nie, waardeer dat jy iemand het om dit voor te doen.  As jy gesond en mobiel is, dink aan hulle in hospitale en in rolstoele.  Indien jy winkel toe kan gaan om voorraad aan te vul, moenie oor die pryse kla nie, wees bly dat jy dit wel nog kan bekostig.  Daar is soveel wat geen inkomste het nie. 

‘n Dankbare hart lig jou sommer vinnig uit die diepste put.

Tuesday, 6 June 2017

Hoekom en waarom?

Job 39 : 3  Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?

‘n Kollega van my was verlede week vir toetse en het gister die uitslae ontvang… basale kanker.  Sy en haar gesin gaan reeds deur so ‘n moeilike tyd, en nou nog dit ook.  ‘n Ander kollega se seuntjie is Saterdagnag oorlede… wiegiedood. Hoe vertroos jy so ‘n ouer?

Dis heel normaal om dan ‘hoekom en waarom’ vrae te begin vra. 

Elkeen van ons het ons eie reis en die paaie is nie altyd in ‘n goeie toestand nie.  So graag as wat ons elkeen die skouspelagtige roete wil ry, (dalk daar rondom Chapmanspeak of Bettiesbaai) neem die reis ons ook op minder bekende agterpaaie… dalk omdat ons ‘n verkeerde afrit geneem het.  Soms beland ons op paaie vol slaggate.  Ander kere is dit uitdagende bergpasse wat ons moet navigeer. Soms is dit soos spitsverkeer… behalwe dat frustrasie opbou, wil niks gebeur nie.

Alhoewel ons van tyd tot tyd mede-reisigers gaan teekom, is dit meesal ‘n solorit.  Wanneer ons dan met God gesels of redeneer, moet ons dalk onthou dat God veel meer ervaring as ek en jy het.  Hy is uiters bekwaam en in staat om in ons situasie in te gryp.  Terwyl ons rebelleer en protesteer, vergeet ons waarmee Hy elke dag besig is.  Lees maar Job… jy staan verstom.  Dit wat ek en jy nie eens elke dag oplet nie, doen God sommer so tussen al die gebedsversoeke, klagtes en treurmares deur. 

As hy seker maak dat ‘n kraai se kleintjies versorg is, hoekom sal Hy nie ook daar wees vir dit waardeur ons gaan nie.  Ons mag dit dalk nie verstaan nie en dit mag dalk onregverdig voorkom, maar dit beteken nie dat God nie in beheer is en nie ook hiermee ‘n doel het nie.

Laat ons God toelaat om dit te doen waarmee Hy die beste is… lief wees vir elkeen van ons… met elke tree wat ons gee, elke paadjie wat ons ry, elke slaggat wat ons tref.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...